Wil jy Anna beskryf, moet jy keer of jy sit met clichés – nie omdat sy middelmatig of gewoon is nie – inteendeel. Sy is op 38 net een van daardie spesiale vroue wat soos ’n storieboekheldin lyk. Haar swart krullebol val sag en blink op haar skouers. Haar vel is bloesend en satynagtig. Haar glimlag groot en opreg. Haar oë skitter. En dis duidelik dat sy uiters gemaklik is met wie sy is. Sy het vreugde aan haar menswees. “Ek is gelukkig, ja,” beaam sy. “En ek ag my gelukkig om so gelukkig te kan wees.”
“Ek is werklik ekstaties oor my werk. So dikwels kyk ek na mense wat baie talentvol is, maar wat net nie die geleentheid het om te kan doen wat hul harte begeer om te doen nie. Elke keer as ek op die verhoog stap en na die mense kyk wat spesiaal gekom het om na my te luister, bokspring my hart. Régtig!”
In dieselfde asem vertel sy dat dit nooit by haar verbygaan watter groot verantwoordelikheid sy teenoor haar gehoor en aanhangers het nie. Sy neem dit baie ernstig op as iemand, sê maar, R100 vir ’n kaartjie vir een van haar vertonings betaal het.
“Ek eerbiedig dit! En beskou dit as ’n groot verantwoordelikheid om vir mense waarde vir daardie R100 te gee.”
Sy gesels opgewek oor haar jongste bydrae tot die musiekmark – die CD, Linger Longer, wat haar aanhangers gaande het.
“Ek het mos soms maar die geneigdheid om so ’n bietjie melancholies te raak,” mymer sy. “Maar Linger Longer is glad nie só nie. Dis so ’n heerlike swing-album met wonderlike musiek wat jy kan ervaar en sommer net geniet.”
Oor haar eie melancholie glimlag sy betekenisvol. “Elke mens moet haar so af en toe ’n kansie gun om elke fase van haar lewe, of ’n gevoel, behoorlik te beleef. Niemand kan elke dag positief wees en lekker voel nie. Soms moet jy jou ’n ‘af’-dag gun en daarin ook indulge.
“As my gemoed die dag so ’n bietjie blou is, tap ek meestal vir my ’n massiewe groot borrelbad en ek maak tyd om alleen met my gedagtes te wees. Jy moet deur jou emosies werk, anders haak jy vas en kan jy nie vorentoe beweeg nie. Ek gebruik eerder ’n mistroostige dag tot my voordeel, en ek laat nie toe dat dit my verlam nie,” sê sy.
Anna het die kuns vervolmaak om haarself te bederf. En daar is ’n hele paar goed op haar lysie wat vir haar pure lekkerte is. Omdat koffie een van haar bederfgoed is, het sy lankal al die beste koffiewinkels in Pretoria uitgesnuffel en hoewel daar baie is, sonder sy Gamels in Waterkloof, Isabella’s Cake and Food Shop in Groenkloof en Café 41 in Arcadia uit.
Maar die koffie wat sy vir ons in die groot dubbelverdieping-oopplanhuis in Moreletapark maak, is net so geurig. Sy maak gulhartig van haar spesiale, haselneutgeurkoffie wat sy met ’n gelukskoot in Knysna raakgeloop het – sy kon dit nog nooit in hierdie geweste kry nie – en ons gaan sit op een van die groot leerbanke in ’n sonnige hoekie van die huis.
“Ek sê moeilik nee vir ’n ordentlike koppie boeretroos. Dis maar een van my groot swakhede,” vertel sy, koffiekoppie in die hand. Sy gaan selfs so ver om gereeld haar vriende en kennisse wat Amerika toe gaan, om te koop om vir haar Starbucks-koffie saam te bring.
“Ek kan nie in die oggend aan die gang kom sonder koffie nie,” sê sy met ’n glimlag. “Ek vermoed ek is dalk so ’n klein bietjie verslaaf daaraan, want ek kry selfs hoofpyn as ek nie gereeld my fix kry nie.”
“Ag, en ek is mal ook koek. Mal!”
“Gee vir my ’n stuk suurlemoen-meringuetert, sjokoladekoek, appelkrummelkoek, Swartwoudkoek, kaaskoek of peppermint crisp-tert en ek is in my element … Het ek cherry jubilee-koek genoem?”
“Ek is een van vyf kinders en ons het gewoonlik net Sondagmiddae poeding geëet. Jy kan verstaan dat daar tussen soveel kinders maar altyd ’n taamlike wedywering oor die laaste skeppie poeding was. Seker dié dat mense my nou nog met ’n skeppie nagereg kan omkoop!”
En soos dit enige ware suikertand betaam, is ’n ordentlike plak sjokolade vir haar ’n saak van erns. Veral as dit Ferrero Rocher of die donker weergawe van Lindt is.
Sy praat soos ’n vrou wat die binnekant van ’n kombuis en yskas goed ken en verstaan, maar volgens Anna kan sy skaars die spreekwoordelike eier bak.
“Ek kan, ja, maar my eiers smaak altyd sleg. Selfs ons huiswerker het al subtiel geskimp dat sy eerder soggens hawermoutpap sal maak, want my poging kry sy beswaarlik oor haar lippe. Nee, ek kom nie reg agter ’n stoof nie, dis nou maar so,” sê sy.
Voordat sy dit voor die kospotte waag, kuier sy veel eerder saam met haar goeie vriende in ’n ordentlike restaurant waar sy kan sit en ontspan. Sy is mal oor kos in die al fresco-styl wat in die buitelug voorgesit word – groot borde met ’n verskeidenheid Mediterreense kos word uitgesit en jy kan die hele aand daaraan sit en peusel.
Haar kat Gino hom krul gemaklik teen haar op. Nog een van haar bederfgoed: “Ek en Gino het mekaar sommer so toevallig ontmoet en ek moes hom net aanneem.
Daar is vir my min dinge so lekker soos wanneer Gino dadelik met my kom gesels as ek by die huis kom. Aanvanklik was ons bedmaats ook, maar hy prrrr soos ’n John Deere-trekker langs my. Ek kon nie anders as om hom uit te skop nie!”
Nog ’n ander kant van Anna waarvan min mense weet, is haar liefde vir skilder en vir skep.
“Ongelukkig kry ek nie so baie tyd daarvoor nie, maar gewoonlik hier teen die einde van die jaar wanneer ek sat is vir my eie musiek, trek ek my esel en verfkwaste nader. Om te skilder is vir my soos ’n vakansie by ’n spa – ek kan uiting aan my emosies en kreatiwiteit gee sonder dat dit, soos my
musiek, gemeet en beoordeel word.”
Jy sien dit nie met die eerste oogopslag nie, maar sodra jy ’n bietjie dieper kyk na hierdie mooi vrou wat straal van selfvertroue, besef jy: Daar iewers agter die pragtige gesig en donker hare skuil daar tog vrees vir mislukking, en jy sien ’n skamerigevrou wat dikwels baie eerder in haar eie geselskap as in dié van vreemde mense verkeer.
Maar daar is ook die Anna wat mal is oor reis, wat glad nie skroom om die koffers in die motor te laai en deur die land te toer nie.
“My droom is om ses maande van die jaar heeltemal af te vat en vakansie te hou. Dit hoef glad nie luuks te wees nie, gee net vir my ’n klein huisie met ’n uitsig in ’n mooi plattelandse gebied en ek is in my element.”
Haar sangloopbaan en vroeëre omswerwinge saam met die groep Cutt Glas het meegebring dat sy al deur elke kontinent in die wêreld getoer het. Sy sonder Switserland as een van haar gunstelingbestemmings uit.
Wat haar toekoms betref, vertel Anna dat sy verkies om nie te veel planne te maak nie. Sy laat wel val dat sy haar op nuwe terrein gaan begewe met die
Afrikaanse fliek Liefling wat vir 2010 beplan word. Dis die eerste Afrikaanse silwerdoekmusiekblyspel ná Gé Korsten se Hoor my Lied en Anna is die rol van ’n karakter, ook Anna, aangebied. Verskeie ander plaaslike kunstenaars gaan ook in die prent optree.
“As ek kan sing, is ek op my heel gelukkigste. Ek wil eintlik niks anders doen nie. Ek wil elke konsert so goed doen soos ek kan. En ek wil keer op keer daai bokspringgevoel in my hart kry. Dít is my heel grootste bederf in die lewe. Dis wat my die heel gelukkigste maak.
*Hierdie artikel het oorspronklik in die Oktober 2009-uitgawe van rooi rose verskyn.