Die verlies van ’n kind bly een van die moeilikste ervarings waardeur ouers moet werk. Daar kom ’n wond wat nie gou genees nie. Vir baie vroue is dit uiters traumaties, en hulle ervaar gevoelens van depressie, woede, selfverwyt en voel soms selfs jaloers op swanger vroue.
En tog, vanweë die intense emosionele belewenis daarvan, praat almal nie maklik daaroor nie. Om die gevoel van verlies en emosies te onderdruk of te vermy en nooit daaroor te praat nie, is nie gesond nie. Die kindjie hoef nie vergeet te word nie. Ouers kan gereeld positiewe gedagtes terugbring oor die mensie wat hulle verloor het. Dis nodig om tyd hieraan te bestee en ruimte daarvoor te maak. Niemand kan hiervan wegstap asof niks gebeur het nie.
Dr. Schalk Botha, ’n lewensafrigter en traumaberader, sê ’n vrou wat ’n miskraam gehad het, asook haar man, moet besef hulle het ’n verlies gely wat nie onderskat moet word nie. ’n Normale rouproses gaan waarskynlik verloop.
Hy sê die verlies is nie net die verlies aan “’n iemand” wat die ouers nou nooit sal ken nie en waaroor hulle altyd sal wonder nie, maar ook ’n verlies aan drome, planne en verwagtings vir die kind, verlies aan opgewondenheid oor die gereed maak, en selfs die verlies aan die emosionele liefdesverbintenis wat tussen man en vrou gebeur het.
“Omdat dit ’n verlies is, beteken dit die normale proses van aanvaarding, emosionele ontlading en aanpassing sonder die kindjie, moet mooi deurgewerk word.”
Wanneer verlies in ’n huis verwerk moet word, kan man en vrou dit vir mekaar maklik of baie moeilik maak. Die verlies van ’n kindjie of potensiële kindjie is dikwels ’n toets vir die huweliksverhouding. Huweliksmaats kan óf wegdryf van mekaar, óf nader aan mekaar groei.
“Die ideaal is goeie kommunikasie waarin ouers hul gedagtes en emosies deel en mekaar toelaat om die pyn te beleef en te deel,” sê dr. Botha. “Soms is daar onderlinge verwagtinge wat die gesonde interaksie tussen hulle belemmer, veral verwagtinge oor die hantering van die verlies. Dikwels verstaan die man nie die vrou se reaksies of belewenisse nie, en doen ook nie moeite om haar te bereik nie, wat rampspoedige gevolge kan hê. Wedersydse ondersteuning is seker die heel belangrikste wanneer mense deur ’n verlies werk.”
Hy sê die uitdaging vir paartjies wat mis-krame of stilgeboortes gehad het, lê daarin om met die verlies saam te leef.
“Die verlies moet sinvol geïntegreer word in mense se lewe op pad na ’n nuwe begin. Daar kom weer ’n tyd van herbelê in ’n nuwe lewetjie wat die Here moontlik maak. Nie om die ander kindjie te vervang nie, maar ’n nuwe kindjie uit eie reg.
“Voor dit kan gebeur, moet deur die hele rouproses beweeg word. Wanneer iemand iewers in die proses vashaak, kan skuldgevoelens, woede, vrae oor God, spyt en selfverwyt ’n belangrike rol begin speel. Dan moet die persoon hulp by ’n terapeut soek om weer perspektief te kry en die rouproses te voltooi.”
Om ’n familielid, vriend of vriendin in ’n tyd van verlies te ondersteun vra geduld en wysheid.
“Mense reageer verskillend op gebeure,” sê dr. Botha. “Hul reaksie is ook gegrond op verskillende persepsies en betekenisgewing aan gebeure. Daarom kan en mag jy nooit namens iemand besluit hoe erg ’n gebeurtenis is nie, en ook nie vooraf besluit hoe iemand dit moet hanteer of beleef nie.
“Tree met omgee en empatie op sonder om te oordeel, deel in hul storie, help hulle om hul verhaal te vertel met al die emosies en gedagtes wat hulle ervaar en moet hulle nie keer om hul verlies te ervaar nie,” is dr. Botha se raad. “Bied vir hulle die omstandighede waarbinne hulle hul rigting na die toekoms kan uitpluis. Help hulle om nuwe perspektiewe te ontwikkel.
“Die wêreld is ’n stukkende plek waarin slegte goed gebeur maar die Here se liefde is steeds daar en ’n nuwe toekoms is steeds moontlik.”
Ondersteun jou vriendin só na ’n miskraam
Wees bereid om te luister en sonder om te oordeel. Ondersteun haar waar jy kan en help met spesifieke take soos om aandete te maak, na haar ander kinders om te sien, of die telefoon te beantwoord en boodskappe te neem.
Gee haar kans om op haar eie manier en eie tyd te rou maar wees bedag daarop as sy dalk in die proses vashaak en hulp moet kry.
Help haar om professionele hulp te kry as sy depressief word.
Lesers vertel
• Jaco en Gerda Opperman was aanvanklik effens geskok toe hulle hoor ’n identiese tweeling is op pad. “Maar ons het gou geborrel van vreugde en vir almal vertel wat wou hoor,” vertel Gerda.
“Ek het gedroom oor hul kamer, die maatjies vir my tweejarige dogtertjie, en sommer al die veranderinge wat gebeur as jy skielik drie kinders het.
“Maar net ná week 13 het ons die skok-nuus gekry dat die tweeling se hartjies nie meer klop nie. Ons het dit glad nie verwag nie en was bitter hartseer. Dit het gevoel of ’n deel van my hart saam met my babatjies dood is.”
Gerda vertel ook dat sy dikwels trane moes terugsluk wanneer sy haar vriendinne swanger of met nuwe babatjies gesien het.
’n Parasiet in haar ingewande was die oorsaak van die miskraam. “Ek en my man het besluit om eers op die herstel van my liggaam te fokus voor ons weer aan ’n baba dink. Ek moes sewe maande met pyn en baie onsekerheid saamleef en het baie dae byna moed verloor. Maar tyd genees, en nou kyk ek nie terug nie, en glo dat ek gou weer die opgewondenheid van swangerskap sal ervaar.”
• Marie Burger het uitgesien na haar 12 weke ondersoek. Maar die nuus was soos ’n emmer koue water: Die fetus het drie weke gelede al ophou groei en daar is geen hartkloppie meer nie.
“Ek het nooit gedink dit sou met my gebeur nie. Hoekom het ek nie onraad vermoed nie, het ek oor en oor gevra? Die waarheid het stadig maar seker tot my deurgedring. Ná die skraap was my liggaam lankal gesond toe my hart nog stukkie vir stukkie moes heel,” vertel sy.
“Ek is altyd in beheer, maar toe was ek onstabiel en emosioneel. Ek het nie kans gesien vir die mense om my nie en was so verskriklik teleurgesteld en het soos ’n mislukking gevoel.
“My man was my steunpilaar en het van my verantwoordelikhede tydelik op hom geneem. Tog kon ek ondanks ondersteuning en my eie wilsbesluit om aan te gaan met my lewe, nie die stukke opgetel kry nie en het ’n traumaberader gaan spreek. Dit het my nuwe perspektief gegee en ’n belangrike rol in die heelwordproses gespeel.”
• Anita Venter se dogtertjie is op 34 weke doodgebore.
“Ek het begin twyfel of ek my baba nog voel beweeg en dokter toe gegaan. Haar hartjie het ophou klop.”
Anita sê sy het aanvanklik geen emosie beleef nie. “Ek het die babaklere uit my hospitaaltassie gepak. Maar drie dae ná die keisersnee het die verlies my soos ’n skokgolf getref. Mense se goed bedoelde opmerkings soos dat ek gelukkig nog ander kinders het, of dat dit maar beter so is, of dat daar dalk fout was met die baba, het my geweldig ontstel.
“Ek is met leë arms huis toe, maar my hart was nog leër. Nina se dood is steeds ’n misterie. Daar was geen fout nie en ek sal nooit verstaan nie, maar ’n sielkundige het my gehelp om die trauma te verwerk.
“Ek het ’n album gemaak met sonarfoto’s, foto’s van ons baba, en ook foto’s wat by die begrafnis geneem is. Ek sal altyd onthou, maar nou berus ek by God se besluit. Hy het my krag en moed gegee toe ek dit baie nodig gehad het.”
Anita vertel ook dat haar familie en vriende vir haar baie beteken het in haar tyd van rou. “Hulle het ’n netwerk van ondersteuning om my gevorm. Dit was terapeuties om met bekendes oor die gebeure en my ervaring daarvan te praat.”
• Rechélle Vermaak het twee miskrame gehad waarvan die tweede op 22 weke.
“Ons was opgewonde oor die swangerskap en het die babatjie ‘Appelkosie’ genoem toe ons die eerste sonars sien.
“Ek het spontaan in kraam gegaan toe ek nog nie eens geweet het hoe die tekens van die kraamproses lyk nie. Ons het alles gedoen wat ons kon om die kontraksies te keer, maar sonder sukses. Ná drie dae is ons babatjie na-tuurlik gebore. Hy het net 505 gram geweeg, maar was ’n perfek gevormde mensie. Ek het hom vasgehou, maar geweet hy gaan nie saam huis toe nie. Dit was verskriklik! Dit het so onregverdig gevoel. Ek sou hom dan so baie lief gehad het … ek het reeds.”
Rechélle sê sy het in depressie verval en moes professionele hulp kry om haar verlies te verwerk. “Ek kon nie verstaan hoe die Here dit ’n tweede keer toelaat nie. My wêreld het inmekaargetuimel en ek het rigtingloos rondgedwaal waar ek normaalweg ’n energieke en gefokusde mens is. Die verlies en trauma was vir my te groot.
“Ek het begin navorsing doen, maar daar is baie min ondersteuning vir vroue wat miskrame gehad het in Suid-Afrika. Compassionate Friends, wat eintlik ondersteuning bied aan ouers wat kinders verloor het, het my met ope arms ontvang. Hulle het vir my ’n steunpilaar geword.”
Lees ook: Wat almal moet weet oor sinusallergie en hoe om dit te bestuur