Ons lywe is in ons gene. Ons sien dit oral om ons – nie net in gelaatstrekke nie, maar ook in liggaamsvorm. Maar is gene die enigste rede hoekom ons lyk soos ons lyk? Of is daar ’n emosionele oorsaak waarin ’n ouer se gedrag of woorde dalk ’n rol speel? Al is dit ook nie met opset nie. Karien* is in haar twintigerjare, het ’n suksesvolle loopbaan en is baie dinamies. Van haar vroegste herinneringe is as driejarige wat haar ma voor die spieël dophou en hoor hoe sy haar liggaam afkraak. Karien se ma het haar op vier op haar eerste dieet gesit. Later moes sy kortisoon gebruik vir ’n chroniese siektetoestand, en dat sy daardeur nog ronder gelyk het, was vir ma en dogter ewe erg.
“Toe ek ’n tiener was, het die media bevestig wat ek reeds by my ma geleer het: Maer is mooi en vet is lelik, en daarom was ek lelik. Ek was, nes Ma, obsessief oor gewig en kon net normaal funksioneer as ek op dieet was. As ek gewig aangesit het, het ek my ‘gestraf’ deur myself verbaal te skel, en te oortuig dat ek nie verdien om by die deur uit te gaan en die sonlig te geniet nie, want ek lyk soos ’n vark. Bulimie was ’n noodwendige gevolg, want die hartseer-waarheid was dat ek troos, vreugde, vriendskap en aanvaarding in kos gekry het.”
Lees ook:Skep ’n sterk selfbeeld
Karien se redding het deur geloof gekom, en haar verhouding met haar ma is steeds problematies. “Om werklik vir myself lief te word en na myself te kyk soos my Hemelse Vader my sien, is ’n proses wat steeds voortgaan. Maar ek dink my gewig sal altyd in ’n mate ’n doring in my vlees wees. Nou nog, as ek ’n slegte dag by die werk het, soek ek sjokolade.” Maar is ma’s regtig die oorsaak van hul dogters se siening van gewig?
Geneen Roth, topverkoper-skrywer van agt boeke oor vroue se verhouding met kos (onder meer When Food is Love) meen daar is. Sy glo ons eet soos ons leef, en dat ons verhouding met kos, geld en liefde ’n presiese weerspieëling is van ons diepgewortelde sienings oor onsself en die hoeveelheid vreugde, oorvloed, pyn of skaarste wat ons glo ons het (of toekom). In “The Mother Load” (Good Housekeeping, September 2009) skryf sy van vroue wat nie hul kwessies met kos kon oplos voordat hulle dit nie losmaak van hul kwessies met hul ma’s nie. Kate, byvoorbeeld, was jare lank saam met haar ma op elke dieet moontlik. Maar sy het genoeg gehad, en wou nie meer met haar ma ’n band hê wat op hul gemeenskaplike stryd teen die skaal gegrond is nie. Ná sy op haar eie 25 pond verloor het, was sy bang sy verloor haar ma, en het gevoel of sy moet kies tussen haar ma en die gewig en lewe wat sy begeer.
Nie net ’n onmoontlike keuse nie, maar volgens Roth ook ’n onnodige een. “Dis nie jou regte ma wat jy moet hanteer nie, maar die een in jou kop,” was haar raad aan Kate. Baie vroue glo onbewustelik dat gewigsverlies sal beteken hulle is dislojaal aan hul ma, want hulle glo verkeerdelik dat hulle nie gelukkiger (of mooier) as hul ma’s durf wees nie. “Vroue wie se ma’s dood is, voel selfs hulle sal hul ma’s verraai as hulle die soort lewe het wat sy wou hê, maar nooit kon gehad het nie.” Ook maer ma’s se oorgewig dogters sukkel hiermee. “Sulke vroue erken dat hulle vet gebly het omdat hulle geglo het hulle mag nie met hul ma’s wedywer nie, en dat hulle haar definitief nie mag verbysteek as dit by voorkoms en skoonheid kom nie.”
Roth vertel hoe sy en haar eie ma saam op dieet was tot sy 28 was. “Toe ek die ge-dieet los, moes ek my ma ook op ’n manier laat los.” Maar nie haar werklike ma nie. “Die een van my kindertyd met wie ek ’n ongesonde verhouding met kos gedeel het, en wat in my kop agtergebly het.” Sy onthou hoe ongelukkig, depressief en eensaam haar geskeide ma was toe sy ’n kind was. “Daar was volgens my ongeskrewe reëls dat ek my geluk, my vreugde en my entoesiasme moes binnehou. Om konstant te sukkel met my gewig was die manier waarop ek dit kon doen … In my kindergemoed het, om my ma lief te hê, beteken ek moes myself so ongelukkig maak as wat ek my verbeel het sy was,” skryf sy. Roth erken dat haar ma nooit gesê het sy verwag van haar om ongelukkig of vet of swak te wees nie. “Kinders is ongelooflik empaties en so ingestel op hul ouers se ‘binne-lewe’ dat hulle enigiets sal doen wat hulle glo die ouer sal gelukkig maak,” verduidelik Roth.
Kinders blameer hulself dikwels vir die pyn wat hulle rondom hulle sien en aanvoel. “Hulle aanvaar dat hulle, deur hul eie gevoelens en gedrag en liggaamsgrootte te verander, hul ouers se pyn kan wegneem.” Margaret*, ’n pragtige, vriendelike vriendin van Johannesburg, vertel dat sy geen verhouding met haar pa, ’n depressielyer, gehad het nie, en dat sy eers ná sy dood by sy sekretaresse gehoor het hoe ongelooflik trots hy op haar was. “Ek wens hy het dit self vir my vertel!” Sy onthou haar ma se lewenslange stryd teen die skaal baie goed. “Sy was haar lewe deur anoreksies, en het selfs in haar tagtigerjare nog met bulimie gesukkel.”
Margaret het op skool gekies om koshuis toe te gaan om van alles weg te kom. “My ma het ons dáágliks gedwing om op die skaal te klim! Natuurlik was sy altyd vreeslik teleurgesteld in my, die swakkeling, wat volgens haar nie kon ophou eet nie. My ouer suster het die toets geslaag, en pas vandag steeds in klere wat vir twaalfjariges gemaak is.” Margaret se ma is intussen dood, en vandag mis sy die vrou wat tot aan die einde van haar lewe skaam was vir haar “vet” dogter en selfs kleinkinders, maak nie saak hoe suksesvol hulle was nie. Blameer sy haar ma vir haar eie stryd? “Ek weet nie wie of wat om te blameer nie; miskien moet ons nie blameer nie. Ek is mal oor eet en drink – dalk ontvlugting? – en moet erken dat ek daagliks en omtrent uurliks beplan om minder te eet en te drink.
“Ek veg daagliks teen selfveragting, en dit alles oor ’n nommer, ’n getal: my gewig.” Ella*, baie suksesvol in haar loopbaan, geskei en in haar vyftigerjare, het onlangs eers die skaal gebêre, dra vir die eerste keer gemaklike klere, en eet nou wat sy wil, selfs sjokolade, brood, wyn en kaas. Sy onthou ’n ma wat fanaties was oor haar dogters se gewig, veral oor Ella, wat baie lank is. “My ma het altyd gesê mense moet eerder sê ‘kyk die lang vrou’ as ‘kyk die groot vrou’.” Sy het jou ’n spesiale kyk gegee wat jou vreeslik skuldig laat voel het as jy gewig aangesit het. As tiener en op universiteit was ek vreeslik maer, en as ek terugkyk, besef ek ek het simptome van anoreksie gehad. Ek was behep met wat ek eet, en het selfs ophou menstrueer. Dit was vir my belangrik dat my heupbene ver moes uitstaan en ek kon my boarm met my vingers omvat en nog ’n bietjie ruimte hê.” As sy gewig aangesit het, het sy dit so gou moontlik met ’n baie streng dieet verloor. “Ná my egskeiding het ek soos brood in my eie lewe ingerys – letterlik en figuurlik – en besluit om nie om te gee om ’n groot vrou te wees nie. My ma was ’n goeie ma, maar sy het enige teken van vet gehaat en beslis haar eie hang-ups aan ons oorgedra.”
Rina* onthou ook ’n ma wat obsessief was oor gewig. “Haar gunsteling-manier om my af te kraak was om ’n foto van my as baie vet baba rond te wys. As jong kind is ons etes baie streng gemonitor en afgemeet. Ons mag nie eens self kos gemaak het nie! Natuurlik het dit uitstekend gewerk om my as tiener heeltemal obsessief te maak oor my gewig, totdat ek op 17 anoreksies was. Ek het 45 kg geweeg, van die minimum kos probeer leef en 30 km ’n dag fiets gery om maer te bly. “Toe ek as volwassene begin ontspan oor kos, het my ma dit as ’n geweldige klap in haar gesig ervaar, en sy doen steeds.”
Lees ook: Bou of breek jy jou kind se selfbeeld?
Maak so
Praat met jou ma hieroor. Vra haar reguit hoe sy oor jou gewig voel. Roth waarsku dat nie alle ma’s positief sal reageer nie – party gaan wel seergemaak of bedreig voel – maar jy móét weet. Al veroorsaak dit ’n tydelike afstand tussen jou en jou ma. As jy nie die moed het nie, of as jou ma reeds oorlede is, vra jouself of jy regtig glo dat ’n groot, kleurryke, vreugdevolle lewe jou ma op enige manier bedreig. Verbeel jou dat sy voor jou staan en dat jy so sterk is as wat jy wéét jy is. Voel jy ongemaklik om so mooi en so sterk voor jou ma te wees? As jy wel is, leer hierdie les nou: jou ongemak kom van ’n ou geloof in jou eie kop. “Die grootte van jou lyf en jou eie geluk hang van jou self af, nie van jou ma nie. “Laat jouself toe om die gewig te wees wat jou liggaam wil wees. Wees gelukkig. Is dit nie wat enige ma regtig vir haar kind sal wil hê nie?”
Lees ook: Hoe om jou dogter groot te maak om sterk en vol selfvertroue te wees
Gee jy selfvertroue of ’n slegte selfbeeld?
In haar boek My Mother, My Mirror (New Harbinger, 2009) gee sielkundige Laura Arens Feuerstein talle voorbeelde van vroue wat met hul selfbeeld sukkel vanweë hul ma’s se invloed, soos prinses Diana, Eleanor Roosevelt en Jacqueline Onassis. Die boek is geïnspireer deur haar eie ervaring, sowel as dié van haar pasiënte. Feuerstein waarsku dat jong kinders (ook seuns) nodig het om te voel dat hul ma’s sterk is, want dit laat hulle veilig voel. Ongelukkig is elke woord of daad van ’n ma onder ’n vergrootglas. Sy skryf dat ’n vrou se selfbeeld al begin vorm by geboorte (en selfs voor geboorte as die ma begin fantaseer oor die soort dogtertjie wat sy gaan hê). Ma’s en dogters is in die kind se vormingsjare vir mekaar se eiewaarde soos spieëls. Die dogter veral, kan swaarkry omdat sy probeer inpas by haar ma se beeld van haar. (Dink maar hoe een suster in ’n gesin die etiket kry van verantwoordelike suster, terwyl ’n ander een gesien word as die gewilde een.) Terselfdertyd, waarsku Fuerstein, word die dogter beslis beïnvloed deur haar ma se selfbeeld, iets wat sielkundiges “modellering” noem.
Lees ook: Ja, jy kan meer van jouself hou
As ma’s ’n realistiese selfbeeld het, is die modellering gesond. Maar as ’n ma ongelukkig is oor haar voorkoms of persoonlikheid, kan haar dogters ’n verwronge beeld van hulself kry. Feuerstein gebruik spesifiek die voorbeeld van ma’s wat gedurig kla hulle is vet (al is hulle nie), en waarsku hul dogters gaan ook altyd vet voel, selfs al is hulle nie. ’n Ma se invloed is die grootste in die jare tot puberteit. In ’n Dove Self-Esteem Fund-meningsopname in die VSA in 2008 is daar bevind dat 91% van dogters tussen agt en twaalf troos soek by hul ma as hulle sleg voel oor hulself, teenoor net 67% van dogters tussen 13 en 17, skryf joernalis Dara Chadwick in haar boek You’d Be So Pretty If … (DaCapo Press, 2009). Chadwick het ook ’n lang persoonlike stryd gehad om haar lyf te aanvaar en onder meer met anoreksie gesukkel. Sy gee toe dat die media ook moet blaam dra vir jong meisies se siening van “maerder is mooier”, maar glo die grootste verantwoordelikheid berus by ma’s. Aan die einde van elke hoofstuk gee sy wenke vir ma’s om hul dogters se liggaamsbeelde te poets. Soos: Let op wat jy sê, veral as jy voor die spieël staan en vir jouself kyk. Moenie jou liggaam gedurig afkraak nie. Moenie weier om te swem, of by ’n troue te dans omdat jy dink jy is te vet of lyk nie reg nie. “Jy sal jou dogter leer dat net ‘perfekte’ mense die lewe mag geniet.”
Bron: Newsweek
Lees ook: 5 maniere om meer selfvertroue te hê