Die sms sê net: “Stuur vir my ’n boodskap as jy jou tas het. Dan stop ek op die halfuur gratis parkering. Sal later verduidelik.” Vreemd, dink ek. Hy kom my gewoonlik self haal, dié man wat my die afgelope twee jaar getrou tussen die lughawe, kantoor en huis rondry omdat dit te gevaarlik geword het om dié pad vrou-alleen in die nag aan te durf.
Hy kyk my nie in die oë nie. Halfpad huis toe kom dit uit: sy sake-vennoot het finansiële probleme, kan hom al maande lank nie betaal nie. Daar’s R20 in sy bankrekening. ’n Mens kan nie R20 by ’n kitsbank trek nie. Sê hy.
Ek sluk en kyk by die verkeerslig in die oë van die soveelste bedelaar. Die vrou kyk af, die bord praat: “Help my. Asseblief. Twee kinders. Hulle is honger.”
Dis daardie tyd van die jaar.
In die winkels kreun die rakke onder blinkrooi, silwer en goud. Strikke, papier, tinsel en twak. Lamppale steier onder Kersmark-plakkate en Jingle Bells dreun tydig en ontydig in my ore. Tuis baan ek my weg tussen lysies en krytprentjies en nóg lysies vir Kersvader. Elke week iets anders. Ons pak reg en weg, gooi uit, maak die baie minder om plek te maak vir meer.
Ja, dis hierdie tyd van die jaar. Die gaping tussen dié wat het en dié wat wens hulle het benouend sigbaar.
Ek sien hoe my skoolvriendin op haar manier begin baklei teen die kanker wat haar plattrek – “eerste rondte chemo klaar. Chemo 1, ek 0.5,” skryf sy op haar muur. Later: “Ek probeer reverse uit die chemo-kamer waar laggende vroue met donskoppe sit, gestrap aan IV-lyne. Hulle merk dit op en trek my saggies tot op ’n Lazy-boy stoel. Ek moet surrender.
SURRENDER. Die moeilikste ding.” Sy skryf. Ek skree.
Daardie tyd van die jaar word hierdie tyd van die jaar.
Hy wil dit nie vat nie, maar ek los die geld in sy kar. Gaan soek die bedelaar, kry vier ander. Skryf op haar muur: “Laat weet as jy ’n sitmater nodig het.”
Dis hierdie tyd van die jaar. Die tyd wanneer ek, en jy, onsself elke dag herinner: minder vir my, meer vir jou.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za