Margaret se Wêreld: Partytjies is harde werk deur Margaret Gardiner.
Die Sunset Towers is geleë op die Sunset Boulevard net anderkant die strook advertensieborde en vroue met implantasies en botox, wat lyk of hulle nooit verouder nie. Die mans verouder wel. Hulle raak bles en kry boepies, maar die vroue lyk immer jonk. Die mans is gewoonlik by die tweede of derde vrou en gaan uit met die skynbaar uitruilbares. As die vrou die ouderdom bereik waarvan hy hou, sal hy hom verbind. As sy die ouderdom bereik waarvan hy nie hou nie, sal hy hom losmaak en die volgende uitruilbare kies. Dit is hoe dit lyk as dit kom by die magtige mans in Los Angeles en hoe hulle verhoudings aanknoop en verlaat.
By die Sunset Towers sien jy die glitterati en ou geld wat uitgestal word in die houtpanele van die restaurant waar geen foto’s toegelaat word nie. Hier sien jy gesinne wat normaal lyk, maar aan die snit en materiaal van hul klere kan jy sien dat dit soveel kos as wat baie mense per maand verdien. Dis waar hulle laat-Sondagoggende kom brunch. Ander gesinne kom vier groot geleenthede soos verjaarsdae en prestasies. Aan die ander kant van die hotel is die swembad wat oorhang oor Beverly Hills. Maar die uitsig strek ook verder na daardie areas op die horison wat nie een van die magtiges ooit sal erken dat hulle ooit besoek nie. Pragtige kleure om na te kyk terwyl die ryk en skones gesels oor waar hulle onlangs vakansie gaan hou het en wie hulle vir ete genooi het. Dit is ook by die Sunset Towers waar die meeste studios hulle bekendstellings en post mortem partytjies aanbied.
Ek was onlangs by só ’n funksie vir Showtime. Die plek was gepak en mense het skouer aan skouer gestaan.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Die oploop tot die Golden Globes
Ek het ’n Oliver Tolentino bandjielose swart skemerkelkrok gedra, deur die 50’s geinspireer met ’n sexy onderrok wat die vol romp in plek hou en van die bene af laat wegstaan. Die bostuk is lyfpassend soos ’n bustier en bedek met appliekblomme van antieke kant wat oor die vol romp uitspoel. Die romp het soos ’n borreltjie om my uitgepof as ek sit en het my baie elegant laat voel.
Ek het Stuart Weitzman stilettos met ’n metaal strik oor die tone daarby gedra. Dit het goed gepas by die handgemaakte appliekblomme op my rok. DeMarquetWorld het my gevra om hul handsakkie op die rooi tapyt te dra en dit het goed gepas by die rokkie met skakerings en eggo’s van room en goud. Ek het ’n pêrelarmband en ’n enkel stringetjie pêrels om my nek bygevoeg wat teen my vel gedans het.
Ek het my hare met my vingers gekrul want ek wou dit nie te krullerig of te reguit dra nie. Nie te oordoen vir LA nie. Dit was koel vir LA en ek was dankbaar my Mercedes het verhitte sitplekke. Toe ek ’n motor met verhitte sitplekke gekry het, het ek verstaan hoekom die sterre altyd so warm lyk op yskoue nagte. As jy toegedraai is in ’n kasjmier sjaal en jas en op verhitte sitplekke sit, kan jy maklik op die rooi tapyt paradeer met ’n kaal rok asof dit nie koud is nie. Verhitte sitplekke is een van die groot uitvindings van die moderne tyd …
Ek het op die patio gestaan en aan my vonkelwyn geproe. Ek drink selde by hierdie geleenthede. Gewoonlik neem ek ’n glasie vonkelwyn, neem ’n slukkie, en sit dit neer, en as ek terug kom, is die glas weg. As ek dit nie langer kan hou nie, gaan ek na die kroeg waar gewoonlik so ses mense voor jou staan. En dan, net as jy weer ’n slukkie neem, wil iemand ’n foto neem of stap daar ’n bekende persoon verby of hou die kelners heerlike happies onder jou neus. “Ja, dankie, ek sal ’n happie neem,” en as jy omdraai om dit met ’n slukkie vonkelwyn af te was, is die glas weer weg! Dit is hoekom dit lyk of ek baie drink by hierdie funksies. Ek het al begin om die glas vas te hou as foto’s geneem word, maar dan lyk dit of ek altyd met ’n glas vonkelwyn in die hand staan en vreeslik baie drink.
Mense sal sê, daardie vrou was al vyf of ses keer by die kroeg. Maar ek drink selde iets. Ek het al begin om water in vonkelwynglase te bestel en ook dit laat die toeskouers seker dink, sjoe, maar sy drink baie. Maar hoekom is ek so dors?
Wel, om op hakke van vyf of ses duim te staan is harde werk. Dit is soos ’n baie fisieke oefensessie. Jy moet regop staan en jou maag intrek en jou bobene en agterstewe saamtrek as jy jouself vir ure op die hakke wil balanseer. Dan is daar die gepraat. Ek hou daarvan om te lag en gesels, maar ek het ’n sagte stem wat mense nie kan hoor nie. Dit irriteer sommige Suid-Afrikaners blykbaar want hulle kla gereeld daaroor. Mens moet seker vreeslik geïrriteerd wees as jy tyd maak om oor iemand se stem te kla. Maar ek is ek en ek klink soos ek altyd klink ongeag of ek in Suid-Afrika of LA is. Niemand kan my hoor nie!
Ek gil dus die hele aand op mense, “Dit is koud vanaand. Gelukkig het mens verhitte sitplekke.”
“Wat?” Vra hulle gewoonlik.
Dan herhaal ek weer, ”Dis koud vanaand, gelukkig is daar verhitte sitplekke in karre, nè.”
En om my verleentheid te bedek, gryp ek na my glas water en raai wat? Dan is dit reeds weg!
Lees ook: Margaret se Wêreld: 2018 in oënskou
Kyk daar! Daar is Jim Carrey met ’n mooi vrou aan sy sy wat lyk of sy baie na aan hom is. Mens wil nie indring nie, maar jy wil hom bedank vir die dag by die perskonferensie in September toe hy so gaaf met jou was toe jou gesig nog toe was met verbande na jou operasie. Hy het na my gekyk asof die engele in die wêreld agter sy oë skuil met sagtheid en liefde.
So as sy metgesel wegdraai, moet jy vinnig beweeg, suster. Jy sit jou glas neer en probeer nader staan, so vinnig as wat die hoë hakke jou kan dra. Sy oë is opgelig en hy kyk deur die vertrek en jy weet hy is gereed vir ’n gesprek. Die romp pof uit en die mense is baie en net as jy naby hom is, spring iemand jou voor. Jy wag dus ’n rukkie. Jy wil hom nie onderbreek nie. Jy wil nie ’n foto neem nie. Jy wil net dankie sê.
Ek spin soos ’n ballerina in ’n juwelekissie en terwyl hy praat, kyk ons mekaar in die oë en sy kuiltjies wys. Ek glimlag terug en voel aangemoedig en staan nader, en as hy klaar is met sy gesprek, gaan deel ek met hom hoe dankbaar ek was vir sy vriendelikheid toe ek in September met ’n rou wond onder my vleeskleurige verband by die perskonferensie langs hom gefotografeer moes word.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Die operasie
“Hoe gaan dit nou met jou?” vra hy. Ek skud my kop want geen woorde kom uit nie. “Wel, jy lyk pragtig.”
Ek wil net dankie sê en ek wou nie hê hy moet verplig voel om my te komplimenteer nie. Ek het nie vir komplimente gevis nie ek word skielik oorval met emosies. My oë word groot soos hulle maak as ek nie wil huil nie en my mond lyk gedetermineerd. Hy gee my kans om my emosies bymekaar te kry. En al die engele in die wêreld kom weer saam agter sy bruin oë en sy empatie tref my soos ’n tsoenami.
“Ek wou net dankie sê,” sê ek.
En hy hoor my. Ek kan op sy gesig sien hoe hy my woorde registreer. Blykbaar verdwyn my stem nie in die agtergrondklanke in soos dit gewoonlik maak nie en soos hy wil-wil begin om iets te sê, glimlag ek en ek knik. Ek het pas gedoen wat ek moes, en ek beweeg vinnig weg voor my emosies my oorweldig.
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels.