Deur Ina Genade. Foto: pixabay.
Daar hang ’n bedeesde stilte in my gunsteling koffiewinkel vanoggend. Die plek is nie leeg nie, inteendeel: Daar is nog so ses ander vroue wat twee-twee by tafels sit en gesels.
Maar, anders as die gewone gebabbel en gelag wat gewoonlik opklink, is almal vanoggend saggies aan die gesels.
Ek wonder of die rustigheid te wyte is daaraan dat almal flou Moedersdag gehou is? Dit lyk ál asof die tradisionele uitgerekte kuiers gister om familietafels sy tol geëis het. Of, dalk is dit net die mid-Maandagoggend in die middel van Mei wat almal nog nie laat spoed optel het vir die week nie.
Te oordeel aan my Facebook “Newsfeed” is daar gister omtrent uitgehang om moeders te bederf. Tafels wat kreun onder die kos, uithaler-restaurantetes, uitstappies, vrolike geskenksakkies, kleurvolle kaartjies en trotse ma-en-kroos-oomblikke is vasgevang op foto’s.
Na ’n week se baie min slaap weens eers een siek kind en toe die naweek die ander een wat ook inval, het my Moedersdag om skuins na 03:00 afgeskop toe die elfjarige se hoofpyne hom opjaag uit ’n koorsige slaap. Twee ure later het ’n náre naarheid hom beet en dit het geklou tot ons later die oggend by Ongevalle opdaag. Talle noodgevalle het veroorsaak dat hy eers teen kort voor 12:00 behandel is, maar die sterk medikasie wat binne-aars toegedien is, het gelukkig gou verligting gebring na ure se pyn en lyding.
Daar is min dinge wat ’n moederhart só moedeloos maak soos om jou kind te sien seer hê en niks anders te kan doen as troos en wag op ’n dokter nie. Ek is gewoonlik braaf as dit kom by hospitaalsake, maar gister laatoggend terwyl ons wag vir bloedtoetsuitslae en die koors om te breek, moes ek enersyds my pose hou sodat ek nie my siek kind ontstel nie – en andersyds was ek dankbaar dat vriende vasgevang was in hulle eie Moedersdagplanne en nie kon inloer by Ongevalle nie, want dit sou ’n geval wees van een simpatieke woord en dié ma verander skaamteloos in ’n tjankbalie.
Presies ’n jaar gelede het Moedersdag ook ’n nare wending aangeneem toe my jongste die middag skeef trap van ’n trampolien af en met haar kop teen ’n vensterbank beland. Ons was toe ook ’n paar ure in Ongevalle voor die gat in die kop geplak kon word. Drie dae later is sy ook met harsingskudding gediagnoseer en dit is al herinnering wat ek aan laasjaar se Moedersdag het.
Ek was nog nooit ’n groot voorstander van dae soos Moedersdag nie – vir my voel dit kunsmatig as een dag uitgesonder word en mens as’t ware gedwing word om ’n ophef te maak of van ’n ophef gemaak te word. Ek hou nou maar eenmaal nie van ’n geforseerde hoeha nie.
My gesin weet dan ook dat ek nie geskenke of etes verwag nie en eerder sal waardeer as iemand anders ’n slag die kombuisvloer was – nie omdat ek ’n moeder is nie, maar bloot omdat daar nog drie ander mense en drie gediertes is wat daardie vloer vuil trap.
Gisteroggend vroeg kon ek wel sien dat my jongste grootoog rondtrippel midde al die drama rondom haar siek ouboet. Sy het my al Vrydagmiddag na skool gewaarsku dat ek nie in haar tas mag kyk nie…
Toe ek en Ouboet vroegoggend wegry hospitaal toe, merk hy, asvaal in die gesig, maar wangetjies rooi van die koors, terloops op: “O ja, gelukkige Moedersdag. En sôrrie, hoor…!”
En, ek het by myselwers gedink: Eintlik is hierdie mos maar waaroor ’n Moedersdag behoort te gaan – opregte oomblikke tussen ’n ma en haar kind. Hetsy die kind bloedkind, aanneemkind of grootmaakkind is – ’n ma se kinders is hartskinders. Geen uitspattige restaurantete, duur bottel parfuum of kommersiële sentimente kan daarmee kompeteer nie.
Toe ons later die middag terugkeer van die hospitaal af, was Kleinsus se skinkbord met koffiegoed wat gereed gestaan het met ’n handvol tuisgemaakte kaartjies met boodskappe wat my toe nou wél laat trane afvee, presies die regte medisyne vir dié moederhart.