Die vier-ster Graceland-oord is nie net nog ‘n hotel nie, maar ‘n bestemming wat jy nie gou sal vergeet nie.
Die oord bied die volgende: casino asook speletjies vir die jongspan, ‘n 4-ster Peermont Walmont Hotel en meer as een lip leklekker eetplek waarvan Madison’s Bistro se atmosfeer heerlik is. Vir die sportiewes is die Gary Player ontwerpte 18 putjie gholfbaan n groot aanloklikheid. By die gholfbaan is daar ook die Augusta Club Lounge waar jy na ‘n lang dag iets kan eet en drink. Vir diegene wat net wil ontspan, is die nuwe Rootz Boutique Spa ideaal.
Die Peermont Walmont Hotel is ideaal as jy wil wegbreek van die ordinêre. Dit is sowat 130 km van Johannesburg en 160 vanaf Pretoria, glad nie ver vir ‘n naweekblaaskans nie. Boonop word jy warm ontvang as jy by die oord stilhou. Die hotel se kamers is ouwêrelds elegant, maar tog met ‘n gerieflike, moderne inslag. Die mooi houtmeubels laat jou voel of jy ietwat meer kry as wat jy verdien.
Madison’s Bistro en Familierestaurant
Komplimente aan die sjef by Madison’s Bistro met die smaaklike geregte. Die wonderlike wyn en gaskunstenaar het gesorg vir n jolige atmosfeer. Die hoofkelner, Thomas, het ons met ‘n glimlag bedien en ons persoonlik die volgende aand kom groet – die diens het ons waarlik spesiaal laat voel.
Blue Bayou
Ons het ontbyt geëet by Blue Bayou; ‘n buffet met oneindig veel keuses. Heerlike koue vleise, vrugte en verskillende soet en sout happies. As jy van iets warms hou, bou jy jou eie ontbyt soos jy dit verkies. Geskik vir ‘n koning!
Jy kan jouself met die verskillende speletjies van slotmasjiene tot 16 verskillende tafel-speletjies vermaak. Vir dié wat kinders het, is daar ‘n Magic Company en Sweets from Heaven wat hulle vir ure kan besighou. Jy hoef nie bekommerd te wees om die kinders alleen te los nie – die sekuriteit by die oord is tops.
Meer inligting by http://www.graceland.co.za/peermont/content/en/graceland/graceland-home of 017 620 1000