Wie is die mens agter die ikoon en bekroonde aktrise, Meryl Streep? Margaret Gardiner het in 2008 met haar in Athene gesels terwyl sy promosiewerk vir ‘Mamma Mia’ gedoen het.
In die fliek Mamma Mia sien jy Meryl Streep soos nog nooit tevore nie. Sy speel nie net toneel nie, maar sing en dans dat jy lekkerkry. En vandag kom ek toe agter dat sy boonop snaaks is. Sy vertel ’n grap en terwyl sy wag om te sien of jy dit snap, dans die lag in haar oë. En as jy skater, beloon sy jou met daardie bekende krul van haar lip terwyl haar hele gesig ophelder – dit alles terwyl sy skaars beweeg.
Haar geselsery is deurspek met die tipiese Streep-aanwensels: daardie bekende sug op die regte oomblik, die onverwagte verposing tussen woorde wat hul betekenis verander, die tersluikse skewe blik, die sagte tikkie op haar gesig of lyf wat boekdele spreek. Haar liggaam dra sterk emosie oor en haar intelligente, donkerblou oë pen jou vas. Dis asof alles tesame sê: “Ek is ’n sluimerende vegter, moet my nie onderskat nie!”
Kortliks: Meryl Streep oorrompel jou.
Jy het al tevore in flieks gesing, maar was dit vir jou moeilik om sulke bekende ABBA-liedjies te sing en boonop te dans?
Om te sing en dans is soos om elke dag uitgenooi te word om te speel. Toe ek nie so goed kon dans soos wat ek wou nie, kon ek altyd wegkom met iets soos “sy is nie eintlik ’n danser nie” (lag). Maar dit was ’n ongelooflike geleentheid. Ek het op hoërskool in musiekblyspele gespeel en my eerste kennismaking met Broadway was in ’n musiekblyspel, maar dit was die laaste. Nou voel dit soos ’n droom wat waar geword het. Maar die kostuums was ’n toets. Om vir vier maande ’n overall te dra is nie ’n grap nie (sy lag). Dit het sewe mense – byna ’n dorpie – geneem om my in ’n spandex jumpsuit en op die platformskoene te kry. Dit was nogal ’n pynlike proses, maar nie sonder plesierigheid nie. Dis mos soms prettig om snaakse klere aan te trek.
Hoe hanteer jy fisieke veranderinge?
Soos die jare aanstap, is ek net dankbaar vir alles wat ek het en dat ek leef. Ek het so baie vriende wat siek is. Ek het so baie ontvang dat ek genoodsaak voel om te gee ook. My Nuwejaarsvoorneme was om meer te gee.
Ek is ’n Kreef en hou daarvan om by my huis te wees en het maar min erg aan partytjies. Maar ek probeer nou doelbewus om meer met mense en die wêreld daar buite in aanraking te kom, want die lewe is kort. Jy moet soveel mense ontmoet as wat jy kan.
“Soos die jare aanstap, is ek net dankbaar vir alles wat ek het en dat ek leef”
Jy is ’n uitstekende aktrise, maar was daar al ooit ’n rol wat jy gedink het bo jou vuurmaakplek is?
Nee, ek wou altyd meer hê. Ek kan nie onthou of ek al iets van die hand gewys het omdat ek gedink het ek kan dit nie speel nie. Ek hou daarvan as mense meer van my verwag. Maar dank vader, niemand het nog van my verwag om ’n vliegtuig te vlieg nie.
Na watter soort musiek luister jy?
Ek is steeds mal oor die musiek waarna ek geluister het toe ek jonger was. Jy verloor nooit daardie eerste liefdes nie. Wat ook al die musiek was toe jy jy was, is die musiek wat jou ontroer. My gunstelinge is Neil Young, Joni Mitchell, The Beatles, ABBA, Bob Dylan en Annie Lennox. Bruce Springsteen was báie groot in my jonger jare. Ons het saam in New Jersey grootgeword.
“Wat ook al die musiek was toe jy jy was, is die musiek wat jou ontroer”
Jy het ’n fassinerende lewe. Hou jy ’n dagboek?
Ek wens ek het ’n dagboek gehou, want ek het ’n ongelooflike lewe. Ek onthou ongelukkig nie alles wat ek gedoen het nie, maar nee, ek het nooit ’n dagboek gehou nie. Ek het nie daardie dissipline nie. Ek dink ek is saans – wanneer die meeste mense die dag se gebeure neerpen – te moeg. Sodra my kop die kussing raak, is ek uit soos ’n kers.
Wat doen jy om jou beter te laat voel as jy neerslagtig is?
Ons het in September 2001 New York toe getrek. My kinders was in die skool tydens die World Trade Centre-tragedie. Dit was ’n moeilike tyd en my tienjarige dogter het ook in daardie dae verjaar. Ek het probeer om aan iets te dink wat almal sou opbeur. Die kinders was nie regtig hartseer nie, net nie so vrolik en uitbundig soos gewoonlik nie. Mamma Mia, die musiekblyspel, het pas geopen en ek het vyf kinders en ’n paar ma’s gevat om daarna te gaan kyk.
Ná die vertoning het dit gevoel asof ons sweef. Ons was uit ons velle. Dit het ons net weer laat besef wat geluk is en dat jy die vreugde van menswees moet vier. Ons kon nie iets beters gedoen het nie.
Ek het vir die spelers ’n briefie geskryf om dankie te sê vir wat hulle gedoen het. Dit het vir ons soveel beteken.
Jy leef jou heeltemal in in die rolle wat jy vertolk en word as ‘t ware daardie mens. Hoe berei jy jou voor?
Ek dink nie ek het spesiale insig in die kollektiewe onbewuste nie, ek stel net regtig in mense belang, veral die mense waaroor ons sterk menings het, soos dié wat ons dink regtig boos is. Ek wil weet hoe daardie koppe werk, hoe dit voel om hulle te wees. Ek weet hoe dit lyk, maar ek wil weet hoe dit vóél. As jy in die algemeen ondersoek instel na hoe dit is om iemand met sterk menings te wees, kom jy op misteries en teenstrydighede af. Dit maak hulle mensliker. Dit gaan alles oor om mense in hul driedimensionele vorm te verstaan. Dis my akteursbelangstelling.
“Ek dink nie ek het spesiale insig in die kollektiewe onbewuste nie, ek stel net regtig in mense belang”
Wat is jou verhouding met die modeontwerper, Valentino?
Ek is mal oor hom. Hy maak altyd vir my uitrustings vir mediageleenthede, want ek is nie ’n modemens nie. Ek verstaan dat dit belangrik is vir my werk om goed te lyk, en hy help my daarmee. Hy is ’n genie en doen alles self – dink net aan wat hy alles moet doen – hy dek selfs die perfekte tafel. Ek weet nie hoe hy dit regkry nie. Dalk omdat hy nie vier kinders het nie? (lag).
Jong meisies is vreeslik begaan oor hul voorkoms. Jy het vier dogters, hoe hanteer jy dit?
Ek moet bieg dat ek nie heeltemal objektief is as dit by my dogters kom nie. Hulle lyk vir my fantasties in enigiets, selfs in T-hemde. Hulle is so mooi, maar hulle is natuurlik nooit tevrede met hoe hulle lyk nie. Dalk is dit maar net die menslike aard, maar ek glo dat modetydskrifte dié ingesteldheid versterk. Ek onthou hoe ontoereikend daardie bladsye my op daardie ouderdom laat voel het. Ek sê altyd vir hulle dis wat hulle met hul lewe doen wat belangrik is, en nie hoe hulle lyk nie, maar dis moeilik in ’n kultuur wat baie waarde aan voorkoms heg. Ek probeer dit teenwerk deur onder meer met hulle te gesels oor wat in die wêreld aangaan en beklemtoon ander waardes. Gelukkig beweeg almal mettertyd uit hul adolessensie en ontluik in mense wat nie ’n obsessie met hul porieë het nie. Dit gebeur gelukkig net.
Wat is jou drie gunstelingkledingstukke?
’n Sekere paar denims, ’n hemp en ’n baadjie-affêre met ’n lekker snit. Ek het selfs nog goed uit my universiteitsdae wat my dogters graag uit my kas steel, want hulle dink dis vintage en oulik. Ek gee darem nie om nie, want dit pas my in elk geval nie meer nie.
As vroue in ’n magsposisie is, geld dieselfde standaarde vir hulle as vir mans?
Ek dink nie so nie. Stel jou voor ’n magtige man sê wat ’n sterk vrou sou sê – dikwels gee sy woorde minder aanstoot. Ek dink nie vroue moet hul versoeke in spesiale pakkies toedraai nie, maar my ervaring is tog dat dit nie vir manlike regisseurs nodig is om ’n versoek op ’n spesifieke manier voor te lê nie, maar dat vroue-regisseurs dit moet doen.
“Ek dink nie vroue moet hul versoeke in spesiale pakkies toedraai nie”
Watter soort baas is jy?
Nie ’n baie doeltreffende een nie. Jy kan my assistent vra. Ek is ’n loskop, deurmekaar en besluiteloos. Wanneer ek werk, is ek beslis, maar in ander aspekte van die besigheid is ek nie, en ek dink dis frustrerend vir ander mense (lag).
Lees ook: Hartklop: kykNET se eerste hospitaaldrama-reeks gaan kykers boei