Suidooster-kykers is tans op hete kole om te sien of Lee-Ann (Portia Joel) wel haar fisioterapeut, Debbie Joubert (Marissa Claasen), gaan help om wraak op Clayton Moses (Ricardo Thomas) te neem.
Debbie beweer Clayton het haar tydens ’n huisbraak verkrag, en nadat Lee-Ann onlangs gekaap is wat tot erge trauma vir haar gelei het, voel die twee dat diegene wat daarvoor verantwoordelik was, nie vir hul dade boet nie.
Debbie sal enigiets doen vir geregtigheid en Lee-Ann, wat haar situasie verstaan, is net die persoon om haar te help om reg in eie hande te neem. Debbie is ’n komplekse karakter wat skuil agter ‘n masker van konstante optimisme terwyl sy baie seer en pyn in haar hart het.
Marissa vertel meer oor haar rol en agtergrond as akteur.
Vertel bietjie meer oor jouself.
Ek het groot geword in Pretoria as die jongste van drie. As kind het ek en my ouer suster altyd Egoli-Egoli gespeel, so daar het my toneelspeel drome seker al begin kop uitsteek.
In 2013 het ek my graad in Drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) verwerf waarna ek vir ongeveer 7 jaar lank op ’n daaglikse basis kinderteater gedoen het. Dit was my brood en botter. Tussendeur het ek oudisies bygewoon, self werk geskep en uiteindelik ook groter rolle begin losslaan.
Ek het in 2019 Kaapstad toe verhuis en my loopbaan hier verder begin ontwikkel. Dit was, en is, nie ’n maklike pad om te stap nie. Maar niks wat die moeite werd is, is tog maklik nie! My ma is my grootste ondersteuner en het my van dag 1 af aangespoor om my drome na te jaag. My pa skerts gereeld dat ek ’n “regte werk” moet kry, maar hy is terselfdertyd vreeslik trots op my.
Was dit vir jou uitdagend om ’n komplekse karakter soos Debbie te speel?
Sy is deur so baie trauma, en ek moes soms baie diep delf om emosies binne myself te vind wat ooreenstem met hare. Ek wou haar eerlik vertolk. Daar was heelwat emosionele tonele in die storielyn wat dit baie anders gemaak het as die komiese rolle wat ek gewoonlik vertolk.
Ek het voor elke toneel haar denkproses gaan ontleed en probeer vasstel presies wat haar intensies is en hoe die trauma en verlies waardeur sy is, subtiel kan deurskyn in my vertolking. Daar is baie “lae” aan Debbie wat dit uitdagend maak, maar dit was ook baie bevredigend om haar te speel.
Hoe sal jy die boodskap van die Debbie en Lee-Ann storielyn beskryf?
Debbie is ’n goeie voorbeeld van wat kan gebeur as iemand deur diep trauma geraak is en nie die regte hulp ontvang het om daarvan te genees nie. Die storielyn wys hoe maklik een persoon se onbehandelde trauma ’n ander een kan raak en so ook daardie persoon se lewe kan beïnvloed. Dit handel oor geregtigheid, maar ook vergifnis.
Dit is vergifnis wat ’n mens op die einde vry maak van wraak en negatiwiteit. Trauma hoef nie die oorsaak te wees van die einde nie, maar kan die begin wees van iets groter, belangriker en inspirerend.
Kykers het jou ook al in Binnelanders en meer onlangs in Arendsvlei gesien. Wat geniet jy van die sepie genre?
Teater is my eerste liefde en dit is waar ek als geleer het wat ek weet. My eerste televisierol was dié van Sharon Basson in Binnelanders. Daar het ek onmiddellik verlief geraak op hierdie medium ook. Dit is baie meer tegnies as teater, maar ’n mens kan fyner speel, veral met jou oë. Selfs net ’n gedagte wys duidelik op jou gesig. Die kleinste beweging of kyk kan emosie oordra. Ek geniet dit om so presies te kan raak oor ’n rol en dinge te ontleed tot op die been. Die storielyne en woorde leer hou my altyd op my tone omdat die woorde so presies moet wees.
Die produksiespan by sepies is altyd van die wonderlikste mense, ek vorm vinnig hegte bande met mede-akteurs en elke dag op stel voel soos ’n droom wat waar geword het.
Jou storielyn in Suidooster is baie ernstig, maar jy het ook al naam in ’n paar klugte op die verhoog gemaak. Vertel meer hieroor?
My heel eerste professionele teater produksie was ’n klug en tot vandag toe speel ek steeds jaarliks in ’n klug of twee. Ek is gek daaroor. 2024 was ’n groot een vir my wat teater aanbetref. Ek was te sien in die absurde komedie Hospitale, Kateters en Familielede wat aangewys is as die topverkoper by die Innibos Nasionale Kunstefees in Nelspruit.
Ons speel ook in 2025 by KKNK in Oudtshoorn. Verder het ek sedert 2020 getoer met die Lefra-klug My Vrou se Man se Vrou en onlangs het ons geopen met die opvolg-produksie My Boetie se Sussie se Ou.
’n Jaarlikse hoogtepunt is natuurlik wanneer ons teater maak aan boord van die MSC-passasiersboot tydens die Oppiwater Kunstefees. In 2025 sal dit my 9de jaar wees wat ek kuns maak op die boot. Ons toer in 2025 verder met Hospitale, Kateters en Familielede en met My Boetie se Sussie se Ou. Die stukke is histeries en so ook die spanne saam wie ek werk. Dit is soos kos vir my siel om te weet dat ons so baie mense (en ook mekaar) so lekker kan laat uitbars van die lag. Dit maak die lewe so bietjie ligter.
As ek een persoon kan laat lag en selfs net vir ’n oomblik laat vergeet van hul probleme, het ek my werk reg gedoen.
View this post on Instagram
Lees ook: Ons gesels met Geon Nel oor NNK: “Waar daar donkerte is, is daar lig”