Deur Margaret Gardiner
Ons eet ’n vinnige ontbyt, pak ons bagasie en gaan af na die voorportaal. Terwyl ons probeer vasstel hoe lank dit sal duur om ’n Uber te kry, vra ’n man ons of ons Suid-Afrikaners is. Ons aksent het ons verraai.
Hy bied ons ’n rit na die stadion aan. Ons ruil inligting uit, maar my selfoon sluk dit in! Hy is ’n Pretorianer, en ek moet sy ma komplimenteer met so ’n oulike seun. Hy woon in Rodondo Beach en is ’n rekenmeester. Sy naam is Hendrik. Dankie vir die rit, Hendrik!
Daar is nie ’n maklike manier om dit te sê nie: Ons het teen Engeland verloor. Ons het ons beseerde spelers gemis. Engeland was beter en vinniger en die skeidsregter het ook ’n paar, sal ons sê, interessante beslissings gemaak. My hart was gebreek, en dit het nie gehelp dat die Nieu-Seelanders wat agter ons gesit het, verheug was met die uitslag nie. Ek dink hulle was verlig dat ons ’n slegte dag gehad het en hulle nie teen ons te staan hoef te kom nie.
Die feit dat hulle ’n groep vroue was wat winde opgebreek het en hul (baie) drankies op die vloer gemors het (ons moes ons sakke optel), het niks te doen met waar hulle vandaan kom nie. Maar daar was baie om op trots te wees – Suid-Afrika het nog ’n wedstryd gehad om te speel vir die derde of vierde plek.
Ek het vir ons plek bespreek op die laaste vlug (20:20) terug na LA. Die wedstryde het ’n bietjie laat begin. Die lugredery het kennisgewings gestuur dat daar lang rye by sekuriteit is …
My middagete was ’n soutvleis-toebroodjie in die Amerikaanse styl – ’n kwart pond vleis per helfte. Die plek was propvol en daar was net staanplek. Ek het pas ’n reuse-hap afgebyt toe ek opmerk dat ’n jong meisie na my staar. My wange was volgestop en ek het gedink dit is nog ’n Suid-Afrikaner wat my groet. Ek het teruggewaai en sy het my nader gewink. Ek het steeds gekou aan die groot hap en het probeer om met ’n toe mond te glimlag. Ek het met die mond vol kos oorgestap om te gaan groet. Ek het vir seker meer afgehap as wat ek kon kou en ek was op die punt om myself voor te stel met ’n mond vol kos.
Ek het desperaat gekou terwyl ek die paar treë tussen ons aflê. Maar voor ek my kos kon sluk, het sy gesê: “Jy was Mej. Heelal!”
Ek het my kop geknik en nog vinniger gekou. Ek het in die bloedige son gesit in jeans en ’n langmoutrui omdat ek nie vir dagwedstryde klere ingepak het nie. Ek het gevoel dit lyk of ek pas uit die sauna gestap het. Sonder my hoedjie was my hare seker ’n spektakel, en ek was steeds aan die kou aan die homp vleis en boonop het iemand my herken.
En omdat sy ’n genadige Suid-Afrikaner was, het sy ons genooi om by haar aan te sluit sodat ek die tafel kon gebruik en nie onbeheerbare hompe kos in my mond hoef te druk nie.
Ek wou gesels, maar ek was steeds besig om te kou en het net my kop geknik en geglimlag.
Ek kon daarin slaag om te sluk en haar te bedank, en ek was desperaat vir ’n sluk water.
Heeltemal onbewus van my worsteling met wat gevoel het soos ’n hele bees, het sy vir ’n foto gevra. Ek het geglimlag en gehoop daar steek nie kos by my mond uit nie. Ons het die foto geneem en voor ek die situasie met die kos kon verduidelik, het sy in die skare verdwyn.
Mense is so gaaf. Ek wens ek het ‘n bietjie beter gekyk en die kans gehad om verder te gesels. Ek was so dankbaar dat ek soos ’n beskaafde mens kon sit en eet. Ek het besef die hele tafel was vol Suid-Afrikaners! Voordat ek weg is, het hulle my vertel dat hulle van verskeie plekke ingevlieg het om die Bokke te kom ondersteun.
O, sou jy nie ook beter wou lyk ná drie uur in die hitte in lang jeans en langmouhemp op ‘n snikhete dag nie?
Haha! Ek maak sommer ’n grap. Maar dit is die gemors waarin ek was, so geluk aan die jong vrou om my te herken en dankie vir jou vriendelikheid om die tafel te deel.
Suid-Afrika het Fidji geklop, en Nieu-Seeland het Engeland geklop, en toe moes ons ons na die lughawe haas, ‘n vinnige aandete in die besigheidsitkamer eet en sien hoe San Francisco Bay verdwyn terwyl ons in die oranje lug van die sonsondergang wegvlieg.
Dit was ’n wonderlike naweek en wat ek daaruit weggeneem het, was die spontane vrygewigheid van ons mense. Miskien spring ons nie op en af en skree nie, maar ons oorlaai mense met vriendelikheid en vrygewigheid en ek verkies dit ver bo skandalige gedrag.
Volg Margaret gerus op facebook en Instagram om op hoogte te bly met haar avonture.