Deur Margaret Gardiner
Dag twee begin met ’n staptog na die Banksy-muurskildery op Columbus en Broadway. Ek het die muurskildery nie die vorige jaar gesien nie, en is vasbeslote om dit vanjaar te sien. Ons gaan na die boog van die heuwel en kyk rond. Daar is ’n muurskildery, maar ek is redelik seker dis nie dié skildery nie. Ons kyk in al die ooglopende plekke, en vra vreemdelinge waar die Banksy-muurskildery is. Hulle het geen idee waarvan ek praat nie. Naderhand sê iemand: “O, dis hier, kom saam met my.” Hy lei my na die onderste regterhoek van die kruising en sê: “Kyk daar.” Bo-oor die geboue is die Engelse straatkunstenaar se werk sigbaar. Subtiel en ongemerk, ’n politieke stelling. Ek geniet die ongewoonheid daarvan, neem ’n foto en is gereed vir ’n laat ontbyt.
Ons stap slenter-slenter deur die strate tot by die pier. Dis een van daardie perfekte dae met wolke wat soos spookasem in die blou lug hang. Die “ander” brug, die Oakland-brug, is sigbaar met ’n wolkbank in die verte wat dreig om mis te bring as dit aand word.
Dit is ’n uitstekende uitkykpunt waarvandaan jy die stadslyne van San Francisco en die baai kan sien. Teen hierdie tyd is ek rasend honger. Dis middag. Ek het kos nodig!
Ons stop by Sea Side Pier 3 vir middagete. Ek bestel ’n Caesar-slaai met hoender en geen ansjovis nie, en ’n Bloody Mary. Die kos is goed. Die hoender is gesnipper en volop, die slaaisous is nie oorweldigend nie. Maar die drankie verdien spesiale vermelding. Dit kon ’n ontbyt op sy eie gewees het! Dit word bedien in ’n lang glas met ’n gekookte halwe eier, ’n lang strook gebraaide spek, reuse-olywe en ’n selderystingel. Die speserye is nie oorweldigend nie. Die uitsig is skouspelagtig, die kos is goed en die drankie pas by die toneel. Die rekening vir twee is redelik en jy kry al die voordele van ’n pragtige restaurant sonder die duik in die beursie.
Ons gaan terug hotel toe om ons ’n bietjie te verfris, en van daar af neem ons die muni (munisipale bus) na die AT&T-Park. Dit is so maklik en vinniger as ’n Uber. Ons voel soos plaaslike inwoners. Terwyl ons debatteer oor by watter stop ons moet afklim, help die (regte) inwoners ons reg. Die son is onverbiddelik. Volgende keer kry ons die goedkoper sitplekke en sit in die skaduwee.
Maar die aksie is naby, so dis die sonbrand werd. Met ’n SBF faktor van 50, ’n sonhoed en ’n serp lyk ek dalk nie soos ’n rugby-ondersteuner nie, maar ek is nie van plan om te rooi te braai terwyl ek vir die Bokke skree nie. Binne sekondes ná ons op die veld teen Skotland gedraf het, teken ons die eerste drie aan. Ons is deur na die kwarteindronde!
Om sesuur stap ons groep stadig na Epic Steak in die baai. Jy moet vooraf bespreek en jy moet bereid wees om ’n groot gat in jou begroting te kry. Maar dis die moeite werd. Die uitsig aan die voet van die Oakland-brug is pragtig en die kos uitsonderlik. Ons kry ’n buitetafel met oorhoofse verhitting wat die beroemde San Francisco-aandkoue verlig. Ek begin met ’n dosyn oesters en die 6 ons-steak. Natuurlik ook slaai en groente.
Die oesters en biefstuk is perfek. Die geselskap, uitsig, kos en wyn vorm ’n harmonie. Niemand wil nagereg hê nie – wel, niemand anders as ek nie – maar ek erken dit nie. Ons vriende vertrek en ons gryp die muni wat reg buite die restaurant is terug na ons hotel – en na die stafie Cadbury-sjokolade wat op my wag!
Toe die muni stilhou, begin die beroemde San Francisco-mis neerdaal. Dit is koud. Die boonste dele van die geboue verdwyn en dit voel verlate en spookagtig.
Natuurlik is dit net mis en môre se son sal dit laat verdwyn, so dit is ’n vinnige stap na die hotel, pak, stort en voorbereiding vir die eindstryd.
Lees ook: Margaret se Wêreld: San Francisco Dag 1
Volg Margaret gerus op facebook en Instagram om op hoogte te bly met haar avonture.