Deur Margaret Gardiner
Masters of the Air klink nogals lofwaardig. Dit veronderstel spoggerigheid en oorheersing. Dié fliek het tot stand gekom danksy dieselfde mense wat Band of Brothers geskep het, naamlik Steven Spielberg en Tom Hanks – en dit is van dieselfde sterk stoffasie gemaak. Spoggerigheid en bravade veronderstel nou weer bietjie kwyl om die mond. Maar daar is niks kwylend aan hierdie intense reeks nie. Die titel verwys na hoe die mans van die 100ste bomgroep daagliks hierdie noodsaaklike vaardigheid moes bemeester. Om te oorleef, moes hulle hulself in gevaar stel om Hitler se honger na opperheerskappy te stuit.
Die rolverdeling bestaan uit ’n nuwe klas van aantreklike akteurs wat nog huishoudelike name gaan word en heelwat toekennings in die toekoms gaan inpalm – mense soos Austin Butler (Elvis), Callum Turner (Emma, The Boys in the Boat) wat tans met die sangeres Dua Lipa uitgaan en Barry Keoghan (Saltburn). Dis die moeite werd om Masters of the Air vir die talent alleen te kyk.
KYK: Margaret Gardiner se onderhoud met Barry Keoghan oor sy rol in die fliek Saltburn.
Wat my egter die meeste opgeval het, terwyl ek die Apple TV+ reeks gekyk het, was die dapperheid van die individue en hoe geweld verdere geweld meebring. Terwyl ek hier skryf, is die Midde-Ooste in ’n wydkringende konflik gewikkel en die Oekraïne veg nou al jare om oorlewing.
Ons raak met ons daaglikse take besig. Watter skoen lyk die beste by hierdie uitrusting? Wat moet ek eet? Hoe moet ek my geld rek om al my behoeftes en begeertes te dek? Dit terwyl onskuldige mense sterf.
Ek is gewoonlik nogal heel opgeruimd, maar Masters of the Air het my ontstel. Dit verbeeld die mans in die Tweede Wêreldoorlog en spesifiek die 100ste bomgroep (oftewel “The Bloody Hundreth”) se lewenservaringe so werklikheidsgetrou. Hulle het groot verliese gely, terwyl hulle strategiese teikens in Duitsland aangeval het om die weg na D-dag te baan. Masters of the Air het heelwat emosie by my opgebring en my baie laat dink. Hier is hierdie jong seuns met wie ons ’n band vorm terwyl ons kyk en dit laat die hoeveelheid mense wat vir die “goeie” gesterf het insink.
Ek is ’n kampvegter vir vroue. Maar wreedheid, ongenaakbaarheid en die vreemde maniere waarop mense ander gebruik sonder gedagte aan gevolge kry my onder. Ek fladder soos ’n voël, wat in ’n toring vasgevang is wanneer ek die sinnelose pyn sien wat mense mekaar toedien sonder om iets te voel nie. Ek is bevrees ek sou dit nie oorleef het om oorlog toe te gaan nie. Vergeet van fisiek. Emosioneel. Die genadelose sterftes sou my laat uitrafel het. En dis belangrik om te merk: Dis die dood van die teenoorgestelde geslag spesifiek waaroor ek hier praat.
Oorlog vereis dat jong seuns moet gaan veg, en al die matelose gruwels wat daarmee gepaardgaan opneem. As hulle oorleef, moet hulle dikwels die dood van hul vriende aanskou. Wanneer hulle terugkeer, is dit nie iets waaroor hulle veel wil praat nie. Hulle dra dit saam met hulle in hul koppe, harte en liggame rond.
Die gevegte wat in die lug in Masters of the Air afspeel, is asemrowend. Dit vang, soos niks wat ek al ooit gesien het nie, vas hoe dit daar bo in die lug tydens die lugoorlog moes wees. Die vaardigheid om nie net die vyand te navigeer nie, maar toerusting ook; die vermoë om te improviseer; die gruwel van vriende wat brand, terwyl die vlieënier veg om die vliegtuig in die lug te hou en terug na die basis te neem. Die moed om toerustingonderbrekings te hanteer, met die wete dat as jy die ongeluk oorleef en met die valskerm uitgespring het, is jy in vyandelike gebied waar ’n heeltemal nuwe vlak van oorlewing op jou wag.
Jongmense in Amerika weet nie veel van die Tweede Wêreldoorlog af nie. Hulle sê dis nie op hulle van toepassing nie. Dit wat steeds ter sake is, raak verlore in die strewe om ’n beïnvloeder te word.
Terwyl Masters of the Air ’n klein groepie in ’n groter kryt volg, vra dit vrae en wys dit waardering vir daardie mense, gewoonlik mans, wat die skurk aanvat in die naam van wat reg en geregtig is. Dit klink dalk soos ’n idee uit die oude doos, maar die toepaslikheid daarvan is steeds baie duidelik in die wêreld vandag te sien.
Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Zac Efron gesels met rooi rose oor The Iron Claw – en oor wanneer liefde gevaarlik raak