Meerkat Maantuig se skrywer en regisseur, Hanneke Schutte, het die jeugnovella ‘Blinde Sambok’ deur die bekende Suid-Afrikaanse skrywer Riana Scheepers as uitgangspunt gebruik en dit omskep in ’n kinematiese verhaal wat in die wonderlike woude van Magoebaskloof in Suid-Afrika afspeel. Die film Meerkat Maantuig vertel die verhaal van Gideonette de la Rey, ’n vreesbevange 13-jarige meisie wat glo aan haar familie se generasie-vloek en daarom is sy oortuig daarvan dat sy die volgende persoon gaan wees om ’n voortydige dood te sterf. Bang en desperaat kan sy nie van hierdie storie ontsnap wat haar werklikheid defineer nie. Uiteindelik kan sy slegs haar vrese oorkom deur dit in die gesig te staar …
Die eerste vertoning van Meerkat Maantuig het plaasgevind by die 2017 Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad waar die film genomineer is in die kategorieë Beste Kinematografie, Beste Produksieontwerp en Beste Regisseur. Die kinematograaf Willie Nel het die toekenning vir Beste Kinematografie ontvang.
In November 2017 het die film sy Noord- Amerikaanse première by die gesaghebbende Austin Film Festival in Texas gehad. Schutte het die fees bygewoon en sy was oorweldig deur die positiewe reaksie. Die film het soveel aandag getrek dat dit ’n addisionele toegif, of Buzz-toekenning, ontvang het. Meerkat Maantuig het ook wonderlike resensies by die Austin Film Festival ontvang en is ook gelys as die nommer een film op die Amerikaanse filmkritikus Jesse Knight se lys van Top 10 Onuitgereikte Films in die VS. Die film is ook ingesluit in die US Film Bloggers Bill and Bill Movies se lys van top films van 2017 saam met ’n indrukwekkende lys van lokettreffers en Oscar-genomineerdes.
Die film is amptelik geplaas op ’n lys gesogte filmfeeste, insluitend die Austin Film Festival, Oxford Film Festival, Sedona Film Festival in Arizona, The Kids First Film Festival (die grootste kinderfilmfees in die wêreld), The Bay Area Children’s Festival buite San Fransisco, die Omaha Film Festival, Nebraska, die Calcutta International Cult Film Festival en die GUKIFF International Kids Film Festival in Seoul, Korea.
Kyk hier na die amptelike lokprent: