Ek sukkel om my kop rondom Marokko te kry, om die land in ‘n boksie te pas. Gister nog was ons by ou, Romeinse bouvalle, gisteraand in ‘n Turkse bad en vandag ry ons deur Ifrane, ‘n dorpie wat bekend staan as “Swiss Morocco”. Getrou aan die naam is dit sowaar ‘n klein replika van ‘n Switserse dorpie met lanings dennebome en sneeubedekte bergpieke wat oor hordes identiese, rooi teëldakhuisies loer. (Die dorpie het ‘n wêreldklas universiteit wat jou ‘n miljoen rand vir ‘n jaar se studies uit die sak gaan jaag) En dan maak die Switserse atmosfeer vinnig plek vir ‘n speelse ervaring, waar ons die Macaque apies, net suid van Sefrou in ‘n sederwoud, grondbone sit en voer. Maar dit is naby Timhadit, terwyl ons oor die groot, sneeubedekte Atlas berge ry, wat die besef insink…ons is in Marokko, regtig in Marokko, op pad na die grote Sahara woestyn.
So vriendelik en gasvry as wat die Marokkane is, het hulle ook ‘n slinkse manier om jou in situasies in te boelie sonder dat jy weet hoe jy daarin beland het (of miskien is dit eintlik maar net ‘n toerding). Toe ons onsself twee dae gelede kom kry, staan ek en Ben elkeen met R250 se seep en modder wat ons in ons dag des lewens nooit gaan gebruik nie. En wraggies vandag weer. Ons bestuurder besluit namens ons waar ons gaan eet, met die woorde “good price”. In plaas van by die mooie Midelt te stop vir middagete, word daar gestop by ‘n vervalle, klein plekkie met die naam Zeïda, vermoedelik by ‘n vriend van ‘n vriend van ons bestuurder. Ons albei het besluit om die beste van hierdie vuil plastiektafeldoeksituasie te maak en die romantiek in die situasie te probeer sien, maar toe die buitensporige hoë rekening op ons tafel kom lê, was ons sommer vies. Al weer is ons met ‘n slapriem gevang.
Hoe verder suid ons ry, hoe harder en meer ongerep raak die wêreld rondom ons. Soos wat die kilometers verbyrol, maak die welige sederwoude plek vir ‘n ander, rare skoonheid. Klipperige berghange en harde horisonlyne vergesel ons totdat woestyn en berg in die mooiste oase ontmoet. (Vir Ben is die geil weligheid ‘n totale verassing, siende dat sy kinderstorieboeke hom geleer het dat ‘n oase ‘n klein plekkie in die woestyn is, met net 3 boompies en ‘n bietjie water.)
Net toe die dag begin lank raak, word ons met laatskemer in Rissani, in ‘n donker, deurmekaar stegie afgelaai waar ons deur ‘n man genaamd Ismael ingewag word. Nadat hy vir ons die reëlings kortliks deurgegee het, word ons bagasie woordloos oorgelaai in ‘n 4×4 en vertrek ons na die woestyn sonder om te weet wat om te verwag of hoe lank die pad nog is. Die bestuurder in sy Ku-Klux-Kleed (Burnous – ‘a voluminous woolen hooded cloak worn by men’) praat nie ‘n woord met ons nie en toe ons ewe skielik, sonder naambord of aanduiding van ‘n pad, van die teerpad afdraai, raak dit ‘n ervaring uit ‘n ander wêreld. In die nagdonker is net die wig wat die 4×4 se ligte gooi sigbaar en in daardie sigbare driehoek is dit net dooie, plat aarde. Plek-plek is daar selfs nie eers ‘n tweespoorpaadjie sigbaar nie en dis duidelik dat ons bestuurder dìe plat wêreld ken soos die palm van sy hand. Daar is nie ‘n lig of enige teken van lewe so ver soos die oog kan sien nie, net die nagdowwe silhoëtte van duinbeloftes op die horison.