Moonyeenn Lee is die enigste Suid-Afrikaner wat saam met 683 ander mense in die internasionale rolprentbedryf genooi is om deel te wees van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences.
Ons het in 2012 met Moonyeenn gesels oor haar rol as beskermengel van die sterre. Hiermee die artikel soos verskyn in die Oktober 2012-uitgawe van rooi rose:
By Moonyeenn Lee & Associates se kantoor in Rosebank, Johannesburg, staan ’n groter as lewensgroot Oscar-beeld. Die ontvangsvertrek is beplak met koerant- en tydskrifknipsels van akteurs en aktrises met skitterwit glimlagte wat dit in hierdie onvoorspelbare bedryf “gemaak” het – danksy die spreekwoordelike deur wat Moonyeenn vir hulle geopen het. Ek verwag ’n ystervrou. Moonyeenn se reputasie as formidabele onderhandelaar en vegter vir die plaaslike rolprentwese loop haar vooruit. Haar invloed strek verder as die plaaslike bedryf – sy is ewe tuis in die internasionale rolprentwêreld en werk met groot name soos Clint Eastwood, Goldie Hawn en wyle Anthony Minghella (regisseur van onder meer The English Patient en Cold Mountain).
Sowat 300 plaaslike kunstenaars beskou Moonyeenn as hul beskermengel. Dit sluit bekroonde akteurs soos Tobie Cronjé, Ian Roberts, John Kani, Marius Weyers en Andrew Buckland in.
Uiteindelik kraak haar kantoordeur oop. Sy loer vir my oor haar rooiraambril. Ek verbeel my ’n glimlag speel vinnig oor haar oranjerooi lippe. Sy nooi my in.
En wat ’n kleurryke verrassing is die kantoor nie! Ek maak my op ’n prettige rooi leerbank tuis. “Dis ’n lekker fun bank, nè?” sê sy in haar skik. Die buitemuur is vol helder geel sonneblomme geverf. “Die kantoor kry nie te veel son nie, so ons moes maar ’n plan maak,” sê sy.
Ek wil weet oor haar naam. “Dit was my ma se idee,” sê sy droogweg. In 1932 is die fliek Smilin’ Through uitgereik. “Ek is na die hoofkarakter, Moonyeenn (met een “n” aan die einde) vernoem. Om dinge te kompliseer voeg my ma toe nog ’n “n” aan die einde by. Min mense spel dit reg. Maar wat snaaks is, is dat die openingstoneel op ’n grafsteen fokus, natuurlik met Moonyeenn se naam (en myne!) daarop. Grillerig, nè? My arme kinders was nog klein toe ons die fliek die eerste keer gesien het en hulle was so ontsteld daaroor, ek moes net trane afvee.”
Haar seun, David, is ’n akteur in Los Angeles en haar dogter, Cindy, is ’n plaaslike advertensie-regisseur.
In 1974 is Moonyeenn Londen toe waar sy by die agentskap Fraser & Dunlop London opgelei is as agent wat skrywers, akteurs en regisseurs in die bedryf kan verteenwoordig. Saans het sy dramaklasse by die Stanislavsky-skool in Londen geloop, eintlik net om meer oor die kunste te wete te kom. Hoewel haar ma, die aktrise Shirley Hepburn (nee, nie die famous Hepburns nie, help sy my reg), wou hê haar dogter moet drama as loopbaan volg, het Moonyeenn altyd geweet dis nie vir haar nie.
“Ek was ’n vrot aktrise, vrot! Ek het eerder in regie, of fotografie en beligting belang gestel.”
Sy onthou toe sy as 21-jarige gevra is om saam met wyle Jimmy White ’n padveiligheidsprent te maak.
“Ek het pas teruggekom van Londen af. Ons was nog besig om te verfilm, toe ek skielik vir die regisseur sê hy moet die kamera op ’n ander plek sit. Die hoek waaruit hy skiet, gaan nie werk vir wat hy wil doen nie. Ek het ’n paar vuil kyke gekry!”
Sy het as vierjarige haar eerste tree op die verhoog gegee: “Ek kan glad nie onthou wat die stuk se naam was nie! Ek was te klein. Ek het uit ’n hoededoos vir Taubie Kushlick gespring en gesê, ‘And here’s one for you too, Mommy’. Ek moes dit vir my eie ma sê, wat ook in die toneel gespeel het.”
Moonyeenn is in Johannesburg gebore en het op sewe na Engeland verhuis.
“My pa was hier en my ma daar. Ons het so heen en weer gereis,” vertel sy. “Ek het tussen mense in die uitvoerende kunstebedryf grootgeword. Die meeste van my ma se vriende was akteurs, skrywers of regisseurs. Ek onthou hoe ek hoeveel keer ná skool teater toe is om te gaan kyk hoe my ma repeteer, meestal vir pantomime. Dit het ’n groot indruk op my gemaak. Ek was verlief op die teater en alles wat daarmee saamgegaan het.”
Sy het in 1973 haar eie agentskap, Moonyeenn Lee & Associates begin en is nou al dekades lank agent vir akteurs, regisseurs en skrywers. Dié vrou met die weerbarstige bos rooi krulhare was ook in 2011 in Los Angeles ’n beoordelaar in die kategorie Beste Akteur by die jaarlikse, internasionale Emmy-pryse vir uitmuntende TV-werk.
“Toe ek die uitnodiging kry, het ek eers gedink dis ’n grap, dat iemand my ’n poets bak. My seun, ’n akteur in Los Angeles, het my in die middel van die nag wakker gebel en verseker die mense is ernstig en dis alles waar. Wat ’n eer! Ek was in die wolke.”
Moonyeenn is al gekritiseer oor haar keuse van die Brit Idris Elba om die rol van Madiba te vertolk in ’n prent wat oudpres. Mandela se lewensverhaal vertel, gegrond op sy biografie Long Walk to Freedom. Die rolprent is nog in die voorproduksiestadium (*ten tyde van publikasie). Mense in die plaaslike rolprentbedryf het gevoel ’n Suid-Afrikaner moet dié rol vertolk.
“Die poel plaaslike akteurs is te klein om van te kies, en hulle voldoen boonop nie aan die lengte nie,” was haar kommentaar. (Mandela is ’n allemintige 1,93 meter. Elba, bekend vir sy rol in die misdaadreeks, The Wire, is darem 1,88 meter lank.) Ander prente waarvoor sy die rolverdeling gedoen het, sluit in die Oscar-genomineerde Life Above All, The Bang Bang Club, Blood Diamond (met Leonardo DiCaprio in die hoofrol), die Oscar-bekroonde Tsotsi en Hotel Rwanda.
Op 68 is baie ander mense al afgetree. Maar nie Moonyeenn nie.
“Nee. Wat sal ek tog doen? Ek is so lief vir wat ek doen – dis my lewe en my passie. Soms wens ek dat ek in twee of drie gesny was. Daar is nog soveel dinge wat ek moet doen!”
Min mense kan sê dat hulle opgewonde is oor hul werk; dat hulle nog nooit verveeld was met wat hulle doen nie.
“As ek moet, sal ek sewe dae per week werk,” sê sy, kyk na haar sonneblommuur, knik haar kop stadig en sê, “maar ek maak seker dat ek een dag per week net vir myself het. Dis ’n dag waarop ek rustig word. Ek vermy ander mense en antwoord nie my telefoon nie. Dan speel ek met my honde, sit in my tuin, lees – ek het maar ’n katolieke smaak in boeke, gee my outobiografieë – ek kyk flieks of speel sudoku. Ek hou van my eie geselskap. Dis nodig om stil te word, anders voel dit of jy in stukkies geskeur word. Almal wil ’n stukkie van jou hê.”
Sy het haar eie produksiemaatskappy, Khulisa Productions, gestig om Suid-Afrikaanse rolverdelings te ontwikkel. Die eerste prent wat sy vervaardig het, was Promised Land, gegrond op Karel Schoeman se roman. Omdat Moonyeenn in Engeland grootgeword en skool gegaan het, het sy nooit leer Afrikaans praat nie. Sy het die boek gelees nadat ’n baie goeie vriend van haar, wyle William Pretorius, dit vir haar vertaal het. Sy het Karel gebel om vir hom te vertel dat sy graag die boek wil verfilm.
“Ek moes maar verduidelik dat ek nie ’n woord Afrikaans kan praat nie, maar nogtans gek is na sy boek en ’n fliek daarvan wil maak! Ons het goeie vriende geword,” vertel sy.
“Die akteurs is destyds peanuts betaal. Regtig. Almal wat aan die fliek gewerk het, het dit gedoen omdat hulle dit graag wóú doen. Dit was baanbrekerswerk en na my mening die fliek wat die Suid-Afrikaanse fliekbedryf aan die gang gekry het.”
Dit is vir Moonyeenn hartseer dat Suid-Afrikaners nie meer tussen ’n uitmuntende, gemiddelde en swak optrede in ’n fliek kan onderskei nie. “TV maak mense gewoond daaraan om tevrede te wees met ‘gemiddelde’ visuele vermaak. Gemiddelde, of sommer swak reekse en sepies word verorber, want daar is niks anders om na te kyk nie.”
Wat is ’n “goeie” fliek dan?
“’n Goeie fliek moet regtig ’n goeie storie hê. As jy ’n ware goeie fliek kyk (bedoelende een met ’n uitstekende storie) en die akteurs is nie so waffers nie, sal jy steeds gaan kyk. Maar as die akteurs goed is maar die storie is swak, val die hele ding uitmekaar. Daar’s niks wat jou bind om te kyk nie. Niks wat jy wil onthou, of saam met jou kan neem wanneer die fliek klaar is nie.”
Sy voeg by. “Eintlik moet jy voel jy is ’n vlieg teen die muur wanneer jy fliek. Saam met ’n goeie storie en draaiboek, moet die spel so goed wees dat jy nie kan agterkom die akteurs act nie. Dit moet voel of jy net na gewone mense kyk met wie daar dramatiese goed gebeur.”
Natuurlik is nie almal wat by Moonyeenn aanklop, gebore akteurs of aktrises nie. Sy moes noodwendig al ’n hele paar wannabees wegwys.
“Dit bly moeilik om vir iemand te sê hy sal dit nie as akteur maak nie. Maar ek sê altyd vir so iemand dis slegs my mening. As ek iemand onder my vlerk neem, is dit ’n enorme verantwoordelikheid, veral omdat daar regtig nie baie werk in hierdie bedryf is nie. En dis skrikwekkend. Ek moet hulle beskerm en probeer om hulle aan die werk te hou sonder dat hulle hul selfvertroue verloor. Die begeerte om ’n ware, goeie akteur te word, is iets wat in jou siel gegraveer moet wees. Hulle moet dit nie doen omdat hulle roem najaag nie, want dan gaan hulle nie ver kom nie. En hulle moet bereid wees om te werk. Dis soos enigiets in die lewe – hoe meer jy oefen, hoe beter word jy. Die bestes kry die beste rolle, natuurlik.”
Enige land moet in sy eie rolprentbedryf belê, sê sy. “Daar is iets wonderliks aan once upon a time. Dit is so belangrik om ons kinders se verbeelding aan te wakker. En natuurlik is dit ontsettend belangrik dat ’n land sy eie stories deur middel van flieks kan vertel. Nie net oor die geskiedenis van die land nie, maar ook oor die mense – stories wat eie aan kulture is.
“Dis hartseer, maar bitter min mense het toegang tot fliekteaters. Kyk hoeveel mense is daar wat in die landelike gebiede woon wat nie eens toegang tot ’n mall het nie. Fliek is eerstens duur, tweedens ontoeganklik en ons leefstyl maak dit nie makliker nie. Die ouers of versorgers van die gesin kom laat in die aand by die huis en moet dan kos maak en na die kinders omsien. Daar is nie werklik meer tyd vir die luukse van ‘uitgaan vir ’n fliek’ nie. Daarvoor is die TV en rekenaar daar.”
“Ons moet mobiele teaters hê, letterlik teaters op wiele wat na die mense toe gaan, maar daarvoor het ons regeringsmense met passie nodig wat so iets kan aanvoor.”
Die regering sal plaaslike flieks moet subsidieer, sê sy, want dan is dit goedkoper om ’n plaaslike fliek te gaan kyk as ’n Amerikaanse of Britse prent. Nog ’n leemte is dat daar nie genoeg rolprentateljees in Suid-Afrika is nie.
“Dis noodsaaklik, want daar moet flieks in meer tale as net Afrikaans of Engels gemaak word sodat daar flieks vir verskillende kulture is – humor is byvoorbeeld baie kultuurspesifiek. Dit beteken werkskepping – akteurs word gekweek, mense kry geleentheid om opleiding te gee en opleiding in alle aspekte van die bedryf te ontvang.