Moenie hierdie karfoute maak tydens die inperking nie deur Anet Schoeman
Terwyl jy ingeperk was, het jou motor dalk ook stilgestaan. Hier is ses wenke wat jy in gedagte moet hou voor jy weer die pad vat.
1. Maak seker jou motor is skoon en vars
Maak jou vensters oop om vars lug in te kry – en as jy vergeet het om daai pakkie met die orige paar wegneemtjips uit te gooi is dit nou die tyd.
Kyk ook onder jou enjinkap om seker te maak dat geen diertjies of insekte daar nes gemaak het nie. Rotte is bekend daarvoor … Kyk ook na die onderstel van die voertuig.
Lees ook: Die een ding waarvan jy seker moet maak voordat jy weer ’n kar koop
2. Inspekteer hierdie
Laat gereeld die enjin- en kajuitfilters inspekteer. Dit maak jou lugreëling meer effektief en verhoed ook onaangename reuke out jou lugreëlingstelsel.
Lees ook: Wat jy moet weet oor seinblokkers (of jamming)
3. Kyk uit na hierdie tekens van ’n pap battery
Jy wil voorwaar nie regstaan om jou nuutgevonde vryheid aan te gryp, maar dan vind jou voertuig se battery is pap nie.
Maak voor die tyd seker sodat jy nie onkant gevang word nie. Die volgende is aanduidings van ‘n battery wat pap word:
- Kopligte wat dowwer skyn as jou voertuig luier, maar helder word sodra die enjin se toere opjaag.
- As die aansitter sukkel om die motor aan die gang te kry.
- Verander die klank van die voertuig se luier as jy die radio of lugversorging (dus ‘n elektriese komponent wat krag van die battery trek) aanskakel?
Vir veiligheid is dit beter om nie self aan jou battery te karring nie. Wag eerder tot na die inperking sodat jy kenners kan raadpleeg.
Lees ook: Wees ’n geduldiger bestuurder
4. En hoe lyk die olie?
‘n Enjin sonder olie gaan nie ver kom nie. Maak só om jou olievlak te kyk:
- Parkeer jou voertuig op ‘n gelyk oppervalak en wag tot die enjin afgekoel het as jy gery het.
- Soek die olie-peilstok (oil dipstick) wat aan die bokant van jou olietenk sal wees. Dit het gewoonlik ‘n geel ring.
- Trek die peilstokkie die hele pad uit en vee olie af. Druk dit weer heeltemal in die olietenk en trek nou weer uit. Dis gemerk van “L” na “F”. Dus “low” en “full”. Dit moet net onder of op “F” wees. Wees versigtig dat jy nie te veel olie ingooi nie.
Lees ook: 17 dinge wat jy moet weet as jy ’n kar koop
5. Banddruk en onderhoud
Jou bande verloor druk al ry jy nie rond nie. Stop by jou naaste vulstasie en gaan die bande na. Daar is gewoonlik ‘n plakker aan die binnekant van jou deur (die gedeelte wat jy nie kan sien as die deur toe is nie) wat die optimale banddruk vir jou voertuig aandui.
Lees ook: Wat om te doen as jy in ’n motorongeluk beland
6. Het jy brandstof?
Dis klink basies, maar as jy gewoond is om sekere tye van die maand vol te maak omdat jy gewoonlik gemiddelde dieselfde afstande per maand ry, mag jy nou uit jou roetine wees.
Van die inligting verskaf deur Midas.