Jou kind: Met alle respek gesê … deur Anys Rossouw
Verhoudings, werkplekke of ’n samelewing waar daar nie respek vir jouself en ander se behoeftes, regte en menswaardigheid is nie, is ’n wrede, ongenaakbare en onveilige plek. Die ikone van die wêreld, die Mandelas en Moeder Teresas se groot invloed lê juis daarin dat hulle almal, selfs diegene van wie hulle ingrypend verskil, met die grootste respek behandel. Dit bring versoening en samewerking en skep ’n beter wêreld en verhoudings vir almal. Ongelukkig glo soveel mense daar is krag en mag in gevegte, venyn en om ander met vernedering uit te haal.
Lees ook: Bou jy of breek jy jou kind se selfbeeld?
Respek ontbreek oral in ons samelewing, op die speelgrond, sportveld, in mense se binnekamers, om onderhandelingstafels, by die werk en selfs by gerespekteerde instellings soos die parlement. Dis skokkend om te hoor hoe kinders met mekaar, ouer mense, hul onderwysers, afrigters en selfs hul ouers praat; hoe volwasse kollegas met mekaar praat; hoe daar wyd en syd neerhalend en afbrekend van gesagsfigure soos onderwysers, bestuurders, ministers en selfs ons voormalige president gepraat word. Dis die dinge wat kinders dikwels sien en hoor by die mense wat van hulle verwag om ander met respek te behandel.
Dikwels verwag ouers van kinders om in die klas te luister en hul werk goed te doen terwyl hulle tuis minagtend hoor dieselfde onderwyser is ’n idioot. Wie luister vir ’n idioot? Hoe meer respek jy vir iemand het en hoe beter jul verhouding is, hoe groter invloed het daardie persoon op jou. Respek is die valuta van verhoudings en samewerking.
Lees ook: 5 goed wat jou kind anker
Praat jou kind terug? Val sy jou in die rede? Rol haar oë? Ignoreer jou opdragte? Weier om te luister en skree op jou? Het jy al met ’n bloedrooi gesig en gemompelde verskonings ’n geselskap verlaat? Of nie geweet waar om jou kop van skaamte in te druk nie?
Is dit maar net normale kinderstreke of hormone wat pla? My kind gaan deur ’n stadium. Is ’n tiener. Kinders maak maar so. Boeties en sussies baklei maar. ’n Gebrek aan respek en onvanpaste gedrag word ongelukkig verskoon en aan normale gedrag toegeskryf.
Jy sit by die tennis en Pietie is besig om te verloor. Hy gooi sy raket neer, skree op sy opponent en storm van die baan af. By die Bulletjierugby hoor jy hoe Zander se pa op hom skree dat hy nie so ’n papbroek moet wees nie en moet tackle. Later word die afrigter in gekruide taal voor almal aangevat dat hy nie weet wat hy doen nie.
Respek moet vir kinders van babadae tuis geleer word. Maar vir jong kinders is die konsep “respek” ’n abstrakte en moeilike begrip om te verstaan. Vir kleuters leer jy dit op ’n vlak wat hulle kan verstaan. Respek gaan oor hoe ’n mens oor iemand of jouself voel en hoe jy teenoor iemand optree. As ek respek vir jou het, dink ek mooi en goeie dinge van hoe jy is en hoe jy optree. Ek behandel jou op ’n manier wat wys dat ek omgee hoe jy voel en wat vir jou goed en lekker is.
Lees ook: Maak ’n gelukkige kind groot
Ouerskap is een van die moeilikste take in die wêreld. Ouers offer soveel op, belê soveel tyd, aandag, emosies en geld in hul kinders dat hulle glo en verwag dat hul kinders baie dankbaar behoort te wees en hulle met respek moet behandel. En kinders dink net glad nie so nie. Hul lewe is vir hulle ’n doodgewone gegewe en die enigste werklikheid wat hulle ken, nie noodwendig iets spesiaals nie. Kleintjies is egosentries en het nie vanself waardering of respek vir hulself, ander of die wêreld en hul omstandighede nie. Net soos hulle nie vanself ’n woordeskat of ’n klomp kennis het nie. Respek leer hulle nes ’n woordeskat – die meeste uit hul gewone interaksie met die mense rondom hulle; deur wat hulle hoor, sien en dan naboots. En dan ook deur doelbewuste pogings van hul opvoeders.
Kinders leer respek deur wat hulle hoor, sien en dan naboots.
’n Mens hoef net ’n een- tot driejarige dop te hou om te sien hóé kleintjies álles naboots wat volwassenes doen: hoe hulle hul armpies vou, die handsak oor die skouer, die frons, wat hulle sê, wil aantrek … Die meeste kinders tree op soos iemand in hul leefwêreld optree. As dit nie die geval is nie, het kinders gewoonlik ’n probleem en frustrasies wat bepaal en uitgepluis moet word.
As ouers nie mekaar, hul kinders en hul kinders se gesagsfigure met respek behandel nie, sal die kinders dieselfde doen. As Pa my foeter omdat hy kwaad is omdat ek iets gedoen het waarvan hy nie hou nie, gaan ek my maatjie slaan as hy iets doen waarvan ek nie hou nie. As Ma selde luister en doen wat ek vra, gaan ek selde luister en doen wat sy vra. Of as Ma heeltyd spring, help, gee en doen wat ek vra, gaan ek verwag dat almal dit doen en dan sukkel om dinge self te doen.
Almal hou daarvan om gerespekteer te word. Geld, kennis en posisie gee mense mag, maar jou karakter, waardes en optrede laat mense jou respekteer. As jy nie mense respekteer nie, daal jy tot ’n vlak waar jy nie selfrespek het nie en goeie waardes en norme nie jou optrede bepaal nie.
Lees ook: Hoe gedrukte foto’s jou kind se eiewaarde bevestig
Kinders met selfrespek het beter grense en neem dikwels beter besluite. Dit verminder die kans dat hulle betrokke sal raak by afbrekende mense en groepe, aktiwiteite soos drank-misbruik, dwelms en onvanpaste seksuele aktiwiteite. Sulke mense en kinders het meer empatie, is bedagsaam en minder egosentries. Hulle respekteer ander se gevoelens en besittings en slaag makliker daarin om gesonde verhoudings in stand te hou. Dit maak hulle gelukkiger en suksesvoller.
Kinders en volwassenes kom dikwels weg met respeklose gedrag omdat die mense in hul lewe dit maar aanvaar en daaraan gewoond geraak het. Ouers kyk dikwels hul kinders se aandeel in konflik mis en kies die kind se kant om hom te beskerm of sy guns te wen. Iets of iemand anders word vir die kind se oneerbiedige optrede geblameer. Soms word die kind se gedrag gerasionaliseer omdat ouers nie afbrekend teenoor die kind wil wees nie. Kinders is maar so, of my kind het ’n sterk wil of persoonlikheid. Dis soms net te na aan die vel en te moeilik om te erken sy is ongemanierd en ongeskik. Die hartseer is dat maats, onderwysers en eendag kollegas, lewensmaats en werkgewers nie met dieselfde sagte oog sal kyk nie.
Lees ook: Besige ouer, eensame kind
Leer jou kind respek
Die basis van respek is goeie maniere en empatie.
Leer hulle goeie maniere
• Begin by basiese maniere: Dankie, asseblief, ekskuus, hallo en tot siens. Ek groet voor ek begin praat; ek spreek mense op hul name aan; vra toestemming om ander se goed te gebruik.
Let op kommunikasievaardighede
• Ek bly stil wanneer ander praat; ek luister werklik; ek maak oogkontak; ek is bewus van my lyftaal, nie net wat ek sê nie, maar ook hoe ek dit kommunikeer; ek rol nie my oë, trek my gesig of maak snorkgeluide nie.
Lees ook: Verstaan jou tiener se streke
Verwag sosiale vaardighede
• Ons deel met mekaar; ons gee ander ook ’n kans of ’n beurt; samewerking; ander mag van my verskil sonder dat ek verdedigend of aggressief raak; ek vra verskoning; ek vra mooi eerder as om bevele te gee of eise te stel; ek
respekteer ander se persoonlike ruimte, besittings en besluite; ek mag nie my wil aan ander opdwing en hulle probeer manipuleer nie; ek gee ander erkenning en komplimente.
Leer hulle empatie
• Fokus op waardes en lewenswyshede: Eerlikheid, vertroue, openheid, waardering en respek. Ek respekteer myself, my liggaam, my besittings, my werk, my omgewing en net soveel ook dié van ander. Dis belangriker om gaaf en goed gemanierd te wees as om reg te wees. Mense se woorde en optrede sê meer oor hulself as oor die persoon waaroor hulle praat.
• Ek stel werklik in ander belang, nie net in my eie agenda nie. Ander se welstand en wense is net so belangrik soos myne. Ek vra uit, help en onthou die goedjies wat vir hulle belangrik is.
• Ek luister na ander en probeer iemand eers verstaan voordat ek oordeel. Ek weet dat wanneer ek mense oordeel ek nie naby-verhoudings met hulle kan hê nie, en samewerking is dan moeilik.
• Omgee en begrip bou verhoudings, nie kritiek en sarkasme nie. Salomo het gesê sagtheid keer die grimmigheid af. Gee erkenning aan ander se gevoelens. Mense vergeet dalk wat jy gesê en gedoen het, maar selde hoe jy hulle laat voel het.
• Vergewe. Almal maak soms foute.
• Verstaan hoe jou optrede ander raak.
• Ontwikkel hul emosionele vaardighede: Hulle moet hul eie emosies en reaksies verstaan, erken en leer hanteer. “Ek is kwaad as … ” en nie “Jy is … ” nie. Help hulle om ’n emosionele woordeskat te ontwikkel.
Lees ook: Jou kind: Sosiaal slim bedraad
• Wees gemaklik met verskille en diversiteit. Ander mense kan anders dink, glo, voel, optree en wees as ek. Dit maak hulle nie reg of verkeerd nie, net anders. Ek gee hulle ruimte om anders te wees.
• Wees vir hulle ’n rolmodel en gee hulle rede om jou te respekteer. Die gesegde: woorde wek, maar voorbeelde trek, is so waar. Kinders wat nie hul ouers respekteer nie, respekteer selde werklik hulself of ander mense.
• Verwag goeie maniere en respek. Jou kind is nie jou maatjie nie. En kan ook nie later hul onderwysers, ander gesagsfigure en hul baas se maatjie wees nie. Ouers moet kinders leer om hulself in verhoudings met hul minderes en meerderes te kan handhaaf – op ’n manier wat vir hulself en vir ander goed is.
• Help hulle om hulself nie so ernstig te neem nie en hul eie en ander se gebreke met humor te hanteer.
• Fokus op hul goeie gedrag en beloon dit met aandag en positiewe terugvoer. Mense wat voel hulle word geag, gerespekteer en waardeer, doen altyd meer as wat verwag word. Maar dis baie moeilik om te verwag jou kind moet respek hê vir iemand wat korrup, negatief en afbrekend is. Maar al het die kind nie respek vir iemand nie, moet hy steeds met respek optree. Kinders moet die verskil besef.
Hoe hanteer ek dit as my kind nie met respek optree nie?
• Bly kalm. As ontsteltenis en woede by die voordeur inkom, glip respek dikwels by die agterdeur uit. Vra verskoning wanneer jy dit verloor het, en maak reg.
• Smoor oneerbiedigheid vroeg in die kiem. “Jy kry niks as jy nie mooi vra nie.” Die kind moet weet ’n tantrum sal verseker dat hy beslis nie kry wat hy wil hê nie.
• Help jou kind met respek reg – nes jy aangespreek wil wees, en wil hê hy dit met sy maats en meerderes moet doen.
Lees ook: 5 wenke om jou kind empatie te leer
• Beskryf die gedrag wat jy sien en hoor: Ek hoor ongeduld in jou stem. Ek is ongemaklik met die manier waarop die gesprek verloop.
• Gebruik humor: Wat van die towerwoord? wanneer jy “asseblief” of “dankie” verwag. Ekskuus? Kan jy dit weer sê, dalk op ’n manier wat vir Mamma mooi klink?
• Gee erkenning aan die kind se behoefte: Ek kan sien jy wil my aandag hê. Kan jy ook sien waarmee ek besig is?
• Moenie toegee aan enige eis of versoek wat nie met respek gestel is nie sodat die kind leer dat oneerbiedigheid nie werk nie.
• Bepaal die rede vir die gebrek aan respek sonder om te beskuldig. As dit woede is, help hulle om alternatiewe maniere te kry om uiting aan hul woede te gee.
• Kies jou tyd vir opvoeding met wysheid. Ignoreer negatiewe, oneerbiedige gedrag. Praat later wanneer almal kalm is. Stel dan die grense en die gevolge ferm, sou hy hom weer so gedra. En hou daarby.
• Maak seker jou verwagtinge van jou kind se optrede is realisties. Beperk situasies waarvoor sy nog nie die vaardighede het nie. Daarin is respek vir die kind se behoeftes, emosies en vaardighede.
Lees ook: Kommunikasie tussen jou en jou kind
• Selfrespek bepaal jou morele waardes, en respek vir ander bepaal jou maniere. Gandhi het gesê: “Dis vir my ’n misterie hoe mense hulself kan respekteer as hulle ander verneder.”
• Respek en vertroue is die hoekstene en basis van goeie en gesonde verhoudings. Maar jy kan nie op respek en vertroue aandring, of dit eis nie. Dis iets waaraan jy langsaam bou en jy moet dit op ’n manier ook verdien. Maar dis ongelukkig ook iets wat ’n mens in ’n onbewaakte oomblik kan verloor.
Lees ook: Wenke vir ma’s en stiefma’s