Deur Maryke Roberts. Foto’s: Kyra Welch.
Maryna Calow is sedert 2016 Wines of South Africa (WoSA) se globale kommunikasiebestuurder en ook ’n gereelde wynbeoordelaar vir kompetisies wêreldwyd. Sy is passievol oor die wynbedryf en wil aan die wêreld uitbasuin watter gehaltewyn ons maak, en ook oorsese toeriste op ons wynplase verwelkom om dié unieke wynomgewing te deel.
Elke tien buitelandse toeriste skep een werksgeleentheid en die Suid-Afrikaanse wynbedryf verskaf werk aan ongeveer 270 000 mense.
Sy sê: “WoSA is die Suid-Afrikaanse wynbedryf se uitvoerbemarkingsliggaam. Ons verantwoordelikheid is om Suid-Afrika se wyn internasionaal te bemark en ons verteenwoordig dus die hele Suid-Afrikaanse wynbedryf. My rol as hoof van kommunikasie en bedryfswoordvoerder, is een waarvoor ek baie dankbaar en waarop ek baie trots op is. Om ’n bedryf soos dié te kan verteenwoordig, is werklik ’n reuse eer en groot verantwoordelikheid.”
Benewens haar voltydse beroep en die wynbeoordeling wat sy doen, is sy ook die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van Wine Soundtrack – een van die grootste wyn-gefokusde potgooi platforms in die wêreld. Sy kry hier die geleentheid om aan ons wynbedryf se rolspelers ’n platform te bied waar hulle oor die plaas, hul wyn en die mens agter die wyn-etiket gesels.
Maryna vertel dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf tans in ’n baie goeie posisie in vergelyking met ons internasionale vennote is. Die gehalte van ons wyn was nog nooit beter nie en al hoe meer verbruikers kom van Suid-Afrikaanse wyn te hore. Die feit dat ons wyne oor die algemeen meer bekostigbaar is as dié van Frankryk en Amerika, beteken dat mense bereid is om ’n bottel hiervan te koop om te sien waaroor al die opgewondenheid gaan. Ons wen met elke bottel nog ’n wynliefhebber se hart.
“Ons grootste internasionale markte is tans die VK en Europa, met die VSA en Kanada daarna. ’n Mark wat baie interessant is en hope geleenthede vir Suid-Afrikaanse wyn bied, is Afrika.”
Maryna se wynreis het heel toevallig begin. Nadat dié Bloemfonteiner ná skool vir agt jaar in Engeland gewoon het en daar vir drie jaar rekeningkunde geswot het, het sy besef dis nie die regte rigting vir haar persoonlikheid nie. Sy is na die advertensiebedryf en met haar terugkeer na Suid-Afrika in 2006, het sy as kopieskrywer begin werk.
Haar aanvanklike maandelikse storie vir ’n nuwe wynpublikasie in 2009 het haar vinnig tot redakteur bevorder en gou-gou was sy deel van die bemarkingspan wat jaarliks verbruikerskoue aangebied het.
Mettertyd het sy verskeie wynkursusse – waaronder selfs wynmaak – voltooi, maar sê die belangrikste ding is om jou smaaksintuig te verfyn om foute in wyne op te tel, maar ook om verskeie gehaltevlakke te kan identifiseer.
“Die meeste van die kompetisies fokus op gehalte, maar merendeels is die verwagting om wyne wat verbruikers sal geniet uit te ken. Afhangende van die kompetisie en dus die etiket op die bottel wat aandui watse prestasie die wyn behaal het, behoort dit vir die meer oningeligte verbruiker ’n maatstaf van vertroue te wees, veral as hulle by ’n oorvol winkelrak staan en wonder watter wyn om te kies.”
Haar gunsteling-kompetisie as beoordelaar is die Concours Mondial de Bruxelles. “Hierdie is een van die grootste- en bekendste internasionale wynkompetisies. Elke jaar beoordeel ons in ‘n ander land en dit gee my die geleentheid om verskeie lande wêreldwyd te besoek en meer oor hul plaaslike wyne te leer.”
Sy reis ongeveer vier tot vyf keer per jaar vir werk oorsee en vertel dat baie vlugte via ander lande is, om reiskostes so laag as moontlik te hou. “Ek reis nooit sonder my getroue eenhoring- (unicorn) nekkussing nie. Dit lyk dalk belaglik, maar die mussie maak alles lekker donker en help beslis dat ek ’n bietjie rus kry.”
Maryna en Paul, ’n dokter, is in 2017 in ’n driedagtroufees by The Lord Milner Hotel op Matjiesfontein getroud.
Haar seun, Bradley (nou 19), het haar as elfjarige by die kansel afgegee. En natuurlik, as jy soveel ervaring in die wynbedryf het en soveel liefde vir Suid-Afrikaanse wyn, dan kry elke gas ’n bottel wyn met Maryna en Paul se van en troudatum op die etiket.
Bradley se lewenslange droom was om ’n vlieënier in die Britse magte te word en nadat hy in 2023 sy matriek voltooi het by Bishops Diocesan College, het hy verlede jaar vertrek om daardie droom te gaan bewaarheid. Sy erken dit was maar moeilik vir haar moederhart!
Maryna het ook ’n 17-jarige dogter, Siénna, wat vanjaar by Rustenburg Girls High matrikuleer. Die gesin woon in Plattekloof – ’n voorstad van Kaapstad – met pragtige uitsigte oor die stad en Tafelberg. Maryna se huis is die plek waar sy net haarself kan wees. “Dis my veilige plek.”
Sy dink diep toe ek vra wat die grootste uitdaging was wat sy al in haar lewe moes oorkom. “My egskeiding was seker die moeilikste ding om te doen. Dit was ’n baie groot besluit met twee baie jong kinders, maar ek het besef dat ek dit vir my én hul onthalwe moes doen. Ek het vir myself gevra: ‘Wie gaan my wil hê? Met al my baggage, en twee klein kinders. Ek is dan nou used goods. Min het ek toe geweet dit was die beste besluit wat ek ooit kon maak.”
Sy moes ook leer om haar eie waarde te ken. Om nie tevrede te wees met minder as wat jy verdien nie. “Ons moet in die lewe nou en dan moeilike besluite neem en daar is ’n baie fyn lyn tussen selfsug en selfliefde. Leer wat die verskil is en pas dit in jou daaglikse lewe toe.”
Maryna vertel dat dit aanvanklik vir Paul moeilik was om sy kop om die idee van ’n “kitsgesin” te kry. Dit was ’n nuwe ervaring vir hom, maar een wat hy baie ernstig opgeneem het.
“Wat wel in ons geval baie gehelp het, is dat die kinders se biologiese pa glad nie in die prentjie is nie, so die tyd en liefde wat Paul in hulle belê het, het tot ’n sterk gesinseenheid bygedra. Oor die jare het albei kinders ’n sterk band met hom ontwikkel en toe Bradley 18 geword het, het hy amptelik sy van verander. Siénna beoog om vanjaar dieselfde te doen. Hulle het albei hul vanne nie-amptelik na Calow verander toe hulle hoërskool toe is en almal ken hulle as Calows.”
Vanjaar is ’n groot jaar vir hul gesin: Siénna matrikuleer en wil ’n sabbatsjaar in Italië gaan doen en Maryna beplan om vir Bradley in Engeland te gaan kuier. Tussendeur is daar opknappings aan hul huis, potgooie, skoue en natuurlik baie wyndrink!
“Die wêreld is ons oester en die toekoms lyk blink!” verklaar sy toe ons groet en die son blink strepe oor Tafelbaai gooi.
Lees ook: Vier die lewe! Drie vroue vertel hoe, en waarom, dit nodig is
Werd om te weet
- Cap Classique is Suid-Afrika se antwoord op Franse sjampanje. Die gehalte van ’n Suid-Afrikaanse Cap Classique is tops en hierdie styl van vonkelwyn word gereeld in blinde proeë met sy duurder Franse alternatief verwar.
- Pinotage is in 1925 by die Universiteit Stellenbosch deur prof Abraham Izak Perold ontwikkel. Hy het die pinot noir-druif met – wat toe bekend was as Hermitage – gekruis. Vandag ken ons dit as cinsault. Vandag word die druif ook in vele ander lande soos, die VSA, Australië, Engeland, Turkye en die Oekraïne, geplant.
- ’n Allemintige 77% van alle Fairtrade-wyne in die wêreld kom uit Suid-Afrika!
- Suid-Afrika het die meeste aanplantings van chenin blanc ter wêreld.
- Suid-Afrikaners se gunsteling-wyne is merlot en sauvignon blanc.
- Daar is 22 wyntoerisme roetes in Suid-Afrika en ook ’n brandewynroete.
- Daar is niks fout om jou rooiwyn in die yskas te sit nie – veral as jy dit in die somer wil geniet. Tradisioneel glo ons om rooiwyn teen kamertemperatuur voor te sit, maar hier in Suid-Afrika is ons kamertemperatuur veel hoër as in Europa. Baie mense hou ook daarvan om ’n ysblokkie in hul wyn te sit. Elkeen moet doen soos hy wil, maar ’n goeie idee is om ’n pakkie glasysblokkies in die vrieskas te hou en dit eerder in jou glas te sit. Dit sal voorkom dat jou wyn afgewater raak en die geure sal behoue bly, terwyl dit ook die koue hou – en boonop lyk dit pragtig, veral in wit wyn.


Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
Lees ook: Maryke Haywood maak ’n verskil