Meer oor Elza Miles. Deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf. Hooffoto Human & Rousseau.
Vrae aan Elza
Watter media gebruik jy in jou werk?
Toe ek nog aan Tukkies studeer het, was my gunsteling media akwatint en litografie. Ek hou ook baie van waterverf (akwarel) en die growwe papier wat ek daarvoor gebruik. Ek het egter die medium verwaarloos noudat ek in jare aanstap.
Die onderwysstudente by die universiteit het lino- en houtdrukke gemaak en ek het my hart op daardie reliëfdrukmedia van hulle verloor (miskien was Munch se litografie, Skreeu, die verleier). Dit is goedkoop en jy kan jou drukke deur middel van lepelvryf kry. Ek het ook geglo kuns moet bekostigbaar wees vir diegene wat nie met bultende beurse loop nie. Trouens, ek glo dit steeds.
Sover kry die kleinkinders elkeen op hul verjaardae ’n hout- of linodruk wat ’n Afrikaanse kinderrympie illustreer.
Dan is ek ook verlei deur olieverf en deesdae hou ek van gemengde media op papier.
Onder meesterdrukker Malcolm Christian van Caversham Press het ek my weersin in seriegrafie (silkscreen) verloor, en by Mark Attwood het ek die blootstelling aan monotipe baie geniet.
Die eerste groepuitstalling waarvoor jy as kurator opgetree het, was “Apartheid was no more” by die Johannesburgse Kunsstigting in 1986. Wat was die betekenis daarvan vir jou?
Ek het geglo so ’n dag sou aanbreek en uitlopende skeppende geeste het meegedoen.
Vertel van jou ervaring as kunskritikus by Rapport vanaf 1972 tot 1976.
By Rapport was ek gelukkig om die steun van Coenie Slabbert te hê. Ek is nerveus wanneer ek by ’n kunssaal instap en soek dan maar die afwykende norm om my woordeskat te prikkel. Ek is baie beslis dat ek glad nie die kunstenaar wil ontmoet alvorens my resensie verskyn het nie.
Vertel van jou betrokkenheid by Taurus Uitgewers se tydskrif, Stet, in die apartheidsjare.
Dit was ’n genot om saam met Gerrit Olivier en Tienie du Plessis te werk. Hulle het my die geleentheid gegee om artikels soos bv dié oor die Venda domba-dans en Christo Coetzee se manifes om die kleinburgery te pypkan, te plaas.
Wat het jou kinders jou geleer?
Op ’n keer het ek en dr. Henk van der Merwe gesels. Hy was ons wonder-huisdokter. Die gesprek het gegaan oor kinders. Ek vertel hom dat ek nie omgee om verwagtend te wees nie, maar my nagmerrie begin as ek met die vreemdeling huis toe gaan. Sy reaksie: “Dit is die rede waarom dié drie sulke eie mense is.”
Paul, die oudste, het toe ek een keer oor ganja uitvra, vir my gesê: “Jy hoef dit nie te rook nie; jy is stoned gebore.”
Karel, die jongste, het my bewus gemaak van my omslagtigheid. Op ’n keer het hy my iets gevra en nog voordat ek my mond kon oopmaak, is die opdrag: “Beantwoord die vraag en moet asseblief nie weer by die Egiptenare begin nie.”
Watter waarde lê jou die naaste aan die hart?
Opregtheid.
Hoe leef jy jou waardes uit?
My ouma Eloff het gesê: “Vee elke dag voor jou eie deur.” By haar het ek ook gehoor: “Onthou, ons het ook groen koring op die land.”
Karel Miles, Elza se jongste seun, vertel
- Ek is lief vir my pa, maar my ma is my gewete – die stem wat inkom wanneer iets opkom wat ek liewer nie moet doen nie.
- Ek onthou hoe sy my in die apartheidsjare, in 1984 se koers, met die ou geel Passat by die laerskool kom oplaai het. Op die voorruit was wisteriablommetjies wat van ons struik geval het, en in die boot omgekeerde plakkate waarmee sy by verkeersligte sou gaan staan en betoog. Self sou ek nou en dan uit die huis glip om iets teen ’n muur te gaan spuitverf, maar om soos sy op die hoek te gaan staan, vat guts. En tog, daai tye wat my pa besitsverbode boeke geskryf en sy op hoeke gestaan het, het ek nooit bang gevoel nie. Ek het so veilig gevoel. Hulle was die magicste couple. Hulle verhouding was rock solid – nou ja, tot dit nie meer gewerk het nie. Alles eindig seker maar.
Nie om teen die muur te hang nie, maar sy hét hom
- Toe my ma betrokke raak by die komitee vir die ouers van aangehoudenes by die St Barnabas College, het ek soms saam met haar vir aangehoudenes by die ou Fort vegetariese kos gevat. ’n Kennisgewing bo die deur het gesê: “Klop net een maal.” Ek was maar versigtig, want alles was vir my ’n bietjie groot. En tog het my ma die mooi uit die bewaarders gelok. Sy het die ménse in daardie sisteem raakgesien. En vir die aangehoudenes wou sy net sê: “Ek is hier, hier is iemand wat vir jou omgee. Hier’s ’n pakkie kos.”
- Net na matriek het ek haar op navorsingsreise na Botswana vergesel. Ek het die ou Mazdatjie bestuur. Wanneer die groot trokke van voor af kom, nip jy mos soms en maak amper jou oë toe. Ek het besef sy hou heeltyd haar sitplekgordel vas. Dit was tense. Sy moes dikwels daai goed alleen doen, maar in hierdie geval kon ek ’n bietjie van die pressure wegvat. Dit was in die tyd toe jy nog nie kon google of met ’n GPS ry nie. Wanneer ons by ’n klein dorpie of stat gekom het, moes ons vra waar iets of iemand was. Soms trust hulle jou, soms nie – jy werk net met word of mouth. Uiteindelik kom ons tuis met die paintings waarna sy gesoek het, nie om teen die muur te hang nie, maar sy hét hom. Nou het sy geweet waar om die stuk te kry vir die oorsigtentoonstelling.
Rika van der Merwe, Elza se goeie vriendin, vertel
- In 1972 of 1973 het Barrie Hough, Elza-hulle se buurman, my aan haar voorgestel. Vir dese Afrikaanse poppie wat groot probleme met die Afrikaanse patriargie gehad het (en steeds het) was sy ’n openbaring. Sy was nie vrou soos konvensie voorgeskryf het nie. Dié Afrikaanse vrou het haar lewe op haar eie terme geleef. Vir my was dit heeltemal bevrydend. Sy sal hieroor lag, maar vandat ek haar ken, het sy nog nooit ’n bra gedra nie.
- Waaroor ons gesels – politiek. Heerlike raserige ontploffings oor alles wat in die land gebeur en in die res van die wêreld aangaan. Ons stem baie keer nie saam nie. Elza sien gewoonlik die mens raak.
- Ons gesels ook oor sielkunde. Filosofie. Ook hieroor stem ons dikwels nie saam nie. Elza glo aan drome en was op ’n stadium ’n Jungiaan. Partykeer dink ek sy het die vermoë om seker te maak sy droom net mooi drome.
- Ons praat oor kuns. Sy’t my baie geleer sonder om te probeer. Hoe om te kyk.
- Elza se kuns is immediate, dis nou. Een keer, toe iemand haar vra watter soort werk sy doen, het sy gesê: social commentary.
- Haar politieke werk is amper oorweldigend. Ek is baie jammer ek het nie meer daarvan bekom nie, veral van die kassies vol vasgepende vlinders wat sy gemaak het – elke vlinder het die naam gehad van ’n politieke gevangene wat in aanhouding dood is.
- Haar navorsing en reise om haar boeke uit te kry was uniek. Land and lives was pionierswerk. So ook haar reis om die Black Madonna van Christ the King in Sophiatown op te spoor. Dit het gelei tot die boek oor Ernest Mancoba, sy terugkeer na sy familie in Alexandria en die wonderlike uitstalling van sy en sy vrou, Sonja Ferlov, se kuns by JAG. Elza was die kurator. Dan was daar haar werk oor Polly Street en Selby Mvusi. Ek onthou togte na Garankua, na verskeie versamelaars en onder andere die kunstenaar Dave Poshoko.
- Ek onthou Elza se moedeloosheid toe ’n versamelaar haar oor ’n Venda kunstenaar se werk geraadpleeg het en geweier het om te aanvaar dat dit met Venda mites en geloof te doen gehad het. Haar moedeloosheid omdat net “naïewe” swart kunstenaars deur die mainstream aanvaar is. Mancoba word byvoorbeeld nooit genoem in retrospektiewe uitstallings nie. Hy is te vreemd. Nie “Afrika genoeg” nie.
- Wat my nog steeds verbaas, is hoe sy kan “afsny” (haar woord) wanneer sy besig is. Sy’s heeltemal in haar eie spasie. En musiek: sy sal daarna luister, maar het dit nie nodig nie.
- Elza het ’n disdain vir pretensie.
- My susterskind, plattelandse kind, vir wie Elza een keer ontmoet het, word wakker in ’n Johannesburgse hospitaal na ’n groot operasie. Daar staan toe ’n gewese – tannie? – langs haar bed met ’n appel in die hand. Elza se empatie. Kind alleen. Vreemde plek.
- Sy haat plastiek en sy recycle van voor ek haar leer ken het. Sy noem haarself ’n sonmens. Sy is ’n bosveldkind.
Elza hou nie van ’n ophef oor haar nie
- Daar is nie verjaardae en feesdae in Elza se wêreld nie. Dis geldmors wanneer daar so baie arm mense is.
- Ons deel ’n belangstelling in lekker rooi wyn. Elza is ’n wonderlike kok. Sy het my altyd verbaas dat sy met ’n paar groente ’n heerlike dis aanmekaar kan flans. My mond hang oop oor haar kennis van plante en kruie wat so terloops uitkom. Sy maal haar koffie met ’n ou handmeul.
- Ons lekkerste inkopieplekkies was in die onderdorp van Johannesburg en ou China Town (Fordsburg) waar sy al die klein winkeltjies geken het. En in Cyrildene waar ons op en af kon loop, en dan verdwyn sy in ’n nuwe plekkie wat ek nie eers geweet het bestaan nie. Hartaanvaltyd!
- Maar sy’s nie ’n saint nie. As sy haar moer strip, dan klap die tong blou strepe op jou boude. Sy het my een keer in ’n gesprek “dinamies” genoem. Later besef ek sy’t my politely vertel ek’s pushy en loud! Dis waar. Sy dink die mense in Johannesburg kan stilte nie hanteer nie. Hulle moet babbel.
- Een aand in die Natalse Middellande sit ons buite na ete. Ons hoor ’n harde geluid. “Watter voël is dit?” vra ek. Elza lyk verbaas. Sy dag dit is ’n fog horn. En ons was ver, baie ver van die see af. Dit was ’n buff-spotted flufftail. Ons lag nog steeds daaroor.