Skep die sorbet in vonkelwynglase en giet die vonkelwyn versigtig daaroor.
Drink dadelik.
Suurlemoensorbet is heerlik saam met ’n droë vonkelwyn en bessiesorbet lekker saam met ’n rosévonkelwyn.
Prettige jellies
Jellie is nie net vir kinders nie. Maak ’n lekker mengeldrankie aan en set dit met gelatien in ’n plat glas- of vlekvryestaalbak.
Sny vormpies met ’n koekiedrukker uit, of sny in blokkies.
Ons het ’n paar lappies goud- of silwerblaar in die jellie laat set om dit nog vroliker te laat lyk.
Gebruik 500 ml van jou gunsteling-mengeldrankie.
Vir 500 ml (2 k) vloeistof gebruik 20 ml (4 t) gelatien en los dit op in 125 ml warm vloeistof (gebruik die sap van die mengeldrankie en verhit dit in die mikrogolf).
Voeg dit by die 375 ml vloeistof.
Bessie-ysies
Verpulp sowat 500 g vars bessies en 30 ml (2 e) suiker. Vries dit in ysbakkies met oulike vorms en maak jou mengeldrankies ’n bietjie opwindender.
Somersangria
Maak ’n groot beker van dié heerlike sangria vir jou Kerstafel.
Meng 1 bottel (750 ml) vrugtige witwyn met 250 ml (1 k) bessiesap en 250 ml (1 k) sodawater.
Sny ’n suurlemoen in dun skyfies en voeg by.
Sit laastens ’n hand vol skoon kruisementblare en gekapte ys in die beker.