Margaret se Wêreld: Reis na Boedapest deur Margaret Gardiner.
Budapest. Jy spreek die tweede deel van die stad se naam uit asof daar ’n ‘h’ in die naam is – peshhhhht. Ek dink daaraan want ek het ’n YouTube-onderhoud gedoen met Daniel Brühl vir TNT se The Alienist. Ek het laasjaar na Boedapest gevlieg om die stel te besoek. Hulle het ’n byna-draai-van-die-eeu (1895) New York in Hongarye herskep. New York is nou vol wolkekrabbers, maar destyds was dit gevul met lae geboue van rooi bakstene. Dit is soos dele van Boedapest lyk. ’n Gedeelte van die stad is afgesper en die teer met modderige grond bedek.
Ek het in die stad aangekom na ’n warboel van besoeke tussen Afrika, Amerika en Europa. Die konstante tydverandering het my brein geëet en ek was uitgeput. Die goeie nuus was dat ek in The Four Seasons Hotel oorgebly het.
Die oomblik toe ek in my kamer kom, het ek besef daar is ’n probleem. Die lugverkoeler het direk op die bed gewaai en dit het ’n lawaai gemaak. Ek was reeds koud van die moegheid en het gevra om geskuif te word na ’n ander kamer. My nuwe kamer was langs die skoonmakers se basis en hul gedurige beweging en geselsery het my wakker gehou. Ek het hulle gevra om net vir 30 minute stiller te wees en het my alarm gestel sodat ek ’n bootrit op die Donau kon meemaak. Toe ek uiteindelik wakker word met ’n swaar gevoel in my kop en besef ek het dwarsdeur my alarm geslaap. My foon was afgeskakel. Die boot sou binne 10 minute vertrek. Ek het ’n trui, handskoene, hoed, stewels en baadjie gegryp, maar kon nie my sleutel kry nie. Vergeet die sleutel, ek sal met my terugkeer vra dat hulle vir my een gee, het ek besluit en gehardloop na die kaai waar ek die boot moes haal.
Dit was verder as wat ek gedink het en ek het die boot gemis. Ek was in trane van uitputting en frustrasie. Ek wou so graag die aandete-vaart op die boot gedoen het. Ek was net vir twee dae in die stad en moes twee stelle besoek en dit sou die enigste tyd wees wat ek die stad kon sien.
Die son was besig om te sak en die koue het deur my lyf getrek. Ek het al langs die rivier afgestap en oor die brug en sonder ’n kaart die dele wat ek kon, verken. Maar toe het die gegrom van my maag my oorweldig. Ek was honger en gefrustreerd en kon nie in my kamer kom sonder ’n sleutel nie.
Die toonbankklerk was ’n ware heer en het my gevra hoe dit gaan. Gewoonlik is ek te beleef om te kla, maar ek was moeg.
“Ek is teleurgesteld.” Het ek kalm verklaar.
“Ek het my aandete-bootrit gemis omdat ek weens ’n lawaaierige kamer verslaap het.” Ek het hom vertel hoe die personeel geraas het. “Ek sal regtig ’n stil kamer waardeer. Ek weet jy het gesê die hotel is vol, maar … ”
Ek het nooit die kans gekry om die my sin te voltooi nie.
“Me. Gardiner, ek is so jammer. Dit gebeur nooit hier nie,” het hy gesê,” Mag ek jou aandete reël?
Ek het skaam gevoel. “Nee glad nie. Ek kan aandete bekostig. Ek is net moeg en het ’n stil kamer nodig.”
Hy het my kamernommer gevra.”Laat my toe om te help. Mag ek voorstel dat u gaan pak en ek sal u persoonlik na ’n ander kamer begelei. Die hotel is vol, maar ek sal my bes doen. ”
Ek het na hom gekyk. Ek het nie daarvan gehou om ’n ophef te maak nie en aangesien die boot vertrek het, sou ek wou swem voordat die swembad sluit sodat ek van die vliegvoosheid ontslae kan raak. Ek het die volgende dag ’n besige dag gehad en die swem sou my wakker maak. Daar was ’n wonderlike swembad op die boonste vloer. Ek het hom van my plan vertel en hy het gesê ek moet hom na my swemsessie bel.
Toegewikkel in my japon met my druppende hare in ’n handdoek is ek begroet deur iemand wat soos die bestuurder gelyk het. Hy was saam met die man met wie ek voorheen gepraat het. Daar was iemand om my bagasie te dra. Ek is na ’n luukse suite geneem wat ’n paar deure van die swembad af was. Hulle het gesê hulle hoop dit maak op vir die ongewone diens wat ek tot in daardie stadium gekry het. Die man het die gordyne oopgetrek en ’n pragtige uitsig oor die Szechenyi-kettingbrug onthul. Dit strek oor die Donau-rivier tussen die oostelike en westelike dele wat die hoofstad in Buda en Pest skei. My kamer was reg oorkant die brug. Maar voordat ek nog die uitsig behoorlik kon inneem, was daar ’n klop aan die deur. Hulle het aandete gestuur saam met ’n klein bottel vonkelwyn en ’n verskoning dat ek my bootrit misgeloop het!
Nog nooit het ’n negatiewe ervaring in so ’n positiewe ervaring verander nie en ek moet die personeel van die hotel daarvoor prys.
Hulle was wonderlik en die enigste geluid wat ek in my nuwe kamer gehoor het, was my voete wat in die luukse mat ingesak het.
My twee dae in Hongarye was gevul met verkennings van die stel van The Alienist. Ons het toegekyk hoe ’n toneel verfilm word en kon daarna onderhoude met die akteurs doen en die verstommende kostuums van nader beskou.
Die volgende dag was dit Robin Hood se beurt met Taron Edgerton van die Kingsman-faam, en Jamie Foxx en Jamie Dornan. Die rolprent word vervaardig deur Leonardo di Caprio en Jennifer Davisson.
Lees ook: Margaret se onderhoud met Jamie Dornan
Mense dink dit is ’n glansryke lewe om stelle te besoek, maar die teendeel is soms waar. Ons is in ’n tent gehuisves in baie koue weersomstandighede. Aan die een kant het die wind huilend ingewaai en die tentflappe laat swaai en aan die ander kant is warm lug ingeblaas.
Ons kon verfilming waarneem en het ’n toer van die stelle gehad, en natuurlik kon ons onderhoude doen. Die hoogtepunt vir my was die onderhoud met Leo se vervaardiger-vennoot Jennifer Davisson. Sy het gepraat oor die sterk punte wat haar toelaat om sukses in ’n tradisioneel manlike wêreld te behaal. Jy kan die onderhoud hier lees.
Ons het koud en moeg laatmiddag na die hotel teruggekeer.
Pleks van om te pak, het ek in die stad gaan stap. Een van die roerendste dinge wat ek gesien het, was ’n kunswerk wat skoene van die Jode uitbeeld wat tydens die Tweede Wêreldoorlog vermoor is.
Die skoene op die Donau-bank is ’n herinneringsplek in Boedapest. Dit is deur filmregisseur Can Togay aan die die oostelike oewer van die Donau-rivier geskep saam met beeldhouer Gyula Pauer. Dit vereer die Jode wat deur die Fascistiese Arrow Cross-militantes in Boedapest tydens die Tweede Wêreldoorlog vermoor is.
Boedapest met sy pragtige argitektuur en mengsel van voormalige oostelike blok invloede, is ’n plek waarheen ek wil terugkeer.
Dit was tyd om in ’n sagte bed neer te val en met ’n uitsig oor die Donau het ek aan die slaap geraak.
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels.