Voordele
Die groot voordeel is dat dit jou eie weefsel is en nie verwerp gaan word nie. Boonop is die vetjies gratis en maklik om te oes. Die vetoorplanting se donorvetselle sal saam met jou gewig fluktueer wat veral in die gesig vir ’n baie natuurlike voorkoms sorg. Vetselle word ook suksesvol in bestraalde vel gebruik en verbeter die algemene voorkoms van die vel. Maar die grootste bonus is waarskynlik dat jy terselfdertyd van onooglike vetbulte ontslae raak, want die beste plekke om donorvetselle te oes is die maag, love handles en dye.
Waarvoor word dit aangewend?
Deesdae gebruik die meeste plastiese en rekonstruktiewe chirurge in Suid-Afrika vetinspuitings by gesigontrimpelings en borsrekonstruksies. “Vetoorplantings is beslis die grootste ontwikkeling binne plastiese en rekonstruktiewe chirurgie en as dit aan alle verwagtinge voldoen, gaan dit groot veranderings te weeg bring,” sê dr. James van der Merwe, plastiese en rekonstruktiewe chirurg van Wilgeheuwel-kliniek in Johannesburg. “Behalwe rekonstruksie, word dit ook al meer aangewend vir kosmetiese operasies soos verjonging van die gesig en hande.” Eerstens skep die prosedure die geleentheid vir rekonstruksie. Dit sluit littekens in waar dele van die weefsel verloor is, holtes in die weefsel weens onsuksesvolle vetuitsuiging of holtes in die weefsels waar kankergewasse verwyder is.
Plastiese chirurge wend dit ook saam met gesigontrimpelings aan om volheid te gee en plooie uit te stryk. Volgens dr. Van der Merwe gebruik hy vetoorplantings in die meeste van sy gesigontrimpelings. Selfs met kosmetiese neuschirurgie gebruik hy vetoorplantings as hy met ’n moeilike knop of holte sukkel. In 80% van sy borsrekonstruksies gebruik hy ook klein vetoorplantings as pasiënte min vetweefsel in hul borste het en die prostese rimpels maak.”Baie vroue gebruik vullers soos Perlane en Restylane, maar die effek hou net vir ses tot nege maande. Wanneer jou eie vet as vuller gebruik word, en as die prosedure suksesvol is (die vet word nie alles herabsorbeer nie), is die effek permanent.” Dit kan gebruik word om jou buustelyn ’n hupstoot te gee, maar met die beperking van omtrent een keëlgrootte. As jy ’n A-grootte is, kan jy tot ’n B-grootte opgaan. Dis nie geskik vir vroue wat drasties groter wil wees nie.
Risiko’s en probleme
Net soos met enige chirurgiese prosedure is daar die gevaar van infeksie, bloeding en kneusing, maar nie meer as vir ander prosedures nie. Daar was aanvanklik kommer dat dit die opsporing van kanker in die borste kan bemoeilik omdat die vetselle kan kalsifiseer en beelde op ’n mammogram of sonar sal weergee wat ’n kankerdiagnose kan verwar. Maar nuwe studies toon dit is maklik om te onderskei. Daar is ook geen bewyse dat dit meer gevare as ander borschirurgie inhou nie. Die groot uitdaging was om vas te stel wat die vetoorplanting sal laat “vat”. Vetselle is lewende weefsel en as vet in hopies ingespuit word, gaan baie van die vetselle dood omdat daar nie voldoende bloedtoevoer is om suurstof en nutriënte te voorsien nie. Daarom moet dit in dun strepies ingespuit word. By groter hopies vet gaan die vetselle ook oneweredig dood wat ’n ongelyke veloppervlak tot gevolg het.
Die sukses van vetoorplantings berus grotendeels op die tegniek wat gebruik word om die vetselle te oes en neer te lê. Dis eers toe chirurge die vetselle in die jare negentig begin sentrifugeer het (in die rondte swaai om van onsuiwerhede ontslae te raak) dat hulle eindelik beter resultate gekry het. Die nadele aan vetoorplantings op die gesig (teenoor vullers) is dat die hersteltyd langer is en dat die prosedure duurder word as dit in ’n teater gedoen moet word. Tog duur die effek baie langer en dis nie iets wat jy elke ses maande moet laat doen soos met hialuroonsuurvullers nie. “Die hersteltyd vir vetoorplantings op die gesig is maklik twee tot vier weke voor jy sosiaal aanvaarbaar genoeg lyk om te gaan werk. Met vullers is jy ná ’n halfuur in die spreekkamers reg om te gaan werk,” sê dr.
Van der Merwe. Die kneusing en gepaardgaande edeem maak dit soms moeilik om dadelik ’n idee te kry van die volheid wat met die vetoorplanting verkry is. Gewoonlik behoort die chirurg ná vier tot ses weke ’n goeie aanduiding van die resultaat te hê, maar dit kan ses tot agt maande duur voor alle swelling opgeklaar het. Hoewel jou liggaam nie jou eie vetselle sal verwerp nie, is die ander struikelblok dat die vetselle ongelukkig ook weer net so maklik deur die liggaam herabsorbeer kan word.Van 20% tot 90% van die selle kan in die slag bly. Met nuwe tegnieke en in die hande van ’n vaardige chirurg behoort meer as 50% van die vetselle te oorleef. “Op sekere dele van die liggaam is daar ’n groter neiging tot herabsorpsie, maar dit wissel van individu tot individu,” verduidelik dr. Van der Merwe. “Dele om die mond is byvoorbeeld geneig tot herabsorpsie, en dit kan vanweë die konstante beweging van die mond wees.”
Die toekoms
Opwindende, nuwe verwikkelings op die gebied van vetoorplantings is die onttrekking van stamselle uit vetweefsel wat weer met die vetselle gemeng word voor dit as vetinspuitings gebruik word. Dit verhoog die neiging van die vetweefsel om nuwe bloedtoevoer te skep en studies toon dat dit binne ’n paar dae ’n volledige bloedstelsel kan skep om die nuwe weefsel te onderskraag. Hoewel stamselle uit vetweefsel kan diversifiseer om ’n verskeidenheid nuwe weefsel te vorm, is dit die vorming van bloedtoevoer waarmee vetselle die bekerwen. Dit kan op verskeie maniere aangewend word, maar heelparty studies is veral oor ’n gedeeltelike astektomie gedoen.
Omdat borsweefsel nie deel van die organe is nie, is dit makliker om op hierdie weefsel te eksperimenteer as om byvoorbeeld te kyk of die weefsel wat in ’n hartaanval gesterf het, weer opgebou kan word. Sydney Coleman, die aanvanklike leier op die gebied van vetoorplantings, het die verrassende waarneming gemaak dat pasiënte wat hy tien jaar ná vetoorplantings sien, ’n jonger en beter veltekstuur op daardie plekke gehad het as voor die tyd. Daaruit het hy afgelei dat die nuwe donorvetselle die bloedtoevoer na die dele moes verbeter het. Nuwe baanbrekerswerk op die gebied van vetselle het presies hierdie fenomeen bevestig en skryf dit toe aan die ryk inhoud van stamselle in vetweefsel.
Volgens studies is daar een stamsel per honderd vetselle. Dis verstommende nuus as in ag geneem word dat dit ’n beter bron van stamselle as beenmurg is, en geen morele kwessies soos stamselle van fetusse inhou nie. Boonop is vetselle gratis, maklik en goedkoop om te oes en wil die meeste mense graag van ’n rolletjie of twee ontslae raak. Die ander moontlike aanwending van hierdie stamselle is by pasiënte wat bestraling van borsweefsel gehad het. Bestraling beskadig die bloedtoevoer en kan tot verharding van die weefsel en ’n patologiese kapsel om ’n prostese lei. Stamselle wat die bloedtoevoer verbeter, verbeter die probleme en versag ’n patologiese kapsel.Hoewel stamselterapie uit vetweefsel nog op ’n eksperimentele vlak is, is dieselfde stamselle steeds binne vetselle aanwesig en kan hulle dieselfde voordele bewerk, al is dit nie op so ’n gekonsentreerde vlak soos geoeste stamselle nie.
• Bronne
Sydney R. Coleman, Structural Fat Grafting; Emerging Techniques in Aesthetic Plastic Surgery, Luiz S. Toledo (aug 2004).