Veertig is vir haar héérlik, lag die donkerkop-aktrise. Dink sy ook veertig is die nuwe vyf en twintig? “Nee, veertig is veertig, maar ek koppel geen negatiwiteit daaraan nie. Vir my is dit só lekker om op ’n punt te kom waar jy ’n bietjie kan terugsit en rustig wees oor die lewe. Dis asof daar meer aanvaarding is op veertig.”
Sy dink ’n oomblik na voor sy dit verwoord. “Dis nie dat jy nie meer drome het wat jy wil bewaarheid nie, en ook nie asof jy nie meer aan jouself gaan werk nie, maar die spartel is verby.”Die mense wat sy bewonder, is juis ouer vroue.
Vroue wat ’n sekere mate van wysheid gekry het. “Vroue wat kies om nie hul jare met plastiese chirurgie te verbloem nie. You have to earn your stripes, jy weet. Ek bewonder iemand soos Susan Sarandon omdat sy ’n goeie aktrise en ’n sterk vrou is, maar ook vanweë haar gemeenskapsbetrokkenheid.” Sy het ook groot respek vir dame Judi Dench, en vertel hoe diep die rolprent Philomena haar geroer het.
“Daardie laaste toneel, waar hulle so inzoem op haar gesig en jy elke plooi kan sien … Ek het net daar gesit en gedink: dis mos die merke van die lewe daardie. Mag ek eendag so lyk.” Dis nie vreemd om te hoor dat sy Zelda le Grange ook bewonder nie. Milan se ma, Eulogy, is immers ’n vrou wat selfs ná haar aftrede steeds aktief betrokke is by MIV/vigs-aksies van Worldvision, waar sy lank gewerk het.
“Jong, sy sit nie stil nie. Sy is ’n ekstrovert wat die leiding neem, ’n regte werkerby.” Sy vertel laggend dat sy haar ma verkwalik omdat sy wat Milan is, nie kan kos maak nie. “My ma het so lank ek kan onthou, gewerk, en het sommer maklik ná werk vis en tjips by die kafee op die hoek gekoop, eerder as om kos te maak. Sy is een van daardie werklik onselfsugtige mense wat nog altyd by gemeenskapswerk betrokke was.”
Milan se pa, Samuel, is ’n predikant. En albei haar ouers was ook pastoriekinders. Milan se oupa aan moederskant was die bekende en geliefde ds. Mike Smuts wat in 1974 die Jeug-tot-Jeugbediening in Suid-Afrika en in die destydse Suidwes en Rhodesië begin het.
Hoe beland hierdie predikantsdogter en -kleindogter toe in die dramawêreld?
“Seker maar omdat ek wou! My ma-hulle het nie juis ’n keuse gehad nie, maar gelukkig was hulle nie regtig daarteen gekant nie. Ek dink hulle was maar net bekommerd omdat dit so ’n wisselvallige beroep is. My ma en Amanda Strydom se ma was destyds boesemvriendinne, en een van die eerste dinge wat my ma gedoen het nadat ek haar vertel het ek wil drama swot, was om tannie Marlene te bel.” Dié, sê Milan laggend, het droogweg laat hoor: “Dan moet jy nou al begin bid.”
Die gebede moes gehelp het, want al het Milan nie eens drama op skool geneem nie, het sy haar oudisie by die dramadepartement van die Technikon Pretoria geslaag en was sy een van dertig studente wat tot die kursus toegelaat is.
“Ek het géén agtergrond behalwe eisteddfod-voordragte gehad nie. Nie dat dit jou help nie, want as jy eers met karakterisering begin, moet jy as ’t ware alles afleer wat jy vir eisteddfods geleer het.”
Sy vertel dat sy van jongs af deel van die talentvolle groepie wou wees, maar “eenvoudig te skaam” was vir iets soos drama. “Ná skool het ek eers werklik besef dis wat ek wil doen. Gelukkig het kreatiwiteit mos niks te doen met hoe loud jy is nie.”
Die dramaberoep was vir haar goed. “Nie net wat werk betref nie, maar ook omdat dit my kop oopgemaak het. Jy kan maar sê ek het wakker geword vir die wêreld – op ’n positiewe manier. Ek dink nou nie meer dat net een manier van leef reg is nie. Die kontak met mense uit verskillende gelowe, van verskillende rasse en verskillende seksuele oriëntasies, het my laat besef my wêreld was eintlik maar baie klein. Daar is ’n hele grote wêreld daarbuite waarby ek kan leer.”
Nie dat sy spyt is oor haar betreklik geborge bestaan as die tweede oudste van vier pastoriekinders en die enigste dogter nie. Inteendeel. “Ek dink juis my stabiele kinderjare het gehelp dat al die vreemde dinge my nie laat wankel het nie. Daar was geen gerondsit en gewonder ‘wie is ek nou eintlik nie’. Ek kon al hierdie nuwe ervarings neem en besluit hiervan hou ek, hiervan nie.”
Ek dink juis my stabiele kinderjare het gehelp dat al die vreemde dinge my nie laat wankel het nie
Ná haar studie het sy dadelik ’n rol in die TV-sepie Isidingo losgeslaan. Lesers sal haar ook onthou vir rolle in Song vir Katryn, Transito, Dit wat stom is en Binneland en as aanbieder van Ontbytsake op kykNET. In 2015 sal sy te sien wees in die TV-reeks Die Byl, en sy vertolk een van die hoofrolle in Mooi-rivier, wat vroeg in 2015 uitgereik word. Mooirivier was haar eerste rolprent, en sy is dol op die medium.
“Ek is mal oor die twee uiterstes van my bedryf: rolprente en die verhoog. Met teater moet jy gróót speel en met flieks klein.”
Sy het haar man, Schalk van der Merwe, ná haar studie deur die musikant Matthys Maree ontmoet. Hulle het net ses maande uitgegaan voordat hulle verloof geraak het, en ’n jaar ná hul ontmoeting is hulle getroud. “Ons het albei geweet wat ons wou hê.” Schalk se uitbundigheid het haar aangetrek. “Hy is outgoing, joviaal – ’n warm mens.” Eintlik haar teenpool, vertel sy. “Hy geniet die lewe met oorgawe.”
En, vertel sy, dis presies wat onderwysers nou van haar en Schalk se agtjarige Steph sê. “Hy is Schalk se carbon copy. Die positiwiteit straal uit die twee uit. “Schalk is die yin vir my yang. Ek is ’n pessimis wat altyd eers die slaggate en alles wat kan verkeerd loop, raaksien.”
Eers nadat sy Schalk ontmoet het, kon sy die pessimistiese streep in haarself erken. “Maar glo my, ek werk hard daaraan om dit te verander. Elke dag! Ek probeer positief reageer. As my kinders vra of hulle iets kan doen, probeer ek om nie dadelik uit te wys wat alles verkeerd kan gaan nie.”
Sy en Schalk is nou 14 jaar getroud, en haar liefde vir hom word net sterker. “Ek waardeer dit só dat hy gebly het,” sê sy op haar kenmerkende reguit manier. “Ek sê dit glad nie ligtelik nie, want rêrig, daar’s ’n paar bakens in elke huwelik waar ’n mens moet besluit ek kies weer. Ons verskille is terselfdertyd ’n groot positief en ’n groot negatief. Namate hy my beter leer ken het, het hy steeds gekies om te bly ondanks al die eksentrieke goed wat nie verdwyn nie, maar net groter word. ’n Mens word mos nie meer soos mekaar hoe langer jy getroud is nie, maar eintlik meer soos jyself.”
Waaroor verskil hulle dan? “Ag, hoe ons ons tyd deurbring, hoe ons konflik hanteer. Aan die einde van ’n besige dag wil ek stil wees. Hy wil twintig mense nooi vir ’n braai, want dit gee hom energie. Dan moet jy elke keer besluit: ek het geweet van hierdie verskil, ek moet hom of haar verdra en nie probeer verander nie.”
Aan die einde van ’n besige dag wil ek stil wees
Wat beskou sy as haar beste eienskappe? “Ek is ’n aanhouer wat nie maklik opgee nie, en ek is ’n goeie luisteraar. Dis dalk die stilte in my wat maak dat ek die kapasiteit het om ’n luisteraar te wees.” Die stilte, vertel sy, kom van haar pa Samuel af. “Hy is ’n baie rustige, kalm mens. Soms hou ek hom in ’n geselskap dop. Hy sal net sit en luister en skielik breed glimlag. Wanneer ek hom vra waaroor hy glimlag, sal hy sê dis sommer binnepret.” Saam met hom, vertel Milan, het sy van kindsbeen af baie goed gedoen wat praat oorbodig maak, soos roei. “Ons hoor mekaar in daardie stilte.”
In 2010 het sy ’n boek oor moederskap geskryf. In Koemelaat, ’n sanity-joernaal van ’n nuwe ma, het sy haar hart gedeel oor die oppe en affe van moederskap, en dit het ook later ’n eenvrou-toneelstuk, Gefop, geword. Jy hoor sommer aan haar praat hoe gaande sy oor Steph en sy sesjarige sussie, Lua, is. Wie van hulle twee aard na haar?
“O, beslis Lua! As ek so na haar kyk, dan dink ek: dis alles ek. Sy is beduiweld, eiewys en emosioneel. Lua is vir seker ’n kunstenaar. Sy sal nooit in die uitvoerende kunste wees nie, maar sy is só kreatief. Sy kan iets uit niks skep – die kreatiewe gene loop beslis sterk in haar bloed.”
Milan is mal oor die werk van Frida Kahlo, en hoop om iets van hierdie liefde vir sterk, interessante randfigure aan Lua oor te dra. “Ek weet Lua gaan altyd stroomop en dwars wees. Nie omdat sy wil nie, maar omdat sy moet. Dis bloot wie sy is. Sy is nie ’n kuddedier nie.
“Steph is meer ’n groepsmens, maar hy is ’n gebore leier. Ek sonder mense nie sommer as leiers uit nie, want ek glo elke mens het leierseienskappe. Maar Steph is een van daardie skaars mense wie se stem eenvoudig gehoor word, al verhef hy dit nie.”
Sy voel baie sterk oor die ma-en-dogter band. “Ek probeer dit wat ek van myself leer, ook vir my dogter leer. Sterk vroue inspireer my, en ek onthou toe ek haar kamer beplan het, het ek gedink dit moet tog asseblief net nie ’n prinsestema wees nie. Eerder ’n sterk blom. Jy kan jou plek vol staan en uniek wees, al ruik jy lekker en al is jy mooi. As sy so dwars is, moet ek my gedurig hieraan herinner. Ek kan nie haar besluite vir haar neem nie, maar moet haar wys op die voor- en nadele van haar keuses.”
Toe sy veertig word, het Milan ook ’n brief vir Lua geskryf met veertig dinge wat sy glo belangrik is vir haar dogter om te weet. Dit wissel van skertsende raad, soos om nie die velletjies langs haar naels te trek nie, tot raad vir die lewe.
“Dinge soos dat Nuwejaarsdag nie die enigste dag is waarop ’n mens weer kan begin nie, en dat jy die nood in jou eie gemeenskap moet verlig eerder as iewers aan die ander kant van die wêreld. Want jy is hier, met ’n rede, en nie aan die ander kant van die wêreld nie.”