Die groot wenner van die aand was die musiekfliek La La Land. Die fliek het skoonskip gemaak en weggestap as die grootste wenner van die aand, nadat dit ál sewe toekennings ontvang het waarvoor dit genomineer was, onder andere die toekenning vir die beste musiek- of komediefliek asook vir beste aktrise en akteur (Ryan Gosling en Emma Stone).
LEES OOK: Ryan Gosling gesels oor La La Land
Meryl Streep het die Cecil B. DeMille-toekenning vir haar uitstaande bydrae tot die vermaaklikheidsbedryf ontvang. Sy het tydens haar toespraak uitspraak gelewer oor hoe sy oor Donald Trump voel en sy het ook haar vriendin, die oorlede Princess Leah (Carrie Fisher), aangehaal: “Neem jou hartseer en omskep dit in kuns,” het sy gesê.
Nicole Kidman was genomineer vir beste ondersteunende aktrise in ’n fliek (Lion), maar Olivia Colman (The Night Manager) het uiteindelik met die prys weggestap.
Claire Foy, van die televisiereeks The Crown, het die toekenning vir beste aktrise in ’n dramareeks ontvang.
Matt Damon en sy goeie vriend Ben Affleck het grapperig hul aanbiederspligte voltooi en kon later darem vir Ben se kleinboet, Casey Affleck, gelukwens met sy toekenning vir die beste akteur in ’n dramafliek (Manchester By The Sea).
The Crown is bekroon as die beste dramareeks op televisie en Billy Bob Thornton is as beste akteur in hierdie kategorie aangewys.