Margaret se Wêreld: Ons het almal sulke dae … deur Margaret Gardiner
Voor só ’n dag …
… en aan die einde van só ’n dag
Ons het almal sulke dae. Jy word twee-uur sonder enige rede wakker. Dan raak jy weer halfses aan die slaap sodat die wekker jou sesuur kan wakker lui. Jy weet jy moet strekoefeninge of so iets doen, maar jy draai om en slaap verder. As jy dan weer wakker word, het jy net twee ure om te eet, aan te trek en werk toe te gaan.
Ek voel moeg. Ek was nie my hare nie (ek het mos gister). Niemand sal dit raaksien nie.
Nou die gevreesde spieël. Na my operasie neem dit langer om te grimeer. Ek kyk na myself en begin lag. Ja, ek lyk soos elkeen van my 59 jare.
Lees ook: Margaret se Wêreld: My oggendroetine
Snaaks, toe ek jonger was, het ouer mense my gevra wat gebruik ek op my vel. Ek het weer altyd vir ouer vroue gevra wat hulle gebruik, want as ’n ouer vrou gesond lyk, weet sy waarskynlik beter wat om te doen as ’n jong meisie wat nog nie die lewe geleef het wat jou plooie op jou gesig gee nie.
Ek gryp Olay Professional Pro-X. Ek gebruik dit as ek haastig is. Ek druk ’n bietjie op die agterkant van my hand uit en werk dit in sirkels op my gesig in. Ek is klaar verveeld. Ek haat hierdie tyd voor die spieël. Ek het nog altyd so gevoel. Met die aansmeer van sonskerm raak ek rusteloos. Ek skakel die nuus aan sodat ek na iets kan luister terwyl ek die droë lagie van my vel verwyder. Ek spoel dit af met koue water en druk my gesig droog.
Ek voeg Regenerist Micro Sculpting Cream en nog Olay aan en stap kas toe sodat ek kan besluit wat om aan te trek terwyl my gesig die vog absorbeer.
Gemak! Jeans, my gunsteling-stapskoene en ’n polonek in dieselfde kleur as ’n trui wat ek gehad het toe ek 12 jaar oud was. Ek is lief daarvoor. Dit lyk soos stormwolke. Ek het dit in Engeland gekoop en dit is perfek.
Nou vir sonskerm: Neutrogena Ultra Sheer SPF 55. Ek klim die trappe af terwyl dit droog word en maak die vroegoggend-aflewerings oop.
Daar is gewoonlik 5 – 10 aflewerings per dag van verskeie ateljees en CD’s met promosiemateriaal.
Ek neem dit terug na my kantoor en klim weer die trappe op om my lae grimering aan te wend. Ek wil iets ligs hê, maar wat sal werk as ek saam met die ster afgeneem word. Ek gebruik ’n Maybelline Fit Me-onderlaag vir normale tot droë vel met SPF 18. Ek wend neutrale oogskadu van L’Oreal aan en oorweeg dit om nie maskara aan te wend nie, maar die gebrek aan slaap laat my vaal lyk. Ek voeg maskara by en besluit ek het kleur op my lippe ook nodig.
Toe ek ’n ruk gelede in Suid-Afrika was, het my suster Sandy vir my ma medikasie by Clicks gaan koop, en ek het daardie dag ’n lipstiffie van Yardley genaamd Cranberry Cream ontdek. Dit helder die gesig op sonder die oemf van rooi.
Lees ook: Margaret – ’n ma soos myne
Ek maak my lipstiflaai oop en daar is dit in ry drie.
Ek is nou reg om te gaan. My hare in ’n bolla? Nee, nie na my slaaplose nag nie. Ek trek ’n borsel deur my hare, gryp my Dior-sonbril, gooi my notaboek, pen, sleutels en parfuum in my skouerhandsak en ek is reg om te gaan.
Ek kom aan by die Four Seasons en gaan sit vir my eerste onderhoud met Aaron Taylor Johnson van die film Outlaw King. Die vervaardiger is ’n vrou en ek het met haar ’n onderhoud gedoen vir my rubriek oor vroue in Hollywood.
Aaron groet galant, ons gesels lank oor Toronto (ek was daar vir ’n onderhoud met Bradley Cooper vir rooi rose, wat jy nou in die Desember-uitgawe van rooi rose kan lees, net ’n week na my neusoperasie). Hy vergewe my dat ek laat is. Ek is nooit laat nie, maar weens die gebrek aan slaap en die erge verkeer is ek nou hier, half aan die slaap en ’n bietjie gedisoriënteerd. Ek onthou skielik dit is vandag wat ek onderhoude moet doen met die sterre van Green Book vir my YouTube-kanaal. Hoe is dit moontlik dat ek kon vergeet? Ek stap die gang af en soek kamer 211, maar dis leeg.
Ek stuur ’n boodskap aan die promosiebeampte van die fliek. Dit is by ’n ander hotel en ek het tien minute om daar te kom. Dit is hoe lank dit die valet neem om jou kar op te spoor! En ek het nie grimering saamgebring nie en my hare is nie vars gewas nie, en … Ag, wie gee om? Pas aan of sink. Ek gee my kaartjie by die valet in en loop beeldskone Caitriona Balfe van Outlander raak. Ek het ’n onderhoud met haar gedoen vir my eerste podcast en het ook ’n onderhoud met haar gedoen vir my YouTube-kanaal. Sy is so gewild.
Ek sien haar raak voor ek haar herken. Sy dra silwer stywepyp jeans met ’n gebreide toppie. Hare terugggekam in ’n reguit snit. Haar lengte laat haar uitstaan al dra sy plat skoene!
Sy lyk of sy saam met ’n metgesel is en ek waai ’n diskrete groet sodat ek nie indring nie en klim in my kar.
Ek ry vinnig deur Beverly Hills. Wag, laat ek lag. Die verkeer laat jou skaars toe om te beweeg. Ek vra die valet by die Londen Hotel om die kar te laat luier want ek gaan net gou in en uit hardloop.
Ek bars by die tweede vloer in en hardloop na kamer 211. Oeps. Daar is ’n skare mense. Kan ek dalk na die voorkant van die ry gaan omdat my afspraak vyf minute gelede was? Nee. Ek kan in die wagkamer met sy pragtige uitsig oor Los Angeles wag. Diep asem haal. Hmmm. Miskien moet ek vrae uitdink vir die onderhoud?
Maar ek raak betrokke in ’n gesprek oor die film. Green Book is een van daardie rolprente met ’n boodskap, maar dit is ook snaaks, ’n bietjie soos Driving Miss Daisy, maar sonder die bejaarde vrou en die passasier en drywer se rolle is omgeruil wat kleur betref.
Dit is nie een van daardie diep politieke films nie. Die humor keer dat die donker dele jou mistroostig maak.
Viggo Mortensen, wat skreeusnaaks is, speel die drywer met ’n aptyt. Die ander hoofrol word gespeel deur Mahershala Ali. Hy het ook in die bekroonde Moonlight gespeel. (Onthou julle die debakel toe hulle die verkeerde rolprent aangekondig het?)
’n Ander verslaggewer wys na my neus en merk op dat daar iets op my neus is.
“Ja, dit is ’n letsel,” antwoord ek “Nee, dit is daar op die randjie.” Sy wys na die plek waar die letsel ingeduik en pofferig is.
Dit het ook met my gebeur by die partytjie by die Dorchester Hotel in Londen laasmaand toe ’n uitgewer in my oor gefluister het, “ Jy het iets op jou neus.” Ek het hoflik daaraan geraak menende dit is die letsel, maar ingeval daar wel iets anders op my neus is. Ek het dit probeer afvee, maar dit was my letsel.
Ek vergeet dat dit daar is tot sulke oomblikke.
Ek staan op om in die spieël te kyk. Ek kyk na my beeld: Dit is net die uitgeputte weergawe van myself wat na my terugkyk … met die letsel.
Ek het vergeet om die room aan te smeer wat die chirurg vir my gegee het om die duikie op te vul.
Ek neem ’n diep asemteug, stap terug na die tafel en kondig aan, “Dit is net my letsel, dankie.” Sy vra of ek geweet het daar is ’n grimeerkunstenaar. Nee, ek het nie. Waar? Ek gaan plak myself neer en sê, “Ek het nie geslaap nie en my kankerletsel is baie sigbaar vandag en kan julle my help?”
Op daardie presiese oomblik kondig hulle aan ek moet buite die vertrek van die onderhoud gaan wag terwyl ander verslaggewers ingaan.
Gewoonlik is daar twee ander voor jou.
Ek vra of dit weer die geval is en kondig aan dat ek binnekort daar sal wees.
Die grimeerkunstenaar dokter die letsel op my neus en die kringe onder my oë net voor ek ingeroep word.
Ek het drie minute met twee sterre. Ja, regtig in diepte!
Ek vra diskreet dat hulle die kamera teen ’n wye hoek moet hou. “Ons begin wyd en zoem dan in,” word ek vertel. Die verslaggewer se vorige aanmerking het my ontsenu. “Ek het ’n letsel …” probeer ek sê. “Ek het chirurgie vir neuskanker gehad en sal julle asseblief nie inzoem nie?” Teen die tyd het die sterre omgedraai. “Ek is Margaret Gardiner van Suid-Afrika,” sê ek en draai om vir my eerste vraag. Baie saggies vra Mahershala of ek oukei is. Maar die waarheid is dat ek effe bewerig is na die vriendelikheid en die verslaggewer se aanmerking vroëer.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Die biopsie
Maar ek gee my mooiste glimlag wat al my plooie wys en neem ’n diep asemteug.
“Ja, ek is oukei.” Hy glimlag vriendelik. Al die vrae verdwyn vir ’n sekonde uit my gedagtes. Ek asem uit en spring in. Die tyd vlieg verby en ek is weer by die deur uit. Ek wag vir die CD’s van my onderhoud en vra of ek op die balkon kan gaan staan.
Volg gerus vir Margaret op YouTube
“Dit is mooier aan die ander kant,” sê hulle. “Ja, maar ek hou daarvan hierdie kant,” jok ek.
Wat ek eintlik wil doen, is om in die blou lig te staan met Los Angeles se lug soos ’n rolprent ver bokant my.
Ek neem foto’s sodat dit lyk of ek daar is om foto’s te neem, maar eintlik neem ek tyd om te fokus op die plek waarheen ek gaan as die wêreld te vinnig beweeg. Die lig is regtig mooi. Ek kry my CD’s en kies koers terug deur Beverly Hills vir my onderhoud met Natalie Portman. Kyk op my Instagram hoe asemrowend het sy gelyk in Dior.
Om op hoogte te bly met Margaret se besige en interessante lewe, volg gerus haar blog vir rooi rose. Jy kan haar ook op sosiale media volg: facebook, Instagram, twitter, en YouTube.