Marokkaanse lamskenkelsop met gevulde vetkoeke
Ingredients
- Sop
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 3 lamskenkels (sowat 600 g -700 g)
- 2 uie, ruweg gekap
- 2 knoffelhuisies, gekneus
- 10 ml (2 t) gemaalde komyn
- 10 ml (2 t) gemaalde koljander
- 2, 5 ml (½ t) gemaalde gemmer
- 2, 5 ml (½ t) gemaalde kaneel
- 2 wortels, geskil en ruweg gekap
- 2 selderystingels, fyn gekap
- 1 raap, in blokke gesny
- 250 g patats, in blokke gesny
- 2 x 410 g-blikke heel tamaties in sous
- 2 liter water, nog indien nodig
- 125 ml (½ k) pêrelgort
- 500 g bruinlensies
- ’n hand vol vars pietersielie, gekap
- Gevulde vetkoekies
- 500 g (875 ml) koekmeel
- 5 ml (1 t) sout
- 10 g (1 sakkie) kitsgis
- 375 ml (1½ k) louwarm water
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 15 ml (1 e) vinkelsaad
- 200 g mozzarellakaas
- 10 rosa-tamaties, middeldeur gesny
- ’n hand vol basiliekruidblare
- meel vir uitrol + ekstra
- olie vir diepbraai
Instructions
Sop
1 Verhit die olie in ’n groot swaarboomkastrol. Braai die skenkels daarin tot goudbruin.
2 Voeg die ui, knoffel, komyn, koljander, gemmer en kaneel by en braai vir nog 3 min.
3 Voeg die wortel, seldery, raap en patat by.
4 Voeg die heel tamatie, water, gort en lensies by. Die groente en vleis moet bedek wees met water, en afhangende van die grootte van jou kastrol, sal jy dalk nog water moet byvoeg. Verlaag die hitte en laat prut vir 2 uur.
5 Strooi die vars pietersielie oor en sit met die gevulde vetkoekies voor.
Gevulde vetkoekies
1 Meng die koekmeel, sout en gis. Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele, voeg die louwarm water bietjie vir bietjie by en meng tot die deeg bymekaarkom.
2 Knie vir sowat 10 min. En laat rys op ’n warm plek tot dubbel die grootte (sowat 30 min.). Knie af en bedek met ’n klam lap.
3 Verhit die olyfolie en braai die vinkelsaad vir 3-4 min. daarin. Laat eenkant afkoel.
4 Sny die mozzarellakaas in blokke en marineer in die afgekoelde vinkelolie.
5 Verdeel die deeg in 12 ewe groot balletjies. Werk met een op ’n slag en bedek die res met ’n klam lap.
6 Verhit genoeg olie (sowat 15 cm diep) in ’n kastrol vir diepbraai. Toets of die olie warm genoeg is deur ’n stukkie brood in die warm olie te sit – die olie is gereed wanneer die broodjie binne 40 sek. Goudbruin verkleur.
7 Rol ’n bolletjie deeg op ’n skoon, meelbestrooide werkvlak uit tot omtrent palmgrootte. Sit ’n stukkie mozzarellakaas, tamatie en basilieblaar in die middel en vou in ’n netjiese bolletjie toe. Knyp die bolletjie styf toe onder. Rol die bolletjie in ekstra meel en herhaal tot al die deeg opgebruik is.
8 Diepbraai die bolletjies in matige warm olie tot goudbruin en dreineer op kombuispapier. Sit met die Marokkaanse lamskenkelsop voor.