Wat is menstruasie?
Maandstonde, “daardie tyd van die maand”, “kalenderkoors” en “die rooi karretjie” is ’n paar gereelde terme wat gebruik word om menstruasie te beskryf. In werklikheid kom die woord van die Latynse woord vir maand, menses, wat verwys na die frekwensie waarin die meeste vroue bloei – naamlik eenkeer per maand. Dr. Lalloo verduidelik dat die menstruele siklus na ’n reeks hormonale en fisiese veranderinge verwys wat ’n vrou se liggaam op swangerskap voorberei.
“Tydens menstruasie word die baarmoeder voorberei om ’n vrugbare eiersel te huisves. As die eier nie vrugbaar is en jy nie swanger is nie, sal die voering nie nodig wees nie en uiteindelik uitgestort word. Die uitstorting van die uteruswand (voering) is waarna die meeste vroue as hul maandstonde verwys. Die liggaam herstel homself dan om weer vir swangerskap voor te berei. Die siklus herhaal homself op ’n maandelikse basis totdat jy jou menopouse bereik – die natuurlike beëindiging van menstruasie wat gewoonlik in jou laat 40er of vroeë 50er jare plaasvind.”
’n Interessante feit is dat die menstruele siklus gemiddeld tot 400 keer herhaal sal word, totdat ’n vrou haar menopouse bereik en haar menstruasie beëindig word.
Die lengte van elke siklus wissel van vrou tot vrou , maar duur gemiddeld tussen 28 en 32 dae. Tydens die eerste jare van menstruasie sal siklusse heel waarskynlik in lengte verskil en die voorspelbare patroon wat by ouer vroue plaasvind sal dus ontbreek. Volgens dr. Lalloo kan dit enigiets tussen agt en 12 jaar na die eerste maandstonde neem om gereeld te ovuleer, al vind siklusse gewoonlik binne twee jaar na die eerste maandstonde meer gereeld plaas.
“Dit sou onmoontlik wees om te voorspel watter siklusse ovulasie bevat en watter nie, so dit beteken dus nie dat jong tienermeisies tydens die eerste jare minder vrugbaar of selfs onvrugbaar is nie.”
Wat gebeur tydens menstruasie?
Volgens dr. Lalloo word jou menstruele siklus in vier fases verdeel:
Fase 1: Die liggaam bedek elke maand die baarmoeder met ’n slymvlies ter voorbereiding op ’n bevrugte eier.
Fase 2: Hierdie fase staan bekend as ovulasie. ’n Eier word van een van die eierstokke losgemaak voordat dit in een van die fallopiese buise plaasneem om na die baarmoeder te beweeg – wat ’n paar dae mag neem. Party vroue ervaar ligte pyn gedurende ovulasie, maar die meeste vrou is onbewus van die verandering.
Fase 3: Indien die eier ’n spermsel ontmoet op pad na die baarmoeder, kan jy swanger raak. Indien nie, sal die liggaam daarvan kennis neem en dadelik van die slymvoering ontslae raak en die onvrugbare eier en vloeistowwe verwyder.
Fase 4: Die maandstonde vind plaas en jy begin bloei.
Emosionele gereedheid
Volgens Bright hang ’n jong vrou se “gereedheid” om te begin menstrueer af van die hoeveelheid voorbereiding wat sy van haar ouers of versorgers ontvang het. “As ’n jong meisie nie bewus gemaak word van haar liggaam se veranderinge of die idee van menstruasie nie, kan haar eerste maandstonde traumaties wees. Sulke trauma word nie maklik verdryf nie en dit kan haar gevoelens teenoor haar liggaam, seksualiteit asook reproduktiewe siklusse bederf. Dit is dus belangrik dat sy goeie raad vanaf ’n vroeë ouderdom ontvang.”
Bright glo ook dat ouers veronderstel is om die idee van menstruasie met hul dogters te bespreek, selfs al kan dit op ’n ingewikkelde en ongemaklike gesprek afloop. Dit gebeur te veel dat ouers van skole verwag om hul dogters oor menstruasie in te lig. “Ek sou ouers aanmoedig om, indien nodig, professionele raad op te soek, maar om te volhard en deur hul eie ongemaklikheid te werk ter wille van hul dogter se langtermyn emosionele en fisiese welsyn.”
Die eerste menstruasie kan ’n opwindende tydperk vir ’n jongmeisie wees, indien dit reg hanteer word. “As die proses behoorlik verduidelik word, kan daar ’n mate van trots ontstaan wat hand-aan-hand met hierdie tydperk gaan, asook verhoogde selfbeeld en bemagtiging. Ouers moet hierdie aspek van ’n tiener se ontwikkeling aanmoedig en ook belangrike kwessies soos seksuele bewuswording, vrugbaarheid, gesinsbeplanning en natuurlik HIV/Vigs met hul dogter bespreek,” sê Bright.
Belangrike wenke: Menstruasie, higiëne en gesondheid
• Vaginale afskeiding (die deursigtige of effens melkerige afskeiding), is normaal. Dit moet egter nie ’n slegte reuk bevat of irritasie of ’n gejeuk veroorsaak nie. Indien dit wel gebeur, moet jy jou dokter spreek aangesien dit op ’n infeksie kan dui.
• Vervang gedurig jou onderklere en sanitêre beskerming om te voorkom dat bakterieë broei en infeksies ontwikkel. “Dra verkieslik katoenbroekies aangesien die materiaal “asemhaal” en maklik droogword,” stel dr. Lalloo voor. “Dit word ook aanbeveel dat jy jou doekie elke vier tot vyf uur omruil om meer vogtigheid te voorkom.”
• Indien moontlik, vermy klere wat baie styf sit soos sykouse, sintetiese kouse (leggings) of kamaste. Hierdie tipe klere kan veroorsaak dat jy uitermatig sweet, wat dan die kans op infeksies verhoog omdat jou liggaam nie in staat is om asem te haal nie.
• Beoefen goeie badkamer-higiëne. Was altyd jou hande voor én nadat jy die toilet gebruik het.
• Besoek ’n ginekoloog sodra jy seksueel aktief raak, tensy jy met ander probleme soos pynlike maandstondes of swaar bloeding sukkel. “Dit is noodsaaklik dat jy verstaan hoe jou liggaam werk,” sê dr. Lalloo. “Jy is nie veronderstel om jou maandstonde vir ’n lang tydperk oor te slaan tensy jy swanger is nie. Jy kan egter jou periode van tyd tot tyd vir verskeie redes oorslaan, soos byvoorbeeld ’n sist. Maar, as jy vir langer as ses maande jou periode oorgeslaan het, moet jy jou dokter besoek.”
• Een van die beste maniere om “vars” en beskermd te voel, is deur die gebruik van goeie sanitêre produkte.