My lewe lank sleep ek al dié bruin afgedopte koffertjie met my saam: nagrokkie, tandeborsel en skoon broekie vir kleintyd se oorslaap.
Oupa se Bybel en sy woordeboek. Vliegkaartjies van waar my krummels (soos ek en my ma ons kinders noem) hulle al oral bevind het. Dis my stukkies onthou.
En nou het Ma se groen satynnagjurkie bygekom. Haar sigarette, aansteker, asbakkie en gebuigde foto’s vol vingermerke. ’n Blikkie met al haar blink goed, byna van geen waarde nie.
My jongste onthou is die onomkeerbare verlies aan my ma.
Elke middag twintig voor vyf het Ma haar pienk karretjie onder die akkerboom uitge-manoeuvre, Courtleigh in die mond.
“Ma gaan gou die dorp toesluit,” het Pa altyd gespot. Ma sou by Tomlinson se teekamer aandoen om Frisco met warm melk te drink – soos net Aletta dit kon maak. Dié winkel op Swellendam was Ma se Tygervallei. Praatjies is aangeknoop, newwermaaind dié wat haastig was – hulle is in ’n hoek aangekeer om van haar krummels se jongste prestasies te hoor.
As die wolke bo die dorp met een druppel reën gedreig het, het die pienk karretjie in ’n huurmotor verander. Net so. Op en af sou sy ry om al die boorlinge van die onderdorp by die huis te kry.
Dan was dit terug Full Stop toe vir ’n groot stuk kaaskoek vir aandete. Ma het nie baie erg aan kos gehad nie. Kaaskoek en Coke – diabetes ten spyt. Sesuur het sy haar lê gekry. So op die mat met haar asbakkie en koeldrank – in afwagting op haar geliefde 7de Laan.
Haar groen verjaardagboekie het gebeur onder al die verjaardae wat daarin opgeteken is. Niemand is oorgeslaan nie, en wanneer daar ’n uitnodiging vir koek en tee was, moes Pa solank die kar laat warm word. En sonder uitsondering was die gasvrou se geskenk ’n rooi rose met ’n pienk strik. Sy het aan twee vlieë met een klap geglo.
Ma was ’n gewoonteslaaf. Wat sy dié Maandag doen, doen sy volgende Maandag weer. Dinsdag was Pa en Katrina wasgoed. Vrydae is dit na Rae se haarsalon in die verspotte pienk huisie op die hoek vir ’n revamp van die kapsel. En Saterdae, o Saterdae, was dit Goose and Bear of Full Stop vir rugby. Op die dorp was rugby kyk nie rugby sonder Ma nie. In die winter van haar lewe het sy naweek ná naweek vir Schalk Burger ge-cheer. Algar in die kroegie wou ’n bietjie van Ma hê. Sy is summier van een kroegstoeltjie na die ander gedra om almal te vermaak, gehoortoestelletjie ten spyt. As sy vyf minute laat was, is Pa gebel: “Waar is ant Marie?” Haar stoel is sonder uitsondering bespreek, die glasie Coke en asbakkie gereed, en eers wanneer sy haar sit gekry het, eers dán, kon die rugby begin.
Ons beskeie vliegveld op die dorpie het jaarliks ’n vertoning vir die boorlinge. Toe die Harvard-vliegtuie een jaar Swellendam binnevlieg, wou sy saam. Sy was reeds oor die toelaatbare ouderdomsperk, maar Harvard het Ma gevlieg; gebollemakiesie saam met die aantreklike vlieëniers en ’n bietjie ge-flirt ook, so on the side.
Selfs op haar sterfbed het sy nie geskroom om te sê wanneer ’n man vir haar mooi was nie. Daarvan kan dominee Tolla getuig: “Jy’s darem ’n beeld van ’n man!” het sy hom vertel. Plain en straight.
Waar daar nie lewe was nie, het Ma dit geskep. Sy het almal se hartseer en teleurstellings geken. “Suzie, hoe gaan met Koos se suiker?” “Anna, het jou klein Hendrik al ’n job gekry?”
Ma was ’n vrou met vele dimensies. Kompleks. Sy was wat sy was. Stoute grappies aan die een kant en onbaatsugtige liefde vir haar medemens aan die ander kant. Tot in haar wese eerlik maar nooit reguit nie: “Eerlikheid is ’n bate – om reguit te wees, is gevoelloos,” het sy geglo.
Met haar troosdiens was die kerk vol jongmense; mense wat hul lot met Ma gedeel het, die stukkendes, het almal gekom.
Die plaaslike spietkop het sy hande vol gehad met Ma. Sy het altyd te vinnig gery en een keer selfs die blik verf op die middelman omgery.
Uiteindelik het hy boedel oorgegee. Sy het later die vryheid van die dorp ontvang – van die Verkeersdepartment. Miskien kry
sy ook die vryheid van die Goue Strate.
My ma was klein en broos aan die einde maar haar hart het dié van ’n leeu gebly. Haar kinders was alles.
Ons kon laatnag die foon optel wanneer die lewe ons ’n dwarsklap gegee het. Ma kon altyd raad gee. En ons, haar kinders, was altyd en sonder uitsondering reg. Sy het ’n blindelingse liefde vir haar welpies gehad.