Op ’n dag, 16 jaar gelede, toe sy presies die helfte van haar lewe tot dusver geleef het, het almal in die land skielik geweet wie Minki van der Westhuizen is. Die langbeenmeisiekind van Durbanville, naby Kaapstad, het die nuwe gesig van Guess Jeans geword. Ja, dié befaamde internasionale handelsmerk wat vandag steeds woema in topmodelle soos Kate Upton en Gigi Hadid se loopbane blaas.
Dit was ’n Minki met heuplengte blonde lokke, kurwes op perfekte plekke en ’n ongekunstelde glimlag.
’n Hele paar hoë-oktaan-jare het gevolg; in haar vroeë twintigerjare is sy in ’n peiling as die begeerlikste vrou ter wêreld aangewys.
Die einste Minki het pas 32 geword. ’n Effense behoedsaamheid het in haar oë kom kruip. Haar lang maanhare het gewaai en in die plek daarvan het sy nou ’n lekker kort bob. Sy is nou mevrou Joubert en ’n ma van twee dogtertjies onder drie.
“Ek wonder juis of ek hulle nie vanoggend te warm aangetrek het vir kleuterskool nie,” dink Minki hardop toe sy deur die groot vensters van hul huis buitentoe kyk. Die son is nie vanmôre skaam in Stellenbosch nie; dis nog vroegerig, maar die kraaie gaap al klaar.
“Ag, hulle speel so vreeslik, hulle weet nie eens of dit warm of koud is buitekant nie,” troos Carien, haar ma.
Ma en dogter plof langs mekaar neer op ’n leerbank in Minki-hulle se woonkamer. Dis vir albei nog onwerklik-lekker dat hulle nou weer so te sê bure is en nie meer die Skype-lyn warm hoef te bel, of ’n dagreis weg van mekaar is nie. Hulle kan mekaar in die oë kyk en oor goed soos tandekry en slaaplose nagte gesels.
“Ja, my kinders slaap slég! Jammer dat ek so gaap, maar Katerien wil elke nag by ons kom inkruip. En net as sy rustig is, dan is Elise kriewelrig.”
Dit is vir Minki en Ernst, haar man, heerlik om terug in die land te wees. Ernst, eens ’n Gauteng Leeu, het aan die einde van verlede jaar sy rugbystewels opgehang ná ’n baie suksesvolle ses jaar en 160 wedstryde as agtsteman en onderkaptein van die Engelse span Saracens.
Minki en Ernst, wat in 2012 getroud is ná ’n oor-die-oseaan-hofmakery en ’n “pragtige verlowing aan die Italiaanse Amalfi-kus”, het in St. Albans net noord van Londen gebly en dis ook daar waar Katerien (byna drie) en Elise (byna twee) gebore is. Ernst werk nou vir Remgro en is onder meer by die Stellenbosch Academy of Sport betrokke.
“Een van die mooiste herinneringe wat my altyd sal bybly, is die oggend wat ek op Heathrow geland het, ’n week ná Katerien se geboorte, en hulle tweetjies my daar kom haal het. Dit was ’n onbeskryflike gevoel om haar daar te sien staan as ’n mamma,” vertel Carien.
Nou kan Carien na hartelus ouma-dinge saam met haar twee kleindogters doen, want sy en Herman, Minki se pa, “en die een wat my van sonbrandroom geleer het!” bly in Eversdal, kwalik ’n halfuur se ry weg.
Die Jouberts se krat met huisraad is pas uitgepak en hul inburgering het begin. En al die nuwighede word waardeer: hul huis waarvan ’n paar binnemure uitgeslaan is om ’n ruim oop-plan-leefvertrek te skep, die nuwe moderne kombuis waar Minki doenig kan wees terwyl sy die dogtertjies se doen en late buite dophou, “en die niggies en nefies straataf!”
Ernst se sangeres-sussie, Alta, bly in dieselfde buurt en sy ander sussie, Hanli, bly reg agter hulle.
“Ons het ’n hekkie in die muur laat insit sodat ons nie nog om die blok hoef te stap tot daar nie,” vertel Minki, kennelik dankbaar dat haar spruite die vooruitsig het om saam met hul uitgebreide familie te kan grootword.
Dan is daar nog Ben, Minki se broer wat drie jaar jonger is as sy en wat in Durbanville bly, haar skoonma van die Strand, Annelize, én albei Minki se oumas – ouma Dinah aan haar ma se kant, van Bellville, en ouma Elsa aan haar pa se kant, van Parow.
“Dit beteken ons het vier generasies vroue in die familie, almal in die Kaapse Skiereiland – hoe wonderlik is dit nie?”
En hulle doen dinge saam, nog altyd, selfs toe verskeie landsgrense hulle geskei het. Minki vertel van die keer toe sy en Carien vir Ouma Dinah Dublin, Ierland, toe gevat het sodat sy kon sien waar haar voorgeslagte vandaan kom.
“Dit was Ouma se eerste keer oorsee. Wanneer sy in die middae moeg was en gerus het, het ek en my ma die stad verken en ’n biertjie in die pub gedrink.”
Eerder laer trek as derms uitryg
Minki en Carien (57) sit gemeensaam langs mekaar en lag oor al die speel-speel-rokke wat in Katerien se kamer hang: tutu’s, ’n Rooikappierok- en -manteltjie, ’n Aspoestertjierok “of soos Katerientjie dit uitspreek ‘Assepoestertjie’”, feëvlerkies, ’n Elsa-rokkie van Frozen en ’n Raponsie-tabberdjie van Tangled.
“Ma, onthou tog dat ons ’n boek met al die klassieke sprokies aanskaf, ek dink hulle is nou oud genoeg dat ons vir hulle daaruit kan begin lees,” herinner Minki haar ma.
In dieselfde asem sê sy sy is so bly haar ma is nou weer byderhand om verstellings aan klere te maak en linte aan die dogtertjies se rokke en spoegdoeke te werk.
“Nie dat die twee tingerig is en heeldag in konsertklere wil paradeer nie, hoor.” Hul naels is dalk geverf, maar hulle is twee “rowwe, taai hansworse wat op hul gelukkigste is as hulle op Errie kan klouter”.
Ma en dogter lyk nie net na mekaar nie, hulle harte praat ook dieselfde taal. “Ek en my ma is nog altyd beste vriendinne. Die dag toe Elise gebore is, het my pa gesê ‘nou het jy drié beste vriendinne’. Ek weet my ma het my onvoorwaardelik lief. Ek is die mens wat ek is omdat sy en my pa my so grootgemaak het.”
Vir Minki, wat daaraan gewoond moes raak dat haar lewe hom baie jare lank in die openbare oog afgespeel het, is haar ouers se liefde, insig, beskerming en rustige geaarheid ’n fort van vrede.
“Daar is geen ander woord soos ‘moeder’ nie. Dis ’n woord wat diep, sterk, intense gevoelens uitdruk: moederhart, moeder-vreugde, moederskoot, moedersmart. Die woordeboek omskryf dit letterlik as ‘dit waaruit ander ontstaan het, die oorsprong’.
“As ek aan my ma dink, dink ek aan iemand wat altyd dieselfde is: saggeaard, warm, wys. My ma het my alles geleer wat ek weet; vir die eerste 18 jaar van my lewe was sy my hoofbron van alles. Ons kon, en ons kan steeds, oop en eerlik oor alles praat.”
In tye soos nóú, verduidelik Minki, steun sy op haar ma se wyse raad.
“Ek is gedaan van min slaap. En ek en Errie kry weinig kans om iets alleen saam te doen.”
Dis alles dinge van verbygaande aard, kom Carien se rustige antwoord. “Ek herinner gereeld vir Minki daaraan dat elke lewensfase kortstondig is. Voor jy jou oë uitvee, is dit verby … en dan verlang jy terug daarna.”
Maar dit help darem as ’n mens se ma jou met raad en daad bystaan. Soos verlede Julie: Ernst en Minki het albei hul ma’s genooi om saam met hulle in Spanje te gaan vakansie hou. Maar niemand was onder enige illusie nie – die oumas moes saamgaan as hulp om na die skattige blondekoppies om te sien!
Carien het ’n broertjie dood aan preke afsteek en derms uitryg.
In haar kinders se vormingsjare het sy veel eerder klem gelê op waardes: om bewus te wees van ander se behoeftes, eerlikheid, nederigheid, selfkennis, selfstandigheid, eerbiedigheid, liefdevolheid, vergewensgesindheid …
“Ek bewonder Minki se selfvertroue. Sy kan goed met mense kommunikeer en sy kan mense raak opsom. Ek was haar grootste aanhanger toe sy ’n aanbieder by Pasella was. Soms het ek so na ’n insetsel gesit en gekyk, en dan dink ek: Jinne, sussie, dit was ’n moeilike ene maar jy het jou góéd van jou taak gekwyt!”
“Dit kom van saameet om ’n tafel,” meen Minki. Sy onthou haar pa het van kleins af daarop aangedring dat hulle saam eet. “En as ek of my broer wou opspring, het my pa altyd gesê: ‘Ag, kom ons gesels eers nog ’n bietjie!’”
Die gevolg? Vandag kuier hulle éérs ’n hond uit ’n bos om die tafel. Ben en sy vriende, die Jouberts en hul vriende en Carien en Herman en hul vriende, al die generasies te gesellig om een tafel.
“Dis nou al tradisie by ons om Juniemaande wanneer ons Namibië toe gaan, so saam te kloek en te kuier om een groot, gemeenskaplike tafel. Ons het nog nooit daaraan geglo dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie, en vandag ervaar ons die vreugde van insae en inspraak in mekaar se lewe.”
Vreugde, vermenigvuldig
Natuurlik bring die kleindogters ’n nuwe dimensie in hul verhouding. Carien, ’n oud-onderwyseres, en Herman, hoof van die Ministerie van Kultuursake en Sport in die Wes-Kaap, is hands-on.
Oupa kan lag-lag albei meisiekinders gelyk op sy skoot tel (en hulle draai hom om hul pinkies) en Ouma weet al hoe om te paai as Minki moet wegglip vir werk.
Sy was skaars terug in die land toe dit bekend gemaak is dat Minki die nuwe aanbieder van kykNET se Boer Soek ’n Vrou gaan wees. En sy sien omtrent daarna uit om Kupido se pyl en boog in die hand te neem en die land te deurkruis om enkellopende boere te help vlerksleep.
“Ek het glad nie gewerk terwyl ons in Engeland gebly het nie, en dit was vir my baie bevredigend om so baie tyd saam met my kinders by die huis te kon deurbring. Maar ek is opgewonde om weer iets vir myself te doen. Ek en Ernst en my ouers sien dit as ’n groot avontuur. My ouers gaan die dogtertjies met tye na my toe bring waar ons verfilm sodat ons agter die skerms bymekaar kan wees.”
En hoe voel Carien oor haar rol as ouma?
“Dis nie net jou kinders wat moet kopskuiwe maak namate hulle ouer word nie, die ma moet ook kopskuiwe maak. Ek besef maar alte goed dat my prioriteite ook verander het. Noudat ek so bevoorreg is om hulle op ons voorstoep te hê pas ek graag my planne by hulle aan. Wanneer Minki bel en sê ‘Mamma, help!’, dan help Mamma!”
Die dogter van die ma wat só praat, kan maar net haar kop in diepe dankbaarheid knik.
“Haar teenwoordigheid in hul lewe is so kosbaar. Ek vertrou haar met hulle soos jy net jou ma kan vertrou. Boonop weet ek sy is net soos ek, net ’n bietjie minder kwaai.”
Dit is die sterkte van Carien en Minki se band: In die klein dingetjies – soos gedeelde herinneringe aan ’n bootvaart wat by die Bazarutu-eiland moes klaarmaak maar toe in Port Elizabeth geëindig het weens ’n sikloongevaar – en in die groter, gewigtige sake soos die wete dat jou meisiekind ’n geesgenoot in haar lewensmaat gevind het. En dat ’n mens saam-saam op hierdie lewensreis is.