Nou dat die warmer Sirocco-wind egter uit die Sahara met die aanbreek van die lente begin het om die ysige Bora terug noordpool toe te verdryf, sou daar weer nuwe vaart in daardie wiele kom!
Skielik was daar met die verandering in die weer ‘n lus by ons almal om vinnig in die pad te val en word dit ‘n uitdaging om die wentelende bergpaspaaie aan te pak en hoogte na hoogte met nuwe vergesigte te verower.
Met Vinko aan die voorpunt en ons viertal vreemdelinge op gehuurde fietse agterna, groet ons Hvar dorp toe die opkomende son nog net die spits van die hoë kerktoring begin vang en die klok seweuur oor die hawe, dorp en kasteel slaan.
Die kettings kraak nog effe met die wegspring asof dit eers uit die winterslaap wakker rek. En die bene voel ook gou dat hulle lank sonder trapoefening was. Maar dis die warmer lenteson en lentewind deur die hare wat nou nuwe lewenskrag in die ledemate bring en kort voor lank lê die lang wintergevoel behoorlik op sy rug.
Uit Hvar dorp is daar op die mooi teerpad ‘n hele paar steil afdraende berg-dalinge met ewe steil klimwentelinge na hoër berguitsigte oor bosse en landbou-aanplantings tot Brusje uiteindelik bereik word. Daarna daal die pad geleidelik na Stari Grad wat ná nog ‘n laaste steil klim dan op die afdraende oor die Stari Grad-vlakte bereik word. Vinko gee die pas aan en waarsku teen te veel spoed op die gevaarlike baie kort wenteldraaitjies in die pad.
In die fris oggendlug merk ons nuwe groei in alles. Binne die duisende klipmuursirkels en vierkante teen die berghange bot die wingerde, olyfbome, roosmaryn en laventelaanplantings. Selfs die denneboomplantasies laer af in die dale skyn met ‘n nuwe ligter groen aan die toppe. Hierdie klipmure het boere oor baie honderde jare gepak toe hulle moeisaam die klipbolaag van die berge gebreek het om by vrugbaarder landbougrond uit te kom.
So hier en daar vang die oog in die verbygaan langs die pad en teen die berghellings die lieflike pers inheemse irisse wat Kroasië se nasionale beskermde blom is. Die landsmense noem die blom perunika. Dit is uit die Slawiese mitologie afkomstig van die naam van die donder- en weerliggod, Perun. Oorlewering in die volksmond, vertel Vinko ons, wil hê dat die iris slegs groei waar weerlig die grond getref het. Vir ons lyk dit of daar baie weerlig moet wees!
Dit kos ons toeriste wat nie aan so baie kwaai bergklim op die fiets gewoond is nie sweet en uithou om hygend die hoogtes te bereik. Die waterbottels sak vinnig en teen ons Brusje bereik, is die restaurant op die eskarpement ‘n welkome afsaalplek. ‘n Donkiestandbeeld wat ons verwelkom herinner aan die dae toe mense nog met die lasdier oor die berge gery het. Was dit ‘n regte donkie sou hy sekerlik van pure lagkry vir ons fietspoging ‘n hele paar keer gebalk het!
Vinko stel heerlike varsgebakte pannekoeke gevul met roomys en appelstrudel saam met stomende koppies cappuccino voor. Het dít ons darem mooi reggeruk vir die laaste skof na Stari Grad!
Pragtige vergesigte oor die asuur Adriatiese see wat ‘n ligtere kristalhelder groen skynsel in die vlakker water aanneem, het ons dikwels op die hoogtes te beurt geval. Dit was een onvergeetlike panorama op die ander.
Hvar-eiland lê in die middel van die Adriatiese seeroetes en ‘n groot verskeidenheid skepe wat toeriste op dagritjies of op eilandvaarte neem, het die see as’t ware verder vir ons ingekleur. Vir ons was die gesig van ‘n vyfmaster klipperseilskip wat met bollende seile uit toeka se dae oor die golwe klief, iets uit ‘n ander wêreld om te aanskou.
Deurgesit op die saals en met bene wat behoorlik moeg getrap was, bereik ons eindelik Stari Grad. Nog ten laaste kon ons met verwondering in die ry kyk hoe die ou Grieke die vlakte rondom Stari Grad in landbouhoewes uitgelê het wat so goed was dat dit vandag as ‘n UNESCO Wêrelderfenis boerderygebied bewaar word.
Tuisgemaak op ‘n kaai restaurantstoepie met ‘n lieflke uitsig oor die hawe het ons oor ‘n paar koue biere gewonder of ‘n dag of twee se donkietog soos van ouds nie dalk baie geriefliker en verstandiger as ‘n vermoeiende harde fietstog sou gewees het nie!