Deur Maretta Bellingan
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Foto’s, hare en grimering: Willem Botha & Willem Botha Beauty
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Minki van der Westhuizen leef al jare in die kollig, maar meer as enigiets streef sy daarna om ’n goeie, deugsame mens en ’n inspirasie vir haar drie dogters te wees.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Ek ontmoet Minki op haar tuisdorp Stellenbosch. Sy maak verskoning dat sy op ’n sekere tyd moet pad vat, want sy vlieg Pretoria toe vir werk. Vir die Lamb Champs om presies te wees, ’n kompetisie waartydens 100 lammers en 50 bokke op die spit gebraai word.
Ná afloop van die kompetisie waar Minki as gasvrou optree, vertrek sy saam met ’n kameraspan na Groblersdal waar hulle ’n dokumentêre reeks van ses episodes oor die Lamb Champs opneem, wat vanjaar op kykNET vertoon sal word.
“Ek’s baie lief vir die boeregemeenskap,” erken Minki. “My oupa, Nico Lombard, ’n oud-polisieman en ouma Dinah het op Vanrhynsdorp in die Namakwaland afgetree. Ouma sou nou gesê het: ‘Nee kind, hy was ’n adjudant-offisier,” voeg Minki laggend by.
“Ons het dikwels by hulle gaan vakansie hou en dis waar ek ’n liefde vir grond, plaasdamme, en die eenvoud van die lewe ontwikkel het. Ook weens my verbintenis met Boer soek ’n vrou en selfs toe ek vir Pasella gewerk het, het ek baie interaksie met die platteland en sy mense gehad.”
En sy trek beslis nie haar neus vir ’n lekker lamstjoppie op nie. “Ernst weet dit mag nie té gaar wees nie. Die vet moet krakerig wees en die vleisie nog lekker sappig. Ná ons vakansie onlangs in Alaska, het my jongste, Elsa, gesê al wat sy nou begeer, is Pappa se steak met tjips en mielies. Die kinderspyskaart in Alaska was maar ietwat beperk.”
Minki lyk soos altyd sjiek in ’n geruite jas, ’n roeskleurige syhemp, ’n kameelkleurige pasjmina om haar skouers gedrapeer, blou denim en tekkies. “Ek’s regtig nie ’n wintermens nie. Ek het maar swaar gekry die sewe jaar in Engeland. Die somer is so maklik. Jy spring net in ’n denimkortbroek en ’n T-hemp. Die kos is eenvoudig en die kinders het nie heeltyd loopneuse nie.
Minki is al vir ’n wyle ’n bekende en gewilde ‘influencer’ op sosiale media. “Ek verkies die woord trendsetter. Ek wil nie mense beïnvloed nie. Dis vir my lekker om ander met my idees te inspireer – al is dit net ’n idee hoe om jou kinders te vermaak, hoe om jou eie onderneming te begin of selfs wat jy vir aandete moet maak.
“Dit gee my ’n kick om die gewone daaglikse aktiwiteite ’n bietjie op te dollie. Dit het maar soos meeste dinge in my lewe heel toevallig op my pad gekom.
“Ek het beslis nie eendag besluit ek wil my persoonlike smaak gaan smous nie, maar mense het my begin nader en dit het ’n goeie sakebesluit geword.” En dis hoe dit gebeur het dat White Star Cruise and Travel vir haar en haar gesin genooi het om ’n reis op die Cunard Queen Elizabeth na Alaska mee te maak.
“Dit was ’n wonderlike geleentheid om as gesin saam tyd deur te bring en vir die dogters ’n bietjie van die wêreld te wys. Ons is deeglik bewus van hoe bevoorreg ons is,” beklemtoon Minki wat verskeie produkte, soos jenewer, speelgoed en allerlei skoonheidsprodukte, bemark.
“Dit was lekker om ’n slag net te wees. Kan jy glo, ek het twee boeke in tien dae gelees. Ernst het ure lank met ’n verkyker gestaan en staar. As ek vir hom sê ons moet ’n teetjie gaan drink, sê hy, net nog een draai en ’n uur later wag ek steeds vir my tee.”
Terug by die huis gaan die lewe voort waar ’n dag in die Joubert-huishouding om kwart oor ses in die oggend afskop. “Katerien is in graad 5, Elise in graad 4 en Elsa in graad R. Terwyl hulle aantrek, maak ek kosblikke. Ek hou daarvan om vir hulle interessante goed te pak, soos ’n bietjie biltong en droë vrugte. Elsa het ’n vreemde palet, sy hou van seldery.
“Ek gaan stap gereeld saam met ’n paar vroue in Stellenbosch se berge, doen Pilates of speel tennis. Dan gaan werk ek vir ’n wyle by die Minki-kantoor. Dit was altyd my droom om ’n Minki-handelsmerk te hê en ek is verskriklik trots op my juwelereeks wat aanlyn by minki.co.za. beskikbaar is.”
Minki sê sy is verstom oor hoe gewild dit is en dat sy werklik dankbaar is hieroor. Sy het altyd die droom gekoester om iets tasbaar te hê om haar naam op te sit, iets wat sy vir haar dogters kan nalaat.
“Dis moderne juwele met ’n klassieke aanslag wat jy elke dag kan dra. Ek het nou met die ontwerper saamgewerk en dit weerspieël gewis my persoonlike smaak. Dit was een van die grootste waagstukke van my lewe. Jy stel jouself bloot, maar dis ook ’n finansiële risiko.
“Ek het grootgeword met die houding liewer bang Jan as dooie Jan, maar tog, wie nie waag nie, wen nie. Ek moet sê die dogtertjies is beslis meer waaghalsig as hulle ma. Hulle is drie regte mini-me’s. Al drie wil mooi aantrek, al drie wil famous ‘soos Mamma’ wees en hul eie ondernemings hê.”
Sy sê haar man, Ernst, is ’n goeie klankbord. “Ek sê altyd Ernst is my morele kompas. Hy het ’n gesonde aanvoeling vir mense en die lewe. Oor die juwelereeks het hy vir my gesê: ‘My liefie, jy sal dom wees om dit nie te doen nie.’”
Ek wonder of daar planne is vir enige nuwe produkte en sy glimlag breed. “My darling, this is the tip of the iceberg.”
Minki was die aanbieder van die geselsprogram Minki op Via-kanaal, maar ná 18 reekse is dit vir eers gestaak. “Dit is wat dit is. Ek is wel baie opgewonde oor Lamb Champs. Ek het soveel respek vir ons boere. Hulle is dankbare, nederige mense; hulle leef op hul knieë. Ek voel tuis en geliefd tussen hulle.
“Ek vind ook groot berusting in my geloof. Jy raak net rustig en fokus op dit wat jy wel het, en natuurlik, deur genade het ek drie pragtige, gesonde meisiekinders en ’n man wat ná 12 jaar steeds vir my komplimente gee en met ’n vonkel in die oog vir my sê: ‘Jou jongste dogter is net so hardegat soos jy.’”
Haar ma, Carien, is vir haar ’n groot inspirasie. “Sy’s my beste vriendin. Sy’s ’n wonderlike ouma en vrou vir my pa. Ek streef elke dag daarna om ’n soortgelyke ma vir my dogters en vrou vir my man te wees. Net ’n goeie, deugsame mens.
“Ek wou altyd ’n mamma word, maar die vreugde wat ek uit ons gesin put, kan ek met niks op aarde vergelyk nie. Geen TV-program of voorblad kan vir my die vrede en vreugde gee wat hulle my bring nie.”
Tog erken sy dat dit altyd ’n reuse-kompliment is om as ’n voorbladgesig gekies te word. “Ek was al op meer voorblaaie as wat ek kan tel en dis ’n groot lekkerte. ’n Mens raak regtig nooit daaraan gewoond nie, maar deesdae is dit anders as toe ek jonk was. Nou is dit baie spesiaal om te sien hoe opgewonde en trots die dogtertjies is.
“Die ander dag het Katerien vir my gesê: ‘Ek kyk op na jou, Mamma, ek wil soos jy wees.’ Ek het omtrent na my asem gesnak. Jy hoop altyd jy’s op die regte spoor en dan hoor jy so iets. Ek wil net ’n goeie voorbeeld vir my dogters wees en hulle inspireer om voluit te leef en alle geleenthede aan te gryp.”
Sy mag nou 41 wees, maar voel soos 26. “Ja, jong, die almanak stap aan en dit pla my glad nie. Ek hoor hulle sê met grysheid kom wysheid en dis nie te versmaai nie.”
“Ek kyk vorentoe met groot opgewondenheid en baie verwagtinge. In my wildste drome is ek nie ’n Hollywood-ster of ’n supermodel nie, ek is Katerien, Elise en Elsa se mamma. Ek moet nog net leer hoe om die perfekte pannekoek te bak, net soos my ma s’n.”
Sy spring op en groet met ’n stywe druk, haastig op pad lughawe toe. “Want ons speel hard en ons werk hard, dis mos ’n goeie balans, dan nie?”
Hierdie artikel het oorspronklik in ons November-uitgawe van 2024 verskyn.
Lees ook: The Mommy Club: Van die Hoofstad: Ontmoet die glansryke vroue van die splinternuwe werklikheidsreeks
Kook 250 ml (1 k) bloubessies, 5 ml (1 t) balsemiekasyn en 15 ml (1…
Sowat een uit elke twintig vroue tussen die ouderdom van 25 en 44 spreek jaarliks…
Genoeg vir 4. Bestanddele 400 g (4 k) Gnocchi pastaskulpies 250 g (1 pakkie)…
Van die bekendste name in teater, film en TV in Suid-Afrika is deel van die…
Genoeg vir 1 groot bessietert met deeg oor. Bestanddele Basiese soet deeg Een…
’n Onlangse studie in die Verenigde Koninkryk het bevind die meeste werkers boet meer as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.