Marijke Krul: in die Japanse konsentrasiekamp en daarna deur Mariette Snyman. Foto’s van Pexels, tensy anders aangedui. Hooffoto Pexels
Hierdie artikel is ’n aanvulling tot “Ek is ’n gelukkige vrou”, ons artikel oor Marijke Krul in die April-uitgawe van 2020.
Het jy geweet? Jy kan nou 70% afslag op ons digitale April-uitgawe kry! Klik hier om dit nou te koop
Marijke vertel van haar wedervaringe:
Kaptein Sonei en Tjideng-kamp
Kaptein Sonei (ons is vertel hy was ’n kolonel) het heeltyd op ons geskree. Deur te sorg dat ons nooit seker was wanneer ons weer kos sou kry nie, wou hy ons beheer. Teen die einde van die oorlog het hy ons glad nie meer kos gegee nie – hy het geweet die stryd is amper gewonne.
Blokke sout, amper soos beeslek, is aan ons gegee om ons watersug te vererger. Letterlik almal het watersug gehad.
Kapt. Sonei het baie vroue en kinders doodgemaak in die sowat 15 maande wat ons in die kamp was. Op ’n stadium is al die seuns bo 12 na ander kampe geneem. Gelukkig was my broer Tony nog te klein.
Ná die oorlog het die kaptein voor ’n oorlogstribunaal verskyn. Op die Internet word berig dat hy voor ’n vuurpeloton gesterf het, maar ons wat in die kamp was, het gehoor hy is onthoof.
Die lewe in die kamp
Die sterker vroue in die kamp – waaronder my tannie – het die harde werk gedoen soos om rioolputte te grawe en water en hout aan te dra.
Mense tree vreemd op onder sulke moeilike omstandighede. Die vroue het dikwels gesit en resepte neerskryf en gedroom oor hoe goedkoop hulle sou leef wanneer hulle weer uit die kamp kom.
Hulle sou byvoorbeeld ’n bietjie Elizabeth Arden-lyfroom verhit, piesangs (waarvan daar nooit één in die kamp was nie) afskil en eet, en dan die skil fyn kap en in die room braai. Dit sou heerlik wees, het hulle vir mekaar vertel. Hulle het boeke vol sulke resepte geskryf.
Kampkinders
Die kinders was almal apaties. Hulle was ondervoed en het net rondgesit, rondgelê of geslaap. As kinders nog speel, beteken dit hulle het energie. Geen skole is in die kampe toegelaat nie.
Smiddae het ek en my maats voor die hospitaal gesit en die liggame van mense wat gesterf het, getel. Hulle is saam in ’n bamboesmat opgerol en op ’n vragmotor gelaai. Ons het die voete getel en gestry oor wie die eienaars van die voete was.
Partykeer het ons beplan hoe om tee te maak: ons sou ’n spesifieke struik se blare vat en dit in ’n bottel in die son laat staan tot die die kleur van tee kry. Dan sou ons (verbeelding)suiker bysit vir tee, of sout vir sop! As kos so skaars is, fantaseer jy gedurig daaroor. En water was so skaars – ons moes in ’n tou staan om ’n ou klein bekertjie water uit ’n kraan te tap.
As kos so skaars is, fantaseer jy gedurig daaroor
Ten minste het ek iets gehad om my aan die gang te hou: ek moes na my bababoetie, Peter, omsien terwyl my ma in die hospitaal by die soldate se barakke was. Elke oggend het ek sy doeke gewas.
Een keer het ek ’n stukkie hout van die houtstapel langs die kombuis gesteel. Dit was donker en ’n soldaat het nader gekom. Ek het die houtjie met ’n lap toegevou en dit soos ’n baba in my arm gehou. Hy het agter my aangeloop vir baie, baie lank, terwyl ek kamma met die baba gesels. Ek het weggestap van ons huis sodat hy nie sou uitvind waar ek bly nie. Eindelik het hy moeg geraak vir die speletjie. Die drang om te oorleef verander jou in ’n akteur of ’n hanswors!
Op ’n dag is die sowat 200 mense in ons straat almal uit ons huise gejaag. ’n Klomp soldate het die straat kom afkamp. Ek het Peter gegryp en oor die heinings en mure geklim om hom na die ‘Hollandse’ hospitaal naby die kamp se ingang te neem. My broer Tony en suster Netteke was by my tannie. Ek kon hulle nie dadelik weer opspoor nie en het maar ingeval by die stroom mense wat uit die straat gejaag is. Ons het in die reën in die straat geslaap, sonder kos of water.
Een ouer vrou wat ek geken het, is aan die vlagpaal op die stuk grond voor kaptein Sonei se huis vasgebind, in die volle son. Sy was daar vir meer as 24 uur en het flou geword. Om te wys hoe sterk hy is, het die kaptein mense aangesê om emmers water oor haar te gooi sodat sy nog meer in die son kon brand. Sy is dood.
My pa kom terug!
Die kamp waarin my pa was (ons het nooit geweet waar hy was en of hy leef nie) was baie straf. Die mans het elke dag net een of twee teelepels kos gekry en moes, nes ons, elke dag aantree. As iemand ’n oortreding begaan het, soos om iets te steel, moes almal aantree. Die Japanners het skerpgemaakte bamboesstokke skuins in die grond geplant met die skerp punt bo en ’n dwarspaal oor die bamboesstokke. Almal moes hurk terwyl hulle aan die dwarspaal vashou. As hulle val, het hulle op die skerp punte geval. Die mans was uitgeteer en baie het hulle bewussyn verloor. Dit was barbaars.
Teen die einde van die oorlog het ons nooit geweet presies wat gebeur en wanneer ons vrygelaat sou word nie. Die Geallieerdes het die mense in die kamp gehou om register te kon hou. Die Japanners het oorgegee maar hulle wapens vir die Maleisiërs, wat gestreef het na onafhanklikwording, gegee. My pa het ontsnap en ons kom soek.
Batavia
Terug in Batavia het vriende ons ingeneem. My pa het sy werk as produksiebestuurder by General Motors hervat. Ná die ontberings in die kamp het dit ons lank geneem om te herstel. My pa het gesorg dat ’n dokter na ons omsien. My broer Tony se watersug was so erg dat die dokters hom net ses maande gegee het om te leef. Gelukkig het hy hulle verkeerd bewys. Op 15 maande het Peter soos ’n baba van vier maande gelyk. Hy was agt maande in die hospitaal en het tot ons verligting mettertyd herstel en normaal ontwikkel.
Baie mense uit die kampe is dood omdat hulle skielik vaste kos begin eet het. My pa was streng. Elke gesin het ’n kospakkie uit Amerika gekry, ’n groen boks met ’n rooi kruis, met sjokolade, suiker, melkpoeier en graankos. My pa het die deksel stewig vasgeskroef en dit op die plafon gebêre. Steeds het ek en my broer dit probeer oopkry, gelukkig tevergeefs.
My pa het al sy dae met ons gehad wanneer ons mark toe gaan, want ons kinders sou ’n appel of iets anders steel ná so lank sonder kos.
In Batavia moes ek op elf jaar die eerste keer begin skoolgaan. Ek is nie ’n akademikus nie, maar ek moes elke jaar twee jare se skoolwerk inpas!
In 1947, toe ons almal weer normaal kon eet, het my pa vir my ma en ons kinders ’n huis in Australië gehuur sodat ons verder kon aansterk. Hy het ’n gekwalifiseerde verpleegster aangestel om na ons te kyk. Vir twee en ’n half jaar het ons daar gebly terwyl my pa die General Motors-fabrieke in Batavia weer op dreef gekry het. Ons het min van hom gesien – net wanneer hy na New York of Detroit moes reis vir werk, het hy by ons aangekom. In 1951 is ons terug na Batavia en was die gesin weer bymekaar.
Die jong entrepreneur
In Batavia het ek my eerste betalende onderneming begin. Ek het houtspeelgoed, soos Disney-figure, vir winkels gemaak. Ek het dit geteken, ontwerp en vervaardig.
My pa, wat gereeld VSA toe gereis het vir sy werk, het vir my ’n industriële saag saamgebring. My dag was propvol: van 05h00 tot 07h00 het ek gesaag. Om 08h00 moes ek by ʼn skeepsmaatskappy wees vir my werk as tikster. Dan het my twee werkers die speelgoed afgeskuur en geverf. Na werk kon ek weer inval, maar om 19h00 saans moes ek Engels, tik en snelskrif neem. Dit was glad nie vir my lekker nie, maar my pa het vereis dat ek ’n jaar lank werk en leer, waarna ek kon doen wat ek wou.
In hierdie tyd het ek my man, Hubert, ontmoet. Ons hofmakery het daaruit bestaan dat hy my moes help om wiele aan my speelgoed te sit! Ná ons huwelik moes ons Indonesië weens die onstuimige politieke klimaat verlaat. Sedertdien was ek twee maal weer daar.
Suid-Afrika
Hubert het 39 jaar lank vir ’n Nederlandse versekeringsmaatskappy gewerk en ons het regtig baie dikwels verhuis. Ek het nooit vir ’n “baas” gewerk nie, maar waar ons gekom het, het ek gedoen wat my hand kon vind om te doen. Ek het dit geniet om te help om die onkoste van ’n groot gesin – uiteindelik twee dogters en vier seuns – te dra. Ek het onder meer brood gebak en verkoop, met hoenders en bye geboer, my skilderwerk van die hand gesit, ’n kleuterskool en twee kwekerye gehad, ’n binnenshuise versieringsaak vir ’n handweeffirma aan die gang gekry, en bemarking gedoen vir ’n invoerder van delikatesseprodukte – wonderlike ervarings.
In 1957 is Hubert na Suid-Afrika verplaas. Ons het ’n eenmanswoonstel in Linden gehuur – met twee kinders! Ek kon nie Afrikaans praat nie en het gou agtergekom sommige woorde klink eenders in Nederlands en Afrikaans, maar kan heeltemal verskillende betekenisse hê. Jy kan jou lelik vaspraat!
Ek het smiddae na die stories op die Afrikaanse radiodiens geluister om Afrikaans te leer, en my slap gelag vir woorde soos “prikkelpoppies” en “hysbak”. Twee gawe dames by ’n winkel het my gehelp wanneer ek met ’n lys woorde die winkel aankom. My skool-Engels was nie nuttig nie, want wie leer op skool wat ’n blomkool in ‘n ander taal is? Ek het soms sommer geteken wat ek wou hê.
Uitdagings
Ons het in Johannesburg, Pretoria en Durban gewoon, en toe weer in Johannesburg. Toe ons seun Willem drie jaar oud was, is hy met drie hartdefekte gediagnoseer. My man se firma het ons elke vier jaar toegelaat om twee maande in Holland deur te bring. Ons is oorsee terwyl die spesialiste in Suid-Afrika inligting ingewin het oor die operasie wat hulle op Willem wou doen. In Holland het Willem ’n oorinfeksie ontwikkel, maar die medici daar het geweier om, soos sy Suid-Afrikaanse spesialis onomwonde vereis het, vir hom ’n antibiotikum te gee. Sy kondisie het vererger en met ons terugkeer moes hy vroeër as wat beplan was geopereer word.
Willem was maar die tweede persoon ter wêreld wat ’n opehart-operasie ondergaan het
Die dokters het ’n plastiekwand tussen twee ventrikels ingeplant. Dit was ’n groot sukses, maar ook ’n nagmerrie weens al die spanning!
Toe Willem later skool toe is, moes hy volgens die spesialiste nie rondhardloop of hom ooreis nie. En natuurlik was hy soos ’n wilde perd! Ek en Hubert wou hom so ’n natuurlik moontlike lewe laat lei. Met sportperiodes het ek langs sy sportonderwyser gaan staan en Willem dopgehou. Op ’n stadium sou ek sê: dis nou genoeg. Dan moes hy maar iets anders gaan doen. Hy het goed ontwikkel, en vandag weet die dokters natuurlik sulke kinders moet aktief wees! (My familie, wat ek tot in 1400 kan naspoor, het nog altyd hartprobleme gehad, maar mediese ontwikkeling maak ’n groot verskil.)
Op ’n stadium het my broer Peter se seuntjie, Tony, weens omstandighede deel van ons gesin geword. Hy was 14 maande, slegs nege maande ouer as ons een dogter wat toe ’n baba was. Gelukkig is ek gek na kinders!
In Durban het ons ’n huis teen ’n heuwel gekoop wat pas voltooi was. Omdat ons uit die destydse Transvaal gekom het, het ons min geweet van die tropiese reënbuie. Daar was geen stutmuur nie. Daar was ’n fontein teen die heuwel, en die eerste reëns het eenvoudig ’n stuk van die heuwel uitgekalwe en tot in ons kombuisdeur gespoel. Hubert was vas met werk en ek het ’n siviele ingenieursfirma gaan vra om te kom help. Hulle wou nie aan die projek raak nie.
Die bure het kom kyk hoe ons in die modder swoeg
Oudergewoonte het ek die bul by die horings gepak. Ná vier dae se leeswerk oor landboudreinering in die biblioteek het ek vier werkers gehuur. Ons het drie dreineringstelsels teen die heuwel af gemaak en ’n stewige stutmuur van asstene gebou. Die bure het kom kyk hoe ons in die modder swoeg. Die putte was skeef, maar hulle het gewerk!
’n Buurman onder ons het ’n klagte gehad en ’n ingenieur gevra om na ons handewerk te kom kyk – toevallig iemand van die firma wat ek aanvanklik gevra het om te help. Die ingenieur het opmetings kom doen. Hy het gesê ons trek 800 gallon per uur. Hy was beïndruk! Ek was baie dankbaar, want die projek kon maklik skeefgeloop het.
Hubert se laaste plasing voor aftrede was in Haarlem, Nederland. Daar was nog drie kinders in die huis. Ek het sonnige Suid-Afrika vreeslik gemis. In 1986 het Hubert met pensioen gegaan, en drie weke later was ons terug in ons gesinshuis in Johannesburg. Ná Hubert se dood het ek nog drie jaar daar gewoon, maar ek is vyf keer aangeval. Die gronde was so groot dat ek dit nie behoorlik kon beveilig nie. Ek het ingetrek in die aftreehuis wat ons vroeër aangeskaf het, ook in Johannesburg, maar ek het eers ’n paar mure laat uitslaan om meer woonspasie te skep!
Ek is gelukkig hier. Ek het kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, goeie vriende, en ’n tuin waarin ek kan woeker – soveel rede tot vreugde.
Vir nog inspirerende verhale, lees hier