Die groot ronde wit kalksteen-meulsteen draai en maal die mieliepitte tot ‘n fyn meel wat afgeskraap onder op ‘n plank neffens die draaiende steen begin opbou.
Die watermeule in die Krka waterval was eens op ‘n tyd ‘n noodsaaklike skakel in die kosvoorsieningsketting van die boere en ander dorpsmense van die omgewing. In die somermaande wanneer dit droog en hierdie een van die enigste werkende meulens was, kon dit tot drie dae neem voordat iemand ‘n maalbeurt kry. Op die manier was dit ‘n hele kuier affêre wanneer daar koring, gars en mielies gemaal moes word.
So was dit in wat nou die outyd genoem word, voordat stoom en daarna elektrisiteit vinniger kon maal en die watermeule as ‘n bindende gemeenskapsbymekaarkomplek sy rol as sulks moes prysgee en die kristalhelder water nutteloos verby gevloei het.
Vir die aardigheid, om die onthalwe van toeriste, maal ‘n paar van die watermeulens egter weer vandag – want nou maal dit kykgeld uit die sterker vloeiende toeristestroom wat deur die rariteit van die watermeulens aangetrek word.
Met die water wat verby is mag jou meule nooit weer maal nie, maar met ‘n bietjie vindingrykheid kan daar altyd opnuut uit die verbygaande stroom geskep word, het die ou meulenaars geredeneer.
Net ‘n bietjie laer af in die Kkra rivier is die ruines van nog ‘n monumentale stukkie pioniersprestasie deur die vroeëre burgermeester van Šibenik, Ante Supuk en sy broer Marko. Die twee ondernemende broers het die tweede wisselstroom hidro-elektriese kragstasie in die wêreld, Jaruga 1, daar gebou en is net geklop deur die Forbes-dam hidro-elektriese skema by die Niagara-waterval wat die eerste van sy soort was. Dit was in 1895 en Šibenik kon sy meer romantiese gaslampe met moderner elektriese lampe vervang. So was die vooruitgang van die tyd.
Nog effe verder stroomaf naby die Krka riviermonding lê die skilderagtige dorpie Skradin teen die berghelling se laatsomer oggendson. Dis hier in die Skradin-baai waar die Krka rivier na sy woeste tuimelende watervalletog vanaf Knin tot kalmte en rus kom. In die laaste van sy vaarwaters, voordat dit die see instroom, koers plesierbote met toeriste na die watervalle en ook na van die nabygeleë see-eilande.
Ook so ’n reis is kortstondig. More is die toeriste weer vort en sal hulle toermeule waarskynlik nooit weer met die bruisende helder waters van die Kkra-rivier maal nie – alleen in kosbare herinnering sal die ingeprente beeld van die meule aan die waterval soos ‘n skildery in hul geheue bewaar bly om iedere dag opnuut van te geniet uit Kroasië se wonderwêreld van watervalle.