Deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf
Foto’s van renosters wat wreed afgemaai word vir hul horings is algemeen op sosiale media. Maar wat word van ’n renosterkalfie wie se mamma leweloos en vermink daar lê? So ’n renostertjie is weerloos, verward, getraumatiseer, honger, gedehidreer en soms sélf deur die wilddiewe verwond.
Gelukkig is daar mense wat ingryp waar spesies of individuele diere bedreig word. Drie episodes van The Wild Ones – die uitstekende MNet DStv-reeks oor diere in hul natuurlike habitat wat nou vertoon word – handel oor die wêreld se heel eerste renosterweeshuis in Limpopo. The Rhino Orphanage is ses jaar gelede deur Arrie van Deventer gestig. Elke wesie wat inkom, word met ongelooflike liefde deur die span van drie permanente en drie vrywilliger-“mammas” verwelkom en versorg.
Die band tussen mensmammas en renosterbabas
“Dis verstommend dat die renosterwesies ons ná slegs ’n kort tydperk by die weeshuis ten volle vertrou, ten spyte van al die trauma waardeur hulle is,” sê Yolande van der Merwe, versorger en dag-tot-dagbestuurder by The Rhino Orphanage. “Dis ménse wat hul mammas vermoor het, en party van hulle was teenwoordig by die aaklige dade. Tog word ons as mense hul nuwe bestaan. Dit hou jou voete nederig op die grond.”
“Die oomblik dat jy daai oë sien, weet jy jy’s klaar verlief,” sê Janie van Heerden, permanente versorger. “Hulle het net daardie gesigsuitdrukking wat sê hulle is spesiaal.”
“Die renosters verras jou elke oomblik van die dag en is so anders as ander diere,” voeg Emma de Mamiel, Australiese vrywilliger, by. (Emma is op die hooffoto te sien.)
“Hulle is groot, maar ook teer en sag,” sê Tamara van Vugt, vrywilliger uit Nederland. “Hulle kan jou maklik seermaak, maar is so versigtig en bewus van die mens se broosheid.”
“Dis ongelooflik hoe sterk hul persoonlikhede kan wees en ook hoe hulle van mekaar verskil. En hulle kan baie komies wees, asof hulle ’n sin vir humor het,” beskryf Helene de Koster, Belgiese vrywilliger, haar band met die renosters.
“Hulle is massiewe diere maar ongelooflik saggeaard. Dit lyk asof hulle enigiets in die lewe kan weerstaan, maar hulle is só broos,” sê Zanre van Jaarsveld, versorger.
Al lyk renosters vir party mense soos groot, grys diere wat maar net daagliks hul gang gaan, leer jy by The Rhino Orphanage hoe intelligent en sensitief hulle is, en in watter mate hul trauma soos mense ervaar en verwerk. “Op die perseel mag niemand rook nie,” sê Yolande. “Party renostertjies raak die kluts kwyt wanneer hulle sigaretrook ruik, soveel so dat hulle teen mure vashardloop. Ons vermoed die wilddiewe rook terwyl hulle die ma se horing verwyder; die wesies, wat dikwels alles moet aanskou, vereenselwig sigaretrook waarskynlik met daardie ondenkbare toneel.”
Arrie vertel hoe emosionele trauma selfs tot gevolg het dat die kalfies grond eet, met uiters nadelige gevolge vir hul spysverteringstelsel.
Wat die wesies nodig het
“Buiten die konkrete noodsaaklikhede soos melk, ’n warm kombersie en byvoedings, het die wesies ’n plaasvervanger vir hul moeder nodig. Renostertjies spandeer elke minuut van die dag saam met hul moeder. Hulle is nooit van haar geskei nie. Daarom het hulle dieselfde van ons nodig: iemand by hulle 24 uur per dag, sewe dae van die week. Hulle kort ’n intense verbintenis, leiding, liefde, aanraking – ’n moederfiguur,” verduidelik Yolande.
“Wanneer ’n nuwe wesie inkom, is ons eerste missie om hulle sover te kry om te drink. Dis veral moeilik wanneer hulle baie klein is, en party vat baie lank om ons en die bottel te aanvaar. My grootste vreugde is wanneer jy daardie eerste suiggeluide hoor en sien hoe die laaste melkies uit die bottel verdwyn. Dan weet jy jy is die eerste berg oor. Dit bring elke keer ’n knop in my keel.”
In die episodes oor The Rhino Orphanage in The Wild Ones sien jy hoe die meisies maar altyd bloukolle en kneusplekke het – hulle bly nie net daglank by die renosters nie, maar slaap ook snags op matrasse by die wesies. En hulle moet wakker slaap om nie onder ’n renostertjie te beland nie! Wanneer die wesies renosterdinge doen soos stap, hardloop, speel en in die modder rol, raak die spelery ook soms rof.
Die mediese behandeling van sommige wesies kos derduisende rande. “Die laaste ding wat jy moet doen wanneer jy oor ’n mediese ingreep moet besluit, is om somme te maak,” sê Arrie. “Dit wat nodig is, moet eenvoudig gedoen word in die vertroue dat weldoeners dit moontlik sal maak. Ons is van skenkings afhanklik vir veeartsenydienste en ander mediese kostes, die voer en vervoer van die kalfies, salarisse, ensovoorts.”
Werksure
Yolande verduidelik: “Die permanente personeel werk normaalweg op ’n siklus van drie weke aan en een week af, en op 24 uur-skofte: 24 uur aan en 24 uur af. Maar met ’n nuwe wesie is daar geen skedule of siklus nie. Almal werk 24 uur per dag tot die nuwe diertjie gestabiliseer is. Ons werk maklik 48 uur aanmekaar met net twee of drie ure slaap. Almal ondersteun mekaar; party dra koffie aan vir die personeel wat die kalfie stabiliseer, maak kos, berei melk voor of versorg die ander wesies.
“Die eerste drie tot vier dae ná ’n betreklik gesonde nuweling se aankoms is baie intensief. En as daar groot mediese komplikasies is, kan dit weke lank so aanhou. Vrywilligers is hier vir ’n minimumtydperk van drie maande en ons probeer hulle minstens een afdag per week te gee, maar die meeste van hulle gee nie om om elke dag uit te help nie.
“Ons is elke drie maande effektief ’n nuwe span, meestal met uiteenlopende nasionaliteite, kulture en sienswyses. Gelukkig het ons een ding in gemeen: ons passie. Ons almal dra die diere se sorg in ons harte. As ’n span kan ons enige uitdaging wat die renosters na ons kan toe gooi, hanteer. Ons word soos familie.”
Uitdagings
Yolande: “Om my emosies te beheer, daai mamma in my wat elke renostertjie wil red. Ongelukkig kom ’n klein aantal wesies in so ’n slegte toestand hierheen dat hulle nie gered kan word nie. Dan moet menslike emosies terugstaan sodat die beste ding vir die diertjie eerste kom – hoe moeilik dit ookal is.”
Janie: “My grootste uitdaging is om te weet wat elke renoster wil hê: wat hulle seermaak of gelukkig maak.”
Emma: “Om ná drie maande terug te gaan na die werklikheid en totsiens te sê aan die wesies met wie ons sulke hegte bande gebou het.”
Tamara: “Om huis toe te gaan en op sosiale media te sien hoe hulle grootword, instede daarvan om elke dag deel te wees van hulle groei.”
Helene: “Om die wesies te sien grootword met die wete dat iemand hul mammas kon vermoor en hulle leed kon aandoen. Die vraag is ook hoe veilig hulle buite in die veld gaan wees met die hele stropery.”
Zanre: “Om die eerste nag saam met die wesies te spandeer en te sien hoe hulle rondloop en hul mammas roep. Dis pynlik. Of om te sien hoe hulle nagmerries kry.”
Die doelstelling
Die langtermyndoel is om elke renosterkalfie groot te maak en uiteindelik in ’n geskikte omgewing vry te laat. Dit kos fyntrap om die renosterwesies die sorg van ’n “mamma” te laat ervaar, maar hulle nié ‘n blinde vertroue in die mens te gee nie. “Hulle moet ’n gesonde vrees vir mense behou,” verduidelik Yolande. “Ons is bly wanneer hulle weghardloop wanneer hulle vreemdelinge sien, anders loop hulle die gevaar om ’n maklike prooi te word vir stropers wanneer hulle in die veld vrygelaat word.”
Die kalfies word aangemoedig om tipiese renosterdinge te doen soos om te hardloop, te wei, in die modder te rol, teen bome te krap – in die episode wat met The Rhino Orphanage te doen het, word die pret wat hulle het mooi uitgebeeld.
“Ons groepeer altyd twee of meer renosters van dieselfde ouderdom saam – selfs wit en swart renosters – sodat hulle hul eie “gesin” het en nie oorafhanklik raak van mense nie.”
Die mammas se grootste vreugdes
Yolande: “Daardie eerste bottelvatslag is vir my die grootste geluk en triomf. En my beste herinneringe is aan die kere wanneer ons saans halfelf saam op die sement voor die nagkamer aandete eet; iemand moet altyd by ’n wesie bly. Al is ons pootuit en al het ons net drie ure slaap ingekry, gesels en lag ons en maak ons grappies.”
Janie: “Om uit te vind wat hulle nodig het en te sien dit maak hulle gelukkig. En wanneer hulle baie klein inkom, en jy kan hulle help grootmaak en help gesond word en hulle tot op ’n goeie plek bring – dit maak jou trots!”
Emma: “Om elke positiewe mylpaal waar te neem, elke stap na volle rehabilitasie, van hul eerste bottel en stap in die bos tot spening en terugkeer na die veld.”
Tamara: “My grootste vreugde is daai eerste uitbarsting van energie nadat hulle ’n siek of aanpassingsperiodie beleef het – die eerste spelerige naellope in die pad af, of die “renoster-hoppies” wanneer hulle speel.
Helene: “My beste oomblikke is die stappies in die bos, die kosbare tydjies waarin jy hulle as renosters beleef, nie net as wesies nie.”
Zanre: “Om te sien hoe die renosters weer vrygelaat word in die veld. Dis die lekkerste gevoel van trots om te weet jy het ’n aandeel daaraan gehad.”
“Dis vir ons elkeen ’n absolute voorreg en trots om deel te wees van The Rhino Orphanage, al is ons reis hier ook baie emosioneel,” sluit Yolande af. En soos Arrie dit stel: “Onvoorwaardelike liefde genees. En dit oorwin alles.”
Meer inligting by www.therhinoorphanage.co.za
“The Wild Ones” is vervaardig deur Homebrew, die talentvolle plaaslike vervaardigingspan.