Daar is niks in die wêreld wat die trauma van ’n egskeiding kan versag en jou kan voorberei op jou stukkende hart, die pyn van die verwerping, die bitterheid van verraad en die verlies van drome nie.
Vir Monique Strydom was die laaste jaar – alles wat ontbloot is en die egskeiding wat gevolg het – duisend keer erger as die gyselaarskap.
Monique en haar man, Callie, het in 2000 Suid-Afrikaners se harte aangeraak toe Moslem-ekstremiste hulle en 19 ander mense op ’n Filippynse eiland gyselaar gehou het. Hulle is ná vier spanningsvolle en traumatiese maande vrygelaat.
“Mense was geskok toe ons sewentien jaar later skei, veral ná alles waardeur ons is. ’n Mens sou dink dit het ons nader aan mekaar gebring. Dit het. Die gevangenskap het ons afhanklik van mekaar gemaak. Ons het mekaar nodig gehad om te oorleef. Ons toewyding om na mekaar om te sien en vir mekaar die beste in ’n slegte situasie te maak was ’n wonderlike soort nabyheid. Ons het in die natuurlike man/vrou-rol ingegaan. Daar was ’n afhanklikheid van mekaar sonder invloede van buite; ’n ongekende geborgenheid en heldeverering; ’n omgee; ’n afwesigheid van die dinge wat mense van mekaar laat wegdryf; ’n fokus op dit wat belangrik is.”
Maar eintlik het hulle hul in ’n onwerklike situasie bevind, sê sy. Hul grootste uitdaging was die terugkeer na die werklikheid.
“Dit het ’n valse verwagting by my geskep dat ons mekaar, ondanks uitdagings, altyd sal steun. Dit was ’n groot ontnugtering om te besef dat daar nie meer ’n ‘ons’ is nie, maar dat dit ‘ek’ gedrewe was – en dat ek ook daardie houding moes aanneem om te oorleef.
“Met een ontdekking verander jou paradys in ’n verlate woestyn met ’n sandstorm wat jou oorval, jou lewe uitsuig, verblind, hoop laat verloor. Dan gaan lê die wind en die sand val liggies terug in klein hopies – en jy leef nog. Op jou knieë, verwaai en verwilderd, en toe jy die sand uit jou oë vee, het die landskap om jou verander. Niks is meer dieselfde nie. Maar jy het oorleef en jy is nog jy. Die lug is weer blou en jy weet alles gaan weer beter word.”
Dit is vir haar moeilik om te aanvaar wat gebeur het.
“Met ons gyselaarskap was die oortreders wildvreemdelinge met wie ek geen verhouding gehad het nie, en ek het geweet hulle gee nie werklik vir my om nie. Dit was maklik om jou van hulle en hul dade af te sny. Ek het ook presies geweet wat hul einddoel was, wat dit makliker gemaak het om die situasie te hanteer.”
Vir haar was dit heeltemal anders toe haar “vyand” skielik die een is wat veronderstel is om haar geborge te laat voel, wat haar belange op die hart moet dra en wat trou en lewenslange liefde aan haar gesweer het.
Lees ook: Nuwe begin na hartseer
“Waar ek nog die gyselaarskap kon beredeneer en probeer verstaan, was ek verlede jaar in ’n situasie waar niks sin gemaak het nie.”
“Hulle sê vir vroue is geborgenheid die heel belangrikste faktor in ’n verhouding; dat iemand vir jou omgee, vir jou sal intree, jou sal beskerm. Dit is vreeslik om daardie geborgenheid van 33 jaar skielik te moet bevraagteken én te verloor.”
Dit was nie die fisieke pyn wat haar noodwendig so seer gemaak het nie, dit was die geestelike pyn wat veroorsaak is deur die onregverdigheid van die situasie en die algehele onredelikheid.
“Dit was ’n jaar van geweldige introspeksie en myself weer vind. Baie dae was dit moeilik, veral as jy in jouself begin twyfel en baie van die skuld op jouself laai. Maar dit gaan beter word. Dit gaan nie vir ewig sleg bly nie. Ek sal herstel en rustigheid sal kom.”
Deur die jare het sy as motiveringspreker vertel van die uitwerking van trauma.
“Dit louter jou, vorm jou, en maak jou bewus van wie jy is en wat jy glo. Soms kan jy nie die situasie verander nie en moet jy jouself uitdaag om te verander. Ek is ’n ‘redder’. Ek moes aanvaar dat ek nie altyd almal kan red nie en dat ander ook verantwoordelikheid vir hul dade moet aanvaar. Ek het geleer om te aanvaar as ’n situasie nie op my manier opgelos gaan word nie, en dat jy soms ’n ander oplossing moet soek.”
Sy het baie uit die filosofie van die psigiater Viktor Frankl geleer. Sy weet sy kan kies of die situasie haar gaan onderkry of nie.
“Al is die situasie pynlik, kan jy kies om in die seer – en uiteindelik selfhaat en onvergifnis – te bly, of jy kan die tragedie in ’n persoonlike oorwinning verander.”
Sy het geleer dat daar dikwels goed met jou gebeur wat niks met jou keuses te doen het nie. In 2000 het sy en Callie besluit om op ’n eiland te gaan duik. Terroriste het gekies om die mense op daardie eiland te ontvoer. Skielik was hulle oor ander se keuses in ’n situasie waar hulle nie wou wees nie.
“Ek het ook uit my egskeiding geleer dat jy nie verantwoordelik gehou kan word vir ander se keuses nie. En dat jy ook nie skuld vir hul keuses moet aanvaar nie. Ek dink dit is nogal iets waaraan vroue moet werk – veral as daar heeltyd skuldverskuiwing is. As ’n man probleme by sy werk het en hy kom huis toe, drink en rand sy vrou aan, is die optrede sy keuse, nie hare nie. Ongelukkig is daar baie vroue wat die skuld op hulle neem, wat dink hulle is nie goed genoeg nie en daarom word hulle gestraf.”
Dit was ’n moeilike les, maar sy het uit die gyselaarskap en egskeiding geleer dat jy nie op die mens moet staatmaak nie, maar op God alleen.
Sy wens daar was ’n boek wat ’n mens kon help om deur ’n egskeiding te gaan.
“Seker die grootste motivering vir aangaan, is dat jy nie ’n keuse het nie – veral as jy nog ’n afhanklike kind het.”
Sy het deur al die fases van egskeiding gegaan. Soos baie vroue het sy deur ontkenning gegaan en die waarskuwingstekens geïgnoreer omdat sy nie die waarheid wou glo nie. Daarna het woede gevolg.
“Baie vroue besluit om die een te laat gaan ter wille van ’n vreedsame oplossing, of om die kinders te beskerm. Daar waar daar verraad gepleeg is, of onregverdigheid is, kan die woede nog groter wees en baie langer aanhou.”
Die onderhandelingsproses ná ’n egskeiding kan uitputtend wees en daar is baie donker oomblikke.
Sy het gesukkel met depressie, slaaploosheid en soms wou sy nie meer leef nie.
“Byna al die geskeide vroue met wie ek die afgelope tyd gepraat het, het erken dat hulle in een of ander stadium gewens het hulle was dood – of hul eggenoot sterf.”
Sy het mettertyd by aanvaarding gekom. Haar sielkundige se raad dat sy nie verantwoordelikheid en skuld vir ander se optrede kan aanvaar nie, het baie gehelp.
“As jy aanvaar dat dit jou skuld is, verval jy in ’n bose sirkel van skuld, en dan onvergifnis vir jouself, en dan selfhaat en dan verloor jy hoop. Die ander wyse raad van ’n vriend was dat ek my fokus moet verander van ‘ons’ na ‘ek’ – omdat daar nie meer ’n ‘ons’ is nie. Dit was moeilik maar sy raad was sinvol. As ‘ek’ nie kan cope en fokus en gesond is nie, kan ek ook nie my kind help nie.”
Fisieke en geestelike heling is ook ’n proses. Die spanning het ’n geweldige impak op haar lyf gehad.
“My liggaam het homself vergiftig en ek het soveel pyn in my gewrigte gehad dat ek in ’n stadium nie iets kon vashou nie. Ek kon nie slaap nie en dit het die situasie vererger. Ek en my dokter het ’n lang gesprek oor vrees gehad, en wat vrees alles aan jou liggaam doen. Dit is alles genees deur wilsbesluite en die oorwinning van daardie vrees.”
Finansiële vrees was vir haar erg. Sy het besef sy kan nie ’n verband kry nie omdat sy nie ’n vaste inkomste het nie. Daar was baie uitdagings, maar sy glo die Here voorsien, en namate haar vrees verdwyn, gaan deure oop.
Iemand het vir haar gesê met ’n egskeiding treur jy nie net oor die verlies van ’n mens nie, jy treur ook oor die verlies van ’n droom. Op jou troudag staan jy daar met die droom om eendag saam oud te word.
“Natuurlik weet almal dat die huwelik nie net maanskyn en rose is nie en dat jou droom dalk ’n skewe draaitjie loop voor hy weer waar word. Jy leer dat mense – jy ook – foute maak en verander en moet aanpas.”
“Die tragedie lê nie daarin dat foute gemaak word nie, maar dat daar nie ’n wil is om reg te maak nie – om die droom enduit te sien nie.”
Lees ook: Die ander nadraai van egskeiding
Die egskeiding was vir hul seun, Luke, nie maklik nie.
“Ongelukkig is daar niks wat ’n mens kan sê of doen wat dit vir ’n kind makliker maak nie. Die trauma is onbeskryflik groot. Hy het nie net sy gesin verloor nie maar ook sy heldeverering vir sy pa en dit in die sensitiewe tienertyd waar hy juis ’n sterk manfiguur moes hê. Hy wou lank nie ’n verhouding met sy pa hê nie en die trauma het ook ’n moeilike skooljaar tot gevolg gehad. Maar die Here het die afgelope jaar ongelooflike manlike rolmodelle op sy pad gesit – geestelike mentors, manne wat hom met sy sport gehelp het, wat gehaltetyd saam met hom deurgebring het.”
Sy wou nooit kinders gehad het nie, maar toe sy met die gyselaarskap in lewensgevaar was, het sy ’n kind begin begeer. Sy is dankbaar vir die pragtige seun wat uit hul huwelik gebore is.
“Die verantwoordelikheid om na hom om te sien en seker te maak dat sy lewe so normaal moontlik kan aangaan, was vir my die afgelope jaar ’n groot motivering. Hy het my ook ongelooflik bygestaan. Baie dae was dit net ’n drukkie of ’n ‘I luv you’ maar dit het ’n groot verskil gemaak. Hy het vir Moedersdag (toe sy sakgeld op was) vir my ’n bottel parfuum gemaak met die oulikste gebruiksaanwysings daarby. Dit was sterk genoeg om die sinusse skoon te maak maar dit is met soveel liefde en tyd gedoen dat dit nou nog ’n ereplek in my kassie het.”
Sy erken dat sy baie dae hoop wou opgee, dat sy getwyfel het oor ’n goeie uitkoms, dat sy opgehou bid het.
“Ek het eendag vir ’n vriendin gesê dit voel of ek gefaal het oor my ongeloof. Haar woorde was dat God my hart ken en Hy weet ek kry swaar en dat ander vir my op daardie oomblik intree.”
Haar hartsmense, familie en vriende het ’n laer om haar getrek. Omdat sy en Callie vanweë die gyselaarskap bekend is, het mense op sosiale media kommentaar gelewer op die egskeiding en baie keer was dit skerp en kwetsend.
“’n Mens verstaan nie altyd die doel nie – maar jy moet weet dat alles in jou lewe ’n reis is en jy moet op daardie reis leer en groei. Moet ook nooit vergeet dat jou stryd nie teen vlees is nie maar teen die gees. Die vyand is daarop uit om te steel en hy steel daar waar hy kan. Jy kan nie toelaat dat die vyand jou geluk en jou hoop en jou toekoms kom steel nie.”
As gelowige weet sy God wil nie hê dat ’n huwelik verbrokkel nie.
Lees ook: Jou kind en egskeiding
“’n Mens probeer jou huwelik red as jy kan – maar daar moet ’n wil van albei kante wees. Jy moet ook weet wanneer dit tyd is om klaar te maak en die huwelik nie meer in God se wil is nie.”
Baie mense het haar en Luke ná die egskeiding bygestaan. Daar was mense wat met praktiese goed gehelp het en mense op wie se skouer sy kon huil.
“Ek het die afgelope jaar weer besef dat ’n mens nie alleen deur trauma kan gaan nie.”
Uit haar hartseer het ’n nuwe droom ontstaan. Sy is in die proses om ’n organisasie genaamd Mira te stig.
“‘Mira’ kom van die Italiaans wat “wonderwerk” beteken. Die afgelope jaar het ek ongelooflike wonderwerke ervaar en vele vroue het my gekontak en hul stories met my gedeel. Ongelukkig is baie van die stories baie hartseer. Dit het my net laat besef dat daar soveel vroue is wat seer is en steeds seerkry. Soos ek die facebook-boodskappe gelees het, het God my herinner aan ’n opdrag jare gelede waarin Hy vir my gesê het ek gaan ’n healing retreat vir vroue begin.”
Sy het besluit om haar ervaring te gebruik om ander vroue te help. Sy vat hande met wonderlike vroue wat almal iets wil bydra om vroue in te lig en te help.
Sy was bang dat die egskeiding haar finansies so sou raak dat sy nie meer aandag aan haar liefdadigheidsorganisasie, Matla A Bana – A voice against child abuse, kan gee nie. Sy het die organisasie 15 jaar gelede begin.
“Maar God het ons ongelooflik geseën. Die laaste jaar was een van ons suksesvolste en ons kon duisende mishandelde kinders help.”
Sy kon ook die afgelope jaar tyd bestee aan haar motiverings-praatjies oor trauma en hoe om dit te oorkom. Haar boodskap het ná haar egskeiding dieper betekenis gekry.
Die vergifnisproses ná die egskeiding is vir haar moeilik.
Lees ook: Vergifnis, die enigste genesing vir ’n tragedie
“Ek sal eerlik wees – die vergifnisproses teenoor die ontvoerders was baie makliker as die proses waardeur ek die afgelope jaar moes gaan.”
“Hulle was nie mense wat naby aan my was of van wie ek ’n verwagting gehad het nie. So drie jaar terug het ek ook deur ’n dieper seer gegaan en ek was juis in daardie stadium besig om vir Vrygekoop oor vergifnis te skryf. Dit was daar wat ek besluit het dat ek moet vergewe – omdat ek moet toepas wat ek vir ander preek!”
In die stadium is vergifnis vir haar nog ’n werkende proses – nie net teenoor Callie nie, maar ook teenoor haarself.
“Wat ek wel weet, is dat vergifnis nie beteken dat jy saamstem met iemand anders se dade nie. Ek weet ook dit beteken nie dat jy weer die verhouding moet optel nie. En laastens dat jy moet vergewe om jou vry te maak van daardie persoon.”
Trauma het nie verander wie sy inherent is nie, sê sy.
Die Monique van my jongdae, Monique die gyselaar en Monique die geskeide is steeds dieselfde Monique. Ek glo dat alles met ’n doel gebeur. Jy sien die doel nie in die storm nie, maar dit sal eendag vir jou sin maak.”