Middeljare: Krisis of keerpunt?

Deur Maretha Botes

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

In my internetsoektog na die woord “middeljarekrisis” word ek met advertensies en foto’s van spoggerige sportmotors in elke kleur en vorm denkbaar gebombardeer. “Midlife crisis car,” staan daar nogals bo-aan die ry foto’s. Ek raak nuuskierig en klik op “sien meer”. Dit blyk motors – dié wat plat, blink en vinnig is – is volgens Google bo-aan die wenslysie van mense wat die sogenaamde krisis in die gesig staar.

“Wat ’n cliché!” sê ’n vriendin wat onlangs die 47 jaar kerf verbygesteek het. Haar man is ook in sy middeljare en nie een van hulle spog met ’n sportmotor, seilboot, nuwe lyf of jong blaar (of bokkie) aan hul sy nie. Sy lag. “Ek weet nie of ons dalk die uitsondering is nie!” En dan op ’n ernstiger noot: “Ons moes eerder ons denkwyses  as ons looks aanpas. Vrede vind in wie ons is, wat ons bereik het en wat ons graag nog wil bereik,” sê sy.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy het kort voor haar 45ste verjaardag haar pa verloor, het ’n nuwe pos en jonger baas weens skommelinge by die werk gekry, bevraagteken dikwels of sy ’n goeie ma vir haar twee tieners is en skrik byna elke oggend drie-uur wakker waarna sy nie weer ’n oog toemaak nie. Haar man het, weens gesondheidsredes, ’n U-draai gemaak. Hy móés by die gim aansluit en volg nou ’n streng dieet en oefenprogram. “Maar ons kan hieroor met mekaar gesels. Ek dink dis baie belangrik. Kommunikasie. Die middeljare is volgens my ’n lewensfase. Om ’n tiener te wees, ’n ma te word, al die dinge is ook lewensfases. Dit verg aanpassing, verstaan en omgee,” sê sy.

Lees ook: Voel jou tiener eensaam?

Die slegte beeld

Volgens Louis Awerbuck, ’n kliniese sielkundige van Stellenbosch, is die sogenaamde middeljare die tydperk waartydens die meeste mense begin gekonfronteer word met hul sterflikheid, asook die wete dat daar nie eindelose produktiewe jare is wat voorlê nie. Hy sê by mans is hierdie lewensfase min of meer van toepassing tussen 40 en 55, en by vroue 35 tot 50.

“Menige beskrywings en definisies word aan hierdie tydperk in mense se lewe gegee, en veral ten opsigte van mans is daar bekende clichés wat gereeld gebruik word om hul optrede in hul middeljare te beskryf. Die oorheersende behoefte om skielik ’n sportmotor aan te skaf, die dieet en oefening om beter en jeugdiger te lyk, en die fantasieë oor jonger vroue is wêreldwyd bekende ‘simptome’ van wat as ’n ‘middeljarekrisis’ beskryf word,” sê hy.

Daar is waarskynlik mense wat ’n drastiese en merkbare ommeswaai in hul middeljare maak. Nie almal beleef egter ’n krisis op dieselfde manier nie, en nie almal maak drastiese ommeswaaie in dié tydperk nie. Die algemene opvatting wat die meeste mense van ’n dié krisis het, is ’n stereotipe, sê dr Pierre Cronje, ’n kliniese sielkundige van Garsfontein in Pretoria.

Hy sê: “As jy die woord ‘middeljarekrisis’ hoor, sien jy gewoonlik in jou geestesoog ’n middeljarige man wat ’n drastiese gedaanteverwisseling ondergaan: Hy dra skielik sy hare langer, kleur dit selfs, hy trek meer modern aan, knoop ’n verhouding met ’n jonger vrou aan en koop ’n motorfiets of ’n rooi sportsmotor. Die meeste mense vind sy gedrag vreemd en self ’n bietjie lagwekkend. Daar word dikwels agter sy rug gefluister dat hy ’n middeljarekrisis beleef. Dit is ’n stereotipe, ’n seksistiese beeld wat die meeste van ons van hierdie het. In die genoemde voorbeeld, ís dit heelwaarskynlik ’n middeljarekrisis, maar almal beleef nie ’n krisis so drasties of stereotipies nie,” sê hy.

Beteken dit dat iemand wat nie so ’n drastiese krisis beleef nie, nie in ’n krisis is nie? “Weer eens, nee. Party mense beleef die konflik of (bestaans)krisis  in hul binneste. Hulle wroeg dalk oor keuses, verlore kanse, verliese en kwale, maar hul soeke is nie so opsigtelik vir ander nie. Sommige mense leef bewustelik met die idee dat hulle ouer word, dat verandering en veroudering ’n gegewe is, maar hulle het die vermoë om suksesvol by veranderende omstandighede aan te pas. Dit beteken egter nie hulle dink nie oor hul bestaan nie, is nie soms ontevrede met dinge in hul lewe nie en neem nie bestek van hul lewe nie,” sê Pierre.

Lees ook: Stres: Gee aandag aan jou liggaam se waarskuwingstekens

Hoekom is daar enigsins so ’n krisis?

Pierre vertel dat Erik Erikson, ’n Duitse ontwikkelingsielkundige, bekend is vir sy teorie oor die mens se fases van psigososiale ontwikkeling. In die laaste fase (die middeljare) besin die mens oor wat hy bereik het, of hy tevrede is met sy lewe, of hy gelukkig is en of hy met ’n klomp ontevredenheid en onvergenoegdheid oor sy lewe sit. In ontwikkelde lande word die middeljare tussen die ouderdom van 40 en ongeveer 50 gesien. Dis ook die tyd waar ons met ons sterflikheid en die tydelikheid van die lewe gekonfronteer word. Teen daardie tyd is min of meer twee derdes van ’n mens se lewe al verby en het jy baie dinge beleef, ook soms die harde kant van die lewe gesien en beleef. Jy raak dalk paniekerig oor wat nog voorlê.”

Pierre verduidelik verder dat die mens sin in die lewe soek (selfverwesenliking) en die bevrediging van basiese behoeftes is volgens Maslow ingebore by die mens. “Nie almal het die geleentheid om die behoeftes te bevredig nie – of sommige word net gedeeltelik vervul. Hoe meer ’n mens se behoeftes (volgens Maslow) op jou pad na selfverwesenliking vervul word, hoe groter is myns insiens die kans dat ’n mens die oorgang na ’n volgende lewensfase ook suksesvol kan hanteer,” sê Pierre.

Louis voeg hierby dat mense in hul middeljare boonop indie algemeen die meeste beheer oor meer fasette in hul lewe het as in enige ander lewensfase. Hierdie beheer kan paniek veroorsaak deurdat daar vele opsies is waaroor in die middeljare besluit moet word. Die verantwoordelikheid daarvan kan ’n fisieke en emosionele tol eis. Hy verduidelik:

Die impak van die lewe se stressors, sowel as die druk om ‘al die balle in die lug te hou’, veroorsaak dat mense in hul middeljare sterk met ’n veg-of-vlug reaksie gekonfronteer word. Diegene wie kies om te veg, se optrede word gewoonlik deur drastiese besluite gekenmerk, soos plastiese chirurgie of om heeltemal van beroep te verander. Hierdie veg-reaksie kan ook soms in die vorm van rusteloosheid of oormatige energie, uitbarstings van aggressie of irritasie of ’n toename in kos- of drankgebruik ervaar word. Vir dié wat kies om te vlug, kan die uitkoms soms wys in verveling, dagdromery, ’n gevoel van hartseer of onttrekking van sosiale interaksie.”

Kom dit meer by mans as by vroue voor?

Dis die groot vraag, maar dis nie ’n maklike vraag om te beantwoord nie, sê Pierre.

“Dalk is daar twee stelle reëls. Vroue sal dalk makliker hul hare reeds van vroeg in hul lewe begin kleur. Kan ’n mens dan sê iemand wat hul hare kleur, gaan deur ’n middeljarekrisis? Nee, nie as daar balans is nie. As voorkoms allesoorheersend word en ander aspekte van ’n mens se lewe word afgeskeep, is die balans verkeerd en kan dit tot probleme lei. Daar is niks daarmee verkeerd om ’n bietjie jonger te wil lyk nie. Dis egter belangrik om tydens elke ouderdomsfase goedversorgd te wees. Daar word dalk meer krities na ’n man gekyk wat aandag aan sy voorkoms gee, hoewel ek glo tye is besig om te verander.

“Almal word ouer en ’n mens sou naïef wees as jy nie van tyd tot tyd bestek van jou lewe neem nie. Biologiese veranderinge wat met ouderdom gepaardgaan dwing ons soms ook in ’n krisis. Siektes en hormonale veranderinge duik dalk voortydig en onverwags op. Om te besef jy kan nie meer die dinge doen wat jy altyd kon doen nie, kan ’n mens in ’n krisis dompel. Biologiese veranderinge kom by mans en vroue voor. Vroue is dalk in die algemeen meer bewus van hormonale veranderinge en dat daar so-iets soos oorgangsjare is. Hulle is daarom dalk meer voorbereid op die verandering omdat hormonale veranderinge duidelike tekens het.”

Lees ook: Sensitiwiteit: ’n Gawe of ’n vloek?

Sleg of goed?

Die middeljarekrisis is nie noodwendig slegs nie. Dit dwing volgens hom ’n mens om ’n bestekopname van jou lewe te neem; tevrede te voel oor dit wat bereik is; en vrede te maak met dit wat nie gerealiseer het nie. Dis ook die tyd om aanpassings te maak, soos om’ n nuwe stokperdjie te begin of om iets nuuts te studeer. Die uitdaging is om nie in onvergenoegdheid verstrengel te raak nie.

Hy sê: “’n Mens maak bepaalde keuses in jou lewe, byvoorbeeld ’n definitiewe beroepskeuse. Keuses sluit dikwels ander moontlikhede uit, maar ’n mens hoef nie te sit en tob daaroor nie, veral nie as jy besef daar is geen ideale beroep of lewenskeuse nie.”

Nogtans, sê Louis, die sogenaamde “middeljarekrisis” word deur drastiese besluite gekenmerk, en soms kom dit wel voor dat mense in hul veertiger- of vyftigerjare dinge doen of besluit waaroor hulle later intense berou het. As jy dus binne hierdie lewensfase val, sou dit dalk wys wees om enige oorhaastige besluite ’n paar keer ekstra lank te oordink!

Lees ook: Vier die lewe! Drie vroue vertel hoe, en waarom, dit nodig is

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

‘Die Brug’ is terug! Wat wag in die tweede seisoen?

Die brug is amper hier!   Die tweede seisoen van Die brug begin vlak onder die wolke…

14 hours Gelede

Koopgids: Ietsie spesiaals vir Ma

Shower to Shower Fresh Glow Shower Crème Die nuwe Shower to Shower Fresh Glow Shower…

20 hours Gelede

Bruintjies in ’n eiertjie

Genoeg vir 12 eiertjies of 6 bruintjies as jy dit in ’n muffinpannetjie bak

2 days Gelede

Ontmoet die akteurs van ‘Niggies’ se 1980’s-era

Episode 4 van Niggies begin in 1966 en wys, onder meer, hoe André (Janru Steenkamp)…

2 days Gelede

La Maison Pommery keer terug na Suid-Afrika

Woorde: Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts en verskaf     Die handelsmerk was vir etlike…

2 days Gelede

Voel jou tiener eensaam?

Al meer tieners en jong volwassenes erken hulle is eensaam. Waarop moet ouers bedag wees?

5 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.