Deur Margaret Gardiner
Ek is 45 jaar gelede as die eerste Suid-Afrikaanse Mej. Heelal gekroon. Amper 37 jaar moes verbygaan voordat ’n Suid-Afrikaner, Demi-Leigh Nel Peters (nou Tebow), weer gekroon sou word en deur Zozibini Tunzi twee jaar later opgevolg is.
In ’n wêreld waarin ons ras- en geslagsgelykheid ondersoek, voel baie (soos hulle ook het die jaar toe ek gewen het) dat skoonheidskompetisies vroue uitbuit. Daar is ’n voortslepende debat oor vroue wat voor mans geparadeer word sodat hulle na die vroue kan staar en hulle op hul uiterlike kan oordeel. Dit skep die opvatting dat enige vrou wat aan hierdie kompetisie deelneem dan nie baie slim kan wees nie, want wie sal kies om hulself so te verkleineer?
Vir dié wat kies om hul land internasionaal te verteenwoordig en vir ’n jaar ’n platform te kry om ’n kwessie onder mense se aandag te bring, is tien minute op die verhoog in ’n swembroek, glad nie uitbuiting nie. Dis ’n geleentheid om te gebruik soos jy wil.
Meeste swemklere vandag (dis nou dié wat op strande gesien word) bied heelwat minder bedekking as wat op die verhoog gedra word. Die prysgeld, aansien en kontakte bied aan deelnemers ’n manier om hul doelwitte te bereik.
Mense gebruik hul liggaamlike vermoëns om in byvoorbeeld sport uit te blink, en hulle oefen hard vir kompetisies. Die skoonheidskompetisie kan in dieselfde lig beskou word. As jy ’n gawe vir syfers het en daardie gawe gebruik, dit slyp en dit benut, is niemand agterdogtig daaroor nie omdat jy jou kop gebruik. “Skoonheidskoninginne hoef net mooi te lyk,” word daar herhaaldelik gesê. Hulle is soos koeie by ’n basaar.
Ek dink nie enige skoonheidsdeelnemer wat op ’n nasionale vlak meeding, voel soos ’n koei nie. Ek weet die onderhoudsproses vra vrae en lok gesprek uit wat vir seker die gewone mens stof tot nadenke sal gee. Wanneer jy weer ’n paar gaste vir ete oornooi, vra jou gaste gerus dalk een of twee van hierdie vrae wat hierdie jong vroue moet antwoord, en kyk hoe goed vaar hulle. Hierdie nasionale verteenwoordigers, pragtig en fiks, onderskei hulself in die manier waarop hulle hul onder druk handhaaf en hulle hul in verskeie velde bekwaam.
Ek was 18 toe ek gewen het. Ek het sedertdien ’n BSci in sielkunde verwerf en in verskeie velde, van televisie tot openbare betrekkinge en vrouestudies, beweeg. Ek het deur al die jare en in al hierdie velde nog nie vroue teëgekom soos dié by skoonheidskompetisies nie.
Tydens die Mej. Heelal-skoonheidskompetisie in New Orleans, het een van die bestuurders die skoonheidswenner beskryf en gesê “haar natuurlike selfvertroue loop omtrent oor”. Ek het agt voormalige deelnemers by die 2023-skoonheidskompetisie raakgeloop en ek het gemerk hoe hierdie vroue ander aanmoedig, hoe gaaf hulle is en hoe hulle hulself volgens hul behoeftes verwesenlik het. Hulle was op ander mense gefokus, sosialiseer graag en het iets vir hulself bereik. Nie een het oor hul voorkoms gepraat nie.
Dis interessant, want in Amerika is dit asof almal met hul voorkoms behep is. Hoewel ons in ’n wêreld leef wat neerkyk op enigiemand wat in ’n skoonheidskompetisie deelneem, word daar steeds soveel energie bestee aan hoe ons lyk. Hoe om dunner, jonger en mooier te wees. Wat om aan te trek, watter produkte om te gebruik en wat om te eet. As jy deur die gemiddelde toonaangewer (influencer) se Instagramblad kyk, het hulle gewoonlik maar baie min klere aan!
As jy, soos ek, gereeld na rooitapytgeleenthede gaan, sien jy sterre wat sulke deurskynende klere dra dat hulle netsowel in hul onderklere kon geloop het.
So, wie is eerliker? Die vrou wat besluit om aan ’n kompetisie deel te neem met die gawes waarmee sy gebore is en so geleenthede na haar kant toe te bring en kontakte op te bou om haar drome te verwesenlik? Of die vrou wat sê sy stel glad nie belang daarin om haar uiterlike vir ’n wedstryd so ten toon te stel nie, maar ander vroue krities beoordeel op grond van wat hulle dra en hoe hulle lyk. En tog hou sy nie van die weerkaatsing wat sy in die spieël sien nie.
Tydens Mej. Heelal 2023 kon ek sien hoe ons asemrowende Mej. Suid-Afrika, Ndavi Nokeri, haar land met trots kon verteenwoordig. Ek het by die veiligheidspersoneel verbygeglip en ek het haar agter die verhoog tydens repetisies gevind. Sy’t my herinner dat ons voorheen ontmoet het. Ek het haar tydens ’n vorige Mej. Suid-Afrika opgemerk. Haar naam was nie geroep nie en ek het vir haar gefluister: “Probeer weer.” Sy het en sy’t gewen.
Baie mense gee op wanneer hul droom nie waar word nie. Die les wat Ndavi byvoorbeeld deel is om die moed te hê om jou droom op ’n ander manier na te jaag en te sien of jy nie dit dalk dan bereik nie. Dit is wat Ndavi my aan herinner het. Ek het opgestaan en soos ’n kind begin gil toe haar naam vir die top-16 uitgeroep is. Ek was daar. Ek weet hoeveel werk en moeite dit werklik kos.
Ek het ook gesien hoe ’n ma op die verhoog stap en oor haar dogter, Cheslie Kryst, Mej. VSA 2019, treur. Haar storie gaan oor ’n kwessie wat almal in die samelewing raak: Die geweldige druk op ons geestesgesondheid.
Cheslie het op 30 Januarie 2022 van ’n 60-verdiepinggebou in New York afgespring. Sy was ’n prokureur. Sy en Zozi het ’n woonstel gedeel toe Zozi Mej. Heelal gewen het. Zozi het ’n huldeblyk op Cheslie se Instagramblad tydens die herdenking van haar dood geplaas.
Ek en April Simpkins is sonder enige agtergrond aan mekaar voorgestel. Hierdie treffende vrou lyk soos ’n skoonheidskompetisie-wenner: Sy loop met ’n snaarstywe rug en haar ken is hoog gelig. Ons het in dieselfde limosien gery en ook in dieselfde hotel gebly. Dit was eers tydens die repetisie toe sy haarself saggies verskoon het en sy na die verhoog gelei is terwyl foto’s van haar dogter op die skerm agter haar vertoon is dat ek besef het sy is Cheslie se ma. Die Mej. Heelal-skoonheidskompetisie het besluit om Cheslie te vereer en het ’n boodskap na hul wêreldwye gehoor gestuur, naamlik soek hulp wanneer jy ’n emosionele krisis beleef. In Amerika praat hulle van iemand se geestesgesondheid.
Wanneer jou been of jou arm seer is, soek jy ’n dokter. Wanneer ons aan die binnekant seer het, is ons skaam oor ons pyn. Hierdie is die lesse wat ek as skoonheidskoningin geleer het: Kyk verby die glimlag, sien die moed en word inspireer deur dié wat bereid is om ’n kans te vat.
Op 63 is daar ’n onderhoud met my vir ’n Mej. Heelal-uitsending gehou. My 18-jarige self sou nooit so iets kon droom nie. Mej. VSA het gewen. Ek kon my tipe mense ontmoet en dit het my herinner dat ek nie skaam hoef te wees oor wat ek op 18 bereik het nie.
Die belangrikste is: Ek was geïnspireer deur vroue wat nie toelaat dat ander se oordeel dat hulle minder is omdat hulle ’n bate gebruik, hulle beperk nie. Die Bybel sê as jy jou talente wegsteek, dien jy nie jou doel in die lewe nie. Of iets in daai lyn.
Ek het huis toe gekom met ’n nuwe bewustheid van al die moontlikhede.
Ek is 63. Ek droom steeds. Hoe ongelooflik! Om te droom is om ’n tree in ’n wêreld van moontlikhede te neem. Wat ’n wonderlike gedagte.
Volg Margaret op Instagram!
Lees ook: Mode, sterre en die storm – Margaret Gardiner woon die Golden Globes by