Die sanger Michael Bublé en BBC One het saamgespan om ’n poets op sy aanhangers te bak. Bublé, wat ’n Suid-Afrikaanse vriend het, het hierdie aksent probeer namaak en homself vermom as ’n winkelassistent genaamd Dion. Grimeerkunstenaars het sy voorkoms effe verander (en hom selfs ’n poniestert gegee!) en hy het in ’n elektroniese-warewinkel gaan rondloop en met mense gesels. Meeste mense het eers uitgevind wie hy is sodra hy begin sing. Bublé is ook redelik selfspottend in hierdie video, waar hy lelike goed oor sy albums sê – maar mense verdedig gewoonlik vir Bublé.
Bublé en sy vrou, Luisana Lopilato, was onlangs op ’n hiaat met hul werksverpligtinge nadat hul oudste seun, Noah, met kanker gediagnoseer is sodat hulle tyd saam met hom kon spandeer terwyl hy behandeling ondergaan. Daar is egter in November 2017 berig dat hul seuntjie baie beter vaar en dat Bublé weer stelselmatig sal begin deelneem aan opvoerings en ander openbare verskynings.