Melisizwe Plaatjie: Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg! deur Zoë Salzwedel. Foto’s verskaf.
Melisizwe het ’n droom gehad om ná matriek musiek te gaan studeer, maar het gesukkel om universiteitstoelating te kry. Hy het homself leer klavier speel deur pop- en jazz-klavierlesse op YouTube te kyk. Tot en met 2017 was die videokanaal sy enigste leermeester. Maar alles het verander toe hy vanjaar vir ’n sertifikaatprogram in musiek aan die Universiteit van Stellenbosch aanvaar is.
En nou spog Melisizwe met die Albert Engelprys! Die Albert Engelprys gee aan studente uit meestal voorheen benadeelde omgewings die geleentheid om instrumentale en teoretiese onderrig in musiek te ontvang, en moontlik hulself vir ’n BMus-graad in te skryf. Dié prys is deur die wyle Albert Engel, ’n dosent in koperblaasinstrumente en dirigent van die Stellenbosch Simfoniese Blasers, begin. Ná sy heengaan in September 2003 is Albert se droom voortgesit toe daar besluit is om ’n jaarlikse prys in sy naam in te stel. Die prysgeld van R20 000 word toegeken vir die student wat die meeste ywer toon, wat bo slegte omstandighede uitstyg en die beste gebruik maak van die geleentheid om musiek aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.
Soos ons verstaan het jy eers op 16 jou liefde vir klavier ontdek. Hoekom het die klavier spesifiek jou aandag getrek? En waarom het jy besluit dat jy graag op 16 wil leer om klavier te speel?
Die klavier is ’n baie mooi instrument, so sy prag het my oog gevang, want ek hou van mooi skeppings. In graad 10 moes ek kies tussen twee instrumente – die klavier en die blokfluit. Ek het die klavier gekies omdat dit mooi is, maar toe later besef dat dit meer kan doen as om net mooi te lyk, en dat ek graag meer wil weet oor hoe dié instrument werk.
Wat is jou motto in die lewe, en hoekom?
My motto is “wie nie saai nie, sal nie maai nie”. In die lewe kan jy nie net verwag dat alles skielik na jou kant toe moet kom sonder dat jy 100% jou kant gebring het nie. Dit is amper soos om na ’n bank toe te gaan om geld te gaan trek, maar jy het self geen geld belê nie.
Wat geniet jy die heel meeste van jou vaardigheid om musiek te skep?
Ek geniet dit baie om te improviseer. Improvisasie leer jou om op jou voete te dink en om jouself te vertrou. Wanneer jy improviseer maak jy net daar op dáárdie oomblik musiek, en jy het nie kans om oor te begin as jy foute gemaak het nie. Jy moet net jou eie oordeel vertrou – en dit pas ek op my eie lewe ook toe.
‘Klavier is een van die heel moeilikste instrumente om te leer speel …’ Stem jy saam?
Ja, ek stem 110% saam! Dit is beslis een van dié moeilikste instrumente om te leer speel, en verg baie geduld. Ek onthou toe ek vir die eerste keer die C majeur toonleer leer speel het en dit nie kon regkry nie. Dit het soos die einde van die wêreld gevoel, want ek het nie die nodige geduld gehad nie.
Jy het jouself leer klavier speel deur pop- en jazz-klavierlesse op YouTube te kyk, en het tot en met 2017 geen ander leermeester gehad nie. Het jy dit nie moeilik gevind om op dié manier klavier te leer speel nie? Wat was vir jou die grootste uitdaging hiervan?
Nee, op daardie stadium het ek nie gedink aan hoe moeilik dit is nie – ek wou net leer hoe om te speel, en ek sou enigiets doen om te kan leer klavier speel. Om eerlik te wees, het ek dit eintlik nogal geniet. Vir my was die grootste uitdaging die feit dat ek nie ’n klavier by die huis gehad het nie. (Ek het steeds nie een wat ek myne kan noem nie).
Ek was op George Hoërskool, maar het smiddae na skool by my ou laerskool, St Mary’s Primêr, klavier gaan oefen terwyl ek vir my vervoer gewag het. Die klavier was Mnr. Deyce, die waarnemende skoolhoof van St Mary’s, s’n. By die huis het ek klawers op ’n stukkie boks geteken en daarop geoefen sodat ek nie vergeet wat ek die middag by St Mary’s gespeel het nie.
Nog ’n uitdaging was dat ek nie geweet het of ek op die regte spoor is nie, want ek moes net op my eie opinie en kennis staatmaak om te vorder.
As jy enige raad aan ander jongmense met musiekdrome kan gee, wat sou dit wees en hoekom?
Oefen baie hard! Gee 200% in alles wat jy doen en moet nooit tevrede wees met waar jy nou musikaal is nie, want jy kan áltyd verbeter. Bly jouself – daar sal altyd mense wees wat beter is as jy, maar hulle sal nooit jy kan wees nie. En glo in jouself.
Jy is vanjaar vir ’n sertifikaatprogram aan die Universiteit Stellenbosch aanvaar. Wat was vir jou die grootste aanpassing gewees tussen YouTube- ‘lesse’ en universiteitsklasse? En wat geniet jy die meeste van jou lewe as student aan die US?
Vir my was die klaviertegnieke wat ek nuut moes aanleer, wat YouTube-lesse nie gedek het nie, een van die grootste aanpassings gewees. Nog iets was dat daar nou ’n persoon in lewende lywe is wat my leer en al my foute korrigeer, maar meer nog, dié persoon dryf en “drill” my om beter en beter te raak.
Ek geniet die weeklikse praktiese lesse wat ek by my dosent, Throy Petersen, ontvang en die musiekteorie wat aangebied word. Ek tree ook gereeld op in Stellenbosch, asook by die Universiteit van Stellenbosch en ek geniet dit verskriklik baie! Daar is hope geleenthede by Universiteit Stellenbosch!
Jy is onlangs met die Albert Engelprys bekroon vir jou ywer en hardwerkendheid. Hoe voel dit om uiteindelik vir jou harde werk beloon te word?
Ek voel ongelooflik bevoorreg, want ek weet hoe hard ek gewerk het om dit te verdien. Ek het elke keer 110% gegee in alles wat ek doen. Die lang ure van sit voor die klavier om musiekstukke uit te werk, die hope klavierlesse en die middernag-oefensessies saam met my dosent het my gehelp om uitstekende werk te lewer. Dit is vir my ’n groot eer om die wenner van die ATKV-Albert Engelprys vir 2018 te wees.
Wat is jou planne vir 2019?
Ek gaan in 2019 inskryf vir die Hoër Sertifikaat in Musiek by die Universiteit van Stellenbosch en net my beste gee sodat ek kwaliteitwerk kan lewer en uitstaande uitslae kan ontvang.
Wie inspireer jou, en hoekom?
Mnr. Nduduzo Makhathini, ’n jazz-pianis, komponis en improviseerder, inspireer my. Sy musiek praat op verskillende vlakke met my en Nduduzo sê altyd dat een van sy doelwitte as pianis is om mense deur musiek te genees – en dit is presies wat ek ook wil doen. Die musiek wat ek maak moet mense van hul probleme laat vergeet, al is dit net vir ’n kort tydjie, en ek wil hulle saamneem op ’n rit deur my gedagtes en gevoelens. Nduduzo Makhathini se musiek gee my hoendervleis en ek hoop om dieselfde gevoel aan my gehoor te gee wanneer ek optree of wanneer hulle eendag in die toekoms in hul huise na my musiek luister.