Mari-Louis Guy oor Montenegro, ma-wees en ’n nuwe wêreld – Deur Zoë Salzwedel. Verwerk deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Instagram
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Jy het dalk al dié blondekop met haar breë glimlag op jou TV-skerm gesien as beoordelaar van die KykNET-werklikheidreeks Koekedoortjie, Koekedoor en Kokkedoor, en weet waarskynlik ook dat sy en haar ewe bekende broer, Callie Maritz, ook groot sukses behaal het met hul gewilde bakstudio, Cakebread.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Tog beskryf Mari-Louis Guy, wat in haar jonger dae op superrykes se seiljagte kos gemaak het en ’n hele paar topverkoperkookboeke geskryf het, haarself as ’n “kosnuuskierige met ‘n besonderse liefde vir bak”. Deesdae bevind Mari-Louis haar in ’n nuwe land met vreemde kossmake en vele ander uitdagings.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Montenegro, bekend as “the land of the black mountain”, is geleë in Suid- en Suidoos-Europa aan die kus van die Balkan. Dis ’n land van berge en Middeleeuse dorpies waar tyd skynbaar gaan stilstaan het. Dis híér waar Mari-Louis Guy, haar man Chris en hul drie kinders, Max, Ethan en Sophia, ’n splinternuwe, baie interessante hoofstuk in hul lewe skryf…
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Jy woon nou in Montenegro. Vertel ons ’n bietjie oor jou lewe en leefstyl daar- hoe lyk ’n dag in jou lewe?
In baie opsigte is dit die perfekte lewe. Hier word daar teen ’n slakkepas geleef, met die mooiste natuurskoon as agtergrond. Ons kry baie vars lug, ski in die winter en leef op die see in die somer. My kinders neem seiljaglesse, en skooluitstappies is dikwels ski-naweke. Op die oomblik bou ons aan ’n huisie in die berge met ’n wynproelokaal waar ons geleenthede wil hou met streekswyn en Rakia (’n vrugtige brandewyn van die Balkans).
Ek woon in ’n expat community – die vrouens trek altyd mooi aan en hulle dae draai rondom mooi lyk en hard oefen. Ek probeer hard om by die res in te skakel, maar dit voel nog steeds vir my uiters vreemd om aan te trek asof ek vir ’n werksonderhoud gaan wanneer ek eintlik net my kinders by die skool gaan oplaai.
Hier moet jy tyd hê. Daar is nie kitskosrestaurante of vooraf-voorbereide slaaie, lasagne en kerries soos in Suid-Afrika nie. Die groente is vars uit die grond en jy koop dit net so ongewas/behandel. Dit neem my dikwels drie keer se afspoel om die grondbedekte aartappels goed skoon te kry. Ons moet self water in ons tenke pomp, drinkwater laat aflewer en ons eie vullis bergaf stoot met ‘n kruiwa om dit te laat wegneem. Ek staan ook dikwels in rye, want baie besighede werk nog met kasboeke en kasregisters. Ek lag altyd, want my kinders noem dit time travelling as ons Suid-Afrika besoek vir ’n vakansie. Snaaks hoe dit eintlik back to the future was as jy nou kyk hoe ons leef tydens die Covid-19 uitbraak.
Ons winkels is nog altyd Sondae toe vir godsdiens en familie-byeenkomste, so ons is gewoond aan stil dae. Ek het gereeld in Lidl in Kroasië ons groot, maandelikse inkopies gaan doen. Verder vlieg my man baie en is daar altyd groot opwinding wanneer hy bekende produkte terugbring huis toe. My ma kom kuier ook altyd met propvol tasse, gevul met ons gunsteling Suid-Afrikaanse produkte. Daar is ’n hele mini-supermark in ons een vertrek, want ons het eintlik al ge-stockpile lank voor die virus.
Wat het julle laat besluit om na Montenegro te verhuis? En hoe lank woon julle al daar?
Ons het omtrent twee jaar gelede hierheen getrek. Ek en my man Chris is al amper 30 jaar saam en het eers baie laat kinders gehad. My lewe in Suid-Afrika was vreeslik opwindend en ek het my groot, suksesvolle studio, CakeBread, by die huis ontsettend baie geniet. Daar kon ek en my broer Callie Maritz elke dag magic maak met ons hope kreatiewe energie, en het ons die wonderlikste kliënte gehad.
Ek en Chris leef eintlik al 13 jaar lank in ’n pendelhuwelik, en dit het vir ons belangrik geraak om vir die kinders die kans te gun om meer van hul pa te sien.
Chris het dit goedgedink om Montenegro as ’n basis te kies, en sy werksprogram het gesorg vir lekker lang periodes in die dorpie Tivat. Impulsief het ek ja gesê en die mal proses van verhuis aangedurf.
Lees ook: Alles wat jy moet doen voordat jy verhuis
Vertel ons van jou man en kinders…
Ek en Chris lewe vir ons drie vlooie: Max, Ethan en Sophia. Ons het amper nie ouers geword nie, so hulle is ons grootste vreugde! Drie high-energy liefies.
Max is 15 en tipies tiener, klere is ALLES! Ethan is 10 en ons Warrior Worrier – hy beplan om die president van-wat-oor-is-van-Amerika te word wanneer hy groot is – en my liewe Sophia is agt. Ek voel ek het my hele lewe vir haar gewag. Die fynste dingetjie met blonde haartjies. Sy neem deel aan alles en was selfs verlede jaar deel van ’n wengroep vir Russiese volksdanse. Daar is ’n groot Russiese-gemeenskap hier en ons verstaan min maar maak mee.
Wanneer Chris hier is, is ons in die hemel. Ons het ’n Landrover en ry gereeld die berge daarmee plat. Ons besoek ook soveel moontlike ou ruïnes, kook feeste saam, lag en hou konsert.
Ek is dikwels vir lang tye op ’n slag alleen met die kinders en het op dié manier as ouer taamlik vreesloos geword. Ons vlieg orals heen, was in Moskou vir ’n vakansie en besoek gereeld oor naweke ’n ander land of gebied rondom ons. Ons is omring van die mooiste hotelle, en gedurende die wintermaande is hulle gewoonlik leeg en die perfekte “speelgrond”. My man se werk het ook vir ons VIP kaartjies vir Porto gereël, so ons is baie gelukkig om ingesluit te kan word by heelwat spoggeleenthede soos polo en vertonings in die somer.
Somer hier is soos daardie ou Peter Stuyvesant advertensies: Passport to International Pleasure.
Was dit moeilik om Suid-Afrika vir Montenegro agter te laat? En hoe was die aanpassing daar?
Dit was hartverskeurend by tye! Ek vermoed ek was selfs soms gedehidreer van die baie huil. My kinders het keer op keer snikkend gesmeek: “Ons sal enigiets doen, kan ons net teruggaan huis toe asseblief?”
Ons lewe het ongelukkig nie altyd soos beplan verloop nie… My man was dikwels weg en ons vier moes self ons voete vind. Een van ons eerste huise was hoog op in die berge met allerhande gediertes en gedrogte.
Ons kon nie naby die huis parkeer nie en moes dus altyd ver stap met ons inkopies. Vra nou vir ’n 8-jarige om ’n kan water te dra. Ek kon haar beslis nie alleen los nie, en wanneer sy moeg was moes ons haar ook huis toe dra.
Boonop is daar ’n vrou wat in die berge woon – ’n Antjie Somers-karakter wat laatnag een aand met wilde hare, geskeurde klere en ’n sekel soos die Grim Reaper aan ons deur kom klop het. Dit het gevoel soos ’n Koos Doep song, “en die dood kom my haal.” Ons het eers later uitgevind dat sy die local vreemde is, maar nou is ons al gewoond aan haar.
Wat is vir jou die lekkerste deel van om in Montenegro te woon?
Somers – ek moet myself soms knyp, want dan is almal hier: Bill Gates, bekende politici , Oprah, koninklikes, popsterre én modelle. Daar is soveel opwindende gebeure. Porto Montenegro is pragtig en hulle reël ongelooflike geleenthede. Ek besef oor en oor hoe geseënd my kinders is om só te kan grootword en soveel dinge te kan ervaar. Hulle geniet ook die somerkampe waar hulle allerhande nuwe watersporte leer bemeester en die pragtige natuurskoon kan geniet.
Die laaste swem van die dag is my gunsteling! Almal in Tivat is rondom agtuur saans in die heerlike koel water en dan skielik klim almal soos een man uit en gaan huis toe – ek hoor nooit die klokkie nie, maar miskien moet jy Balkans wees.
O ja, en hier is die beste waatlemoen ooit! Heerlik soet en kraakvars. Ons eet een waatlemoen per dag.
Ons huis (dis ’n maatskappy-huis) is ’n gerief wat ek seker nooit weer sal hê nie. Ons het ’n jaar gelede hier ingetrek na die mislukte eerste huisie diep in die berge. ’n Volledig toegeruste huis met die heerlikste geriewe – daar is selfs ’n klein biblioteek! Ons agtertuin is die berge en ek drink elke oggend my koffie langs ’n klein fonteintjie. Pure paradys! Daar is meer as genoeg spasie vir elkeen en dis boonop naby die dorpie.
Die absolute veiligheid. Ja, al die clichés is waar: ons los ons sleutels in kar, die huis word weinig gesluit, dis veilig om laataand en vroegoggend in die dorpie rond te loop en vroue los sommer hul handsakke op die tafel wanneer hulle ’n draaitjie gaan loop. Ethan het eenmaal sy foon in die stad by ’n arkade op ’n masjien vergeet, en ons het dit ’n dag later weer daar gekry.
Tyd is my grootste geskenk. My kinders blom, want ek het tyd vir hulle. Ek gesels ook lekker met my ma en pa.
En die slegste?
Die min tyd saam met Chris. Die groot rede vir die skuif was om meer van Chris (die kaptein van ‘n seiljag) te sien. Hy is ons eie “Kaptein Sardyn”, maar ongelukkig het dit ’n bietjie soos Finding Nemo geword. Ons vlieg orals agter ons liefie aan. Ons is soos swerwers – bietjie in Spanje, bietjie in Holland en baie in Montenegro. Ek sien dikwels hoe verskeurd hy is tussen ons en sy werksverpligtinge. Ons as familie het geweet waarvoor ons onsself inlaat, maar soms is dit hartseer dat ons hom so min sien. As ons moet eerlik wees, sien ons hom in baie opsigte minder as toe ons in Suid-Afrika gewoon het.
Natuurrampe en ander vreemdhede laat ons steeds na twee jaar hier dikwels na mekaar kyk en wonder “ hoe op aarde het ons hier beland?”
Ons kossmake het aangepas nadat ons vir lank nerens wou gaan eet of selfs winkel toe gaan nie. Daar was niks wat ons wou eet nie. Maar nou het die kinders al deur hulle vriende leer Plazma eet (dis koekies wat nogal baie soos beskuit is). Hulle drink ook soos hulle vriende karringmelk by hulle etes en Consomme (helder sop) is deesdae hul gunstelingsop. Dit is ’n gereelde ete by die skool. Hulle eet ook Borek en Russiese pannekoeke. Hulle gunsteling peuselhappies is Cevapi’s – amper soos boerewors maar sonder die velletjie – en dan natuurlik ook grondboontjie-gegeurde popcorn.
Ek is nie gewoond om in sneeu en veral op ys te ry nie. Na een keer se sleg gly is ek maar altyd versigtig. Ons het ook al aardbewings beleef, die skool het oorstroom en daar was al vlamme in ons weens donderweer. Ons TV-dekodeerder is al ’n paar maal vervang – ons huis is ’n magneet vir bliksemstrale.
Hoe lank is julle al ingeperk weens COVID-19?
Sedert die sestiende Maart. Restaurante en kroeë het onmiddellik na die president se aankondiging gesluit, maar winkels was nog vir ’n ruk oop. Gelukkig is apteke nog oop, en ek kon darem daar ’n paar (vreemde) speelgoed koop vir Sophia se verjaarsdag – ek het nooit daaraan gedink om vir haar speelgoed te koop voor die winkels sluit nie. Ek hoop ons gaan eiers hê om vir haar ’n mooi koek te kan bak! Die inperking is veronderstel om op die 15e April te eindig, maar ek het ’n gevoel dit gaan verleng word. (*rooi rose: met ons plasing was dit nog onbekend of Montenegro se inperking opgehef of verleng gaan word.)
Hoe hanteer julle gesin die inperking?
Daar is natuurlik ’n paar hartseer, emosionele oomblikke maar ons vier is gewoond aan baie tyd alleen saam spandeer. My ma het juis gespot dat ons reeds die afgelope twee jaar in isolasie is.
Chris is in isolasie in Spanje waar sy seiljag vasgemeer is, en dis vir hom veel erger. Hy sou graag saam met ons wou wees en help klaarmaak met ons berg-projek. Ons doen kuns aanlyn met hom en op ’n Saterdagaand het ons nou begin om saam te dans. Elke familielid kry twee liedjies op die playlist. Ek moes ook my kinders voorberei op wat om te doen as ek iets oorkom. Ons het ’n spesiale stelletjie medisyne gepak en ’n kamer bo in ons huis ingeruim vir as ek sou siek raak. Daar is ook ’n telefoonnommer byderhand – dis nie lekker nie, maar dis beter om voorbereid te wees.
Hoe bly julle besig, aktief en positief?
Ek is gelukkig dat ek werklik geen vrye tyd het nie. Ek staan 04h00 soggens op. Dit is my uur van pure geluk. Dan kyk ek dalk Netflix, lees dalk ’n bietjie of doen ’n bietjie ballet – lang storie! Maar dis net mý tyd. Vanaf 5h00 maak ek huis skoon en 06h00 maak ek die troepe wakker. Ons haal skoolwerk in en leer vir toetse. Ons werklading is massief, veral nou met home schooling weens die inperking. Boonop is dit die einde van ons belangrikste kwartaal, en in plaas van eksamens gee die kinders nou ekstra take in.
Ons tuin is die berg agter ons, so ons stap lekker ver en pluk vir pret wat eetbaar is.
Wat is vir jou die moeilikste deel van die inperking?
Om alles te wees vir my kinders. Ek moet vrolik bly en die ergste bang uit die situasie neem. Ons huis is ver van ander af, en wanneer die kinders slaap is dit pikdonker hier. Ek dra my alleenheid dan soos ’n jas.
Lees ook: Raadop met jou kinders tydens die inperking? Hier is hulp!
Al is ek soms loop-in-die-muur-vas van moegheid, moet alle etes steeds gemaak word en skooltake moet elektronies ingedien word. Ons het ’n massiewe swembad en tuin- en alle dienste is opgeskort. Ons is nou pouses buite besig met tuinmaak en swembad skoonhou, wat eintlik ook ’n heerlike tyd is vir ons.
Ek het saans ’n aanlyn-afspraak met ’n paar vriendinne en ons sit ’n skeut lipstick aan, skink ’n glasie en vier die dag. Ek doen moeite met my voorkoms, want ek is eendag uitgevang aanlyn op Max se Zoom klas. Ek het die tiener laat skaam kry – dis ‘n sonde erger as moord!
Chris wil so graag alles vir ons doen. Hy laat lewer gereeld kos en ander produkte hier af. Dit hou ons vreeslik besig. Ek gaan dalk toegepak word met alles wat hy stuur. (Of as julle my soek, ek is verstrengel in al die wasgoed wat ek nog nie weggepak het nie!) Hy orkestreer die aflewerings vanaf Barcelona met opdragte op Zoom, en die kinders moet alle reëls volg. Alles moet eers in die motorhuis gelos word vir 24 uur. Daarna word dit in ons kratte gepak. Dan moet die kinders dit met alkohol afvee en eers daarna mag hulle dit in die huis indra. Alles terwyl hulle soos wesentjies soos uit ’n wetenskap-fiksie boek lyk in hulle beskermende klere.
Watter kos maak jy in hierdie grendeltyd?
My kinders het hulle aptyt verloor – niks is werkliks vir hulle lekker nie. Ek dink hulle is diep hartseer en ook in skok. Die besef dat alles verander het is vir ’n kind wat van roetine hou soos ’n gletser wat val. Hulle onskuld is vir altyd gepluk. Boonop behandel Sophia op die oomblik Pompeii se geskiedenis.
Hulle geniet nog wel Oosterse geregte, en is veral gek oor dim sum en prawn toast en Omiruci (rys met ’n romerig omelet bo-op).
Vrydae kook ek soos in my ou dae op bote ’n klomp geregte vir my familie, sodat almal hulle self kan help tot by Sondag-middagete. Ek bou vir my ’n pouse in.
Ek vind ek geniet ons geregte van EEN (die resepteboek aanlyn beskikbaar), meer gepas as ooit. Dis minder skottelgoed, en een dis. Alles proe ook beter in bakkies en dis hoe ek die kinders kry om iets van alles te eet. Ons mis restaurante, so ons probeer om goed soos die kolonel se hoender en gunsteling restaurant disse soos calamari-tentakels na te maak.
Sophia is die eksperimenteerder, en probeer daagliks ’n nuwe slaai of smoothie. Ethan is verlief op en verlore as dit kom by stysel, en Max sal net vleis eet as ek hom toelaat. ’n Baie moeilike groepie kliënte.
Ek moes meer struktuur aan ons lewe gee want dit is nie so maklik hier nie. Ek het al oproepe van Engelse vriende gekry om te se daar is baked beans by ’n sekere winkel, of haloumi by ’n ander.
Nou met ons inperking waardeer ek alle kos behoorlik, en alle oorskiet word hergebruik in ’n Buddha bowl of ’n slaai.
Vertel kortliks van jou kinders se skool-uitdagings.
Hulle gaan nou aanlyn skool in alle vakke, ook tale, sport en musiek. Die skole hier is intens. Ons het oor die algemeen ’n baie hoe werklading want daar is nie baie skooldae nie, maar saam met inperking is dit behoorlik ’n ramp. Daar is geen vrye tyd nie. Skool maak 14:30 klaar en ons begin weer met huiswerk rondom 17:00. Dan volstoom tot slaaptyd. Die kinders se skoolwerk is baie ander en meer druk as waaraan ek gewoond was.
Oor naweke kry hulle baie leeswerk en take. Ons neem tyd af tot Sondae en dan begin ons 11 uur woel. Ons is graffiti-mal op die oomblik, ons het ’n les in Zagreb (Serbië) gehad, ek het ’n paar spuitverwe gekoop en nou speel ons ons is Banksy op los planke in ons tuin.
Dink jy COVID-19 gaan julle toekoms baie verander?
Ek is snaaks genoeg baie geïnspireerd. Ons sou middel vanjaar Nederland toe verhuis het, maar ek dink dit is nou eers uitgestel weens COVID-19. Ek is lief vir Montenegro. Ek het verplant. Ek was ’n ou olyfboom wat baie gelukkig was waar ek was, maar nou voel ek nuut en reg om te blom. Ek het ’n rol om hier te speel. Die laaste twee jaar was moeilik en baie wat ek probeer aanpak het kon ek nie al die pad vat waarheen ek wou nie, want ek was baie op my eie met te veel verantwoordelikheid.
Ek dink Chris gaan baie meer by die huis wees. Mense gaan die wêreld vol Zoom in plaas van eindeloos en dikwels moedeloos op lughawens sit. Ek is betrokke by heelwat groepe en my werks- en vriendekring raak lekker groot, en sien soveel geleenthede raak. Montenegro se “outydse” manier van dinge doen is presies wat die res van die wêreld moet doen.
Ek dink ongelukkig nie dinge gaan ooit weer heeltemal terugkeer na normaal nie, en ek is klaar hartseer oor my kinders nooit iets soos die energie van New York sal ervaar nie. Ek dink dit gaan baie duur word om te reis (en eintlik het ek al voor die pandemie so gedink). Plekke soos Venesië in in die see in vertrap deur miljoene mense wat net ’n foto kom neem het. Ek het verlede somer ’n paar bloggers en vloggers rondgewys in Montenegro, en gegril oor hoe vinnig hulle hier deur is. Alles was net fotosessies – niks is behoorlik geniet nie. Ons was by top-restaurante, en kos is net bestel vir die kamera. Ek het dit so fake gevind.
Wat dink jy gaan verander?
Familie sal weer die kern word waarom alles wentel. ’n Bietjie soos Lost se “The Others” – ander mense kan ons siek maak, so die gesin word alles. Ek hoop skooldae en werksdae word korter. Ek hoop ons sal weer elke greintjie kos waardeer. Ek hoop ons sal stop met ons “whe la kapela” leefstyl. Almal moet besef dis eintlik ’n geredigeerde weergawe van almal se lewens. Soos daardie een hoekie van jou studeerkamer wat skoon is, spesiaal vir sosiale media.
Ons hoor jy werk aan ’n proekamer. Vertel!
Dis die grootste vreugde! Ons het ’n stukkie grond gekoop – oor baie sopies Rakia, soos ‘n transaksie hier beklink word – en ’n swart huisie gebou met ’n pienk millennium deur om my ma se oorwinning oor borskanker te vier. Ons beplan toere soontoe – ’n lekker hike tot by die kerkie bokant ons huis met ’n uitsig oor Tivat. Daarna ’n heerlike wynproe en berge Priganica en Proscuitto en kaas ingelê in olyfolie.
Dit is die tuin van Eden en ons pluk granate, aspersies, vye, perskes, druiwe en bessies. Ek sien al die pragtige foto-sessies daar waar mens die vars lug van die swart berg kan inasem. En ek droom daarvan om vir elke geleentheid ’n troukoek (sg. celebration cake) te bak. Sommer net.
Die buitelug kombuis is groot genoeg vir kleinerige groepe. Ons beplan klein troues en feeste in die bos. Sommer net ’n lieflike speelplek. Ongelukkig is alle besprekings nou eers op ys.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.