‘Menskos’ wat giftig is vir honde deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: pixabay
Hier is ’n lys van dinge wat algemeen in ons kombuiskaste voorkom, maar taboe is vir honde.
Hierdie kosse kan ’n uiteenlopende klomp gevolge hê: van asemhalingsprobleme, bloedarmoede, braking en diarree tot lewerskade, nierversaking en die dood:
- Die kunsmatige versoeter xylitol (wat dikwels in dieetkos, winkelkoekies, kougom en selfs tandepasta voorkom)
- Avokado
- Alkohol
- Uie en knoffel
- Kafeïen (in gaskoeldranke, energie-drankies, sekere medisyne én koffie en tee)
- Druiwe en rosyne (dit kan nierversaking veroorsaak)
- Makadamianeute
- Sjokolade
- Te veel sout (soos in southappies of biltong – dit kan selfs lei tot epileptiese aanvalle).
Vermy ook:
- Bene en vet
- Vrugte met pitte (peer- of perskepit bevat byvoorbeeld sianied, wat dodelik kan wees, en ander pitte kan dermobstruksie of – irritasie veroorsaak).
Appel, piesang, lemoen en waatlemoen is wel gesonde vrugtebederfies vir honde, maar moet dit nie oordryf nie en verwyder eers alle pitte.
#rrWenk: Moenie vir jou hond medisyne gee wat vir mense bedoel is nie, tensy jou veearts uitdruklik gesê het dit kan in ’n noodgeval gebruik word. Iets soos ibuprufen (in pynmiddels) kan dodelik wees.
Onthou!
Kom so gou moontlik by ’n veearts uit as jy vermoed jou hond het iets giftigs geëet, of dit nou op hierdie lysie is of nie.