Waar kom ons daaraan? Hoekom laat ons dit toe? Is dit die toenemende fokus op vryheid van spraak? Is dit die toeganklikheid van sosiale media wat ál meer mense ’n stem gee? Daar’s ’n klippie in my skoen wat kielie en krap . . .
Want wie gee jou die reg om om elke hoek en draai jou mond uit te spoel oor waar ek my klere koop, wat ek aantrek, of ek kies om te trou (en met wie ek trou), of ek wil kinders hê (of nie), hoe (en waar) ek my kinders grootmaak, wanneer, waar (en saam met wie) ek op vakansie gaan, of ek kies om ’n tuisbly-ma te wees, of te werk tot die son opkom? Hoekom traak dit jou hoegenaamd? Veral as jy niks van my is nie? Erger nog, as ek jou skaars ken?
Ons skinder mos lank nie meer agter toe deure nie, maar basuin dit uit op elke muur tot ons beskikking. Laat die wêreld hoor wat ek dink.
So ja, nou voel ek beter.
En jy? Hoe voel jy?
Ek skop-skop aan die klippie wat nie wil uit nie en trek gefrustreerd die Handves van Menseregte nader: “Jy het die reg om te sê, lees en studeer wat jy verkies, maar haatspraak word nie toegelaat nie”.
Haatspraak. Dit hang seker af hoe jy (en ek) oor haatspraak dink.
Ek? Ek staan vas en klippieloos bo-op my seepkis en basuin die raad van ’n wyse gryse: “Wees nice met die mense op jou pad boontoe, jy kom hulle dalk net weer teë as jy die pad ondertoe moet aandurf.”
So ja, nou voel ek beter.
En jy? Wat sê jy?
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za