Margaret se Wêreld: Onderhoud met John David Washington deur Margaret Gardiner.
Wat het jou na die rol van Ron Stallworth in BlacKkKlansman getrek? Baie mense dink ook jy kom uit ’n bevoorregte agtergrond en is nooit aan rassisme blootgestel nie.
Daar is baie wat my opgewonde maak oor BlacKkKlansman. Nie net stap ek saam met Spike Lee op sy ongelooflike lewenspad nie, maar ek het ook die perspektief van die Afro-Amerikaanse polisieman leer ken. Ek dink nie hulle word goed verteenwoordig in rolprente nie. Ons ken nie hul standpunte en perspektiewe nie. Ons weet nie van die keuses wat hulle moet maak tussen hul beroep en hul gemeenskap nie. Net omdat hulle polisiemanne is, beteken dit nie dat hulle nie bewus is van die bevryding van ons mense in sekere sosiale narratiewe in hierdie land nie. Ek het gevoel dit is ’n groot verantwoordelikheid, en dit was ’n soort dank aan die mans en vroue in uniform wat ons dien. Dit is ’n ondankbare werk en ná my navorsing het ek besef ek weet te min daarvan. Ek het ervaar hoe emosioneel uitdagend dit kan wees. Ek het baie van hierdie subtiliteite gevind in my omgang met mense en deur gesprekke met mense soos Ron Stallworth. Ek dink dit het die verskil gemaak en ek wou nie te voorskrywend wees nie. Ek dink in elk geval nie op daardie manier nie, maar ek dink dit was belangrik om dit reg aan te bied aangesien hy nog leef en ek het ’n klomp inligting van hom gekry. (Ook ingevolge my beskerming omdat ek Denzel Washington se seun is.)
My ma is van Noord-Carolina en ek het baie somers en lentes daar deurgebring en as kind is ek die N-woord genoem. Ek was so tien of elf jaar oud. Ek het al met rassisme te doen gehad en dit het niks te doen met die manier waarop ek grootgemaak is nie. Ek het Amerikaanse voetbal gespeel en ek is baie oor rassisme vertel. Mense se idee van nepotisme het my gemotiveer. Sommige mense het gesê ek kry net kanse sonder dat ek dit verdien. Ek het voetbal gespeel deur vyf harsingskuddings, gebreekte ribbes, ’n geskeurde meniskus, en ek het onlangs ná ’n sportbesering ’n breukoperasie gehad. Dit was ná agt jaar my afskeidsgeskenk van die NFL. Ek het deurgedruk en dan is daar baie mense wat dink ek is nie deur moeilike tye nie. Dit het my gemotiveer en baie van myself geleer. Daar is net iets daaraan as jy ’n wedstryd speel met gebreekte ribbes. Jy word bekend gestel aan ’n ander vlak van jouself waarvan jy nie geweet het nie. Al daardie lesse wat ek geleer het deur voetbal te speel, het goed by hierdie professie aangepas. Al die inligting wat ek gekry het van die Black Panthers se gemengde dokumentêre opnames en die musiek. Dit het my toegang gegee. Die land was kwaad. Viëtnam, hulle het sluipmoorde op JFK en Martin Luther King uitgevoer en daar was baie onregverdighede. Mense van alle kleure het genoeg gehad. Jy kon dit in hul hare, klere, musiek en kuns sien. Marvin Gaye se “What’s Going On” het gegaan oor briewe van sy broer en sy ervaring in Viëtnam. Ek sien dit by almal, ongeag jou werk, of jy ’n musikant of polisieman of speurder of Ron Stallworth is. Daar is ’n bewustheid en hulle het ’n bewustheid gehad van die tyd waarin hulle geleef het. Dit het my inligting gegee hoe om die rol te benader. Dit was ’n groot uitdaging. Ek sou dit nie sonder Spike kon gedoen het nie. Ook nie sonder al die navorsing voor hulle “aksie” geroep het nie. Dit is alles in die gees en die DNS.
Ek wil ook praat oor Ballers. Ek hou van die reeks. Ek het gewonder: Jy beeld hierdie karakter so goed uit … Is dit geïnspireer deur jou ervarings as voetbalspeler? Jy beeld die karakter so goed uit in albei mediums. En daarvan gepraat, hoe voel dit om so bekend te wees?
Die karakter se naam is Ricky Jerret. Ons het nie dieselfde ervaring as voetbalspelers gehad nie. Hy is ’n bekroonde en gevierde wêreldklasatleet en ek was nie. Hy is ’n samestelling van al die ervarings van al die verskillende mense met wie ek deur die jare gepraat het. Ek probeer daardie ervaring verteenwoordig. Ek grond dit nie op een mens nie. Ek grond dit op die ervaring en ek wil dit uit die speler se oogpunt vertel.
Hierdie jong mense is 20, 21, en hul lewe verander toe hulle skielik miljoene dollars kry sonder dat hulle daarop voorberei is. En hoe om jou eie geld te hanteer is nie iets wat jy op skool leer nie. Hulle dink: Ek het dit gemaak en ek gaan vir my ma ’n huis koop en vir my niggie ’n huis koop en vir my broer, vir almal in my buurt. Ek sal vir almal sorg. Maar hulle verstaan nie dat NFL ook vir “Not For Long” staan nie en die geld hou een of ander tyd op.
As dit van my afgehang het, sou ek vir hulle sê om vir die eerste drie jaar nie eens aan die geld te raak nie en om soos ’n kollegestudent te leef sodat jy die oorgang behoorlik kan maak. Ek het in die verlede daaroor gepraat. Wees spaarsaming. Dit was vir my ’n groot motivering om te kon wys hoe ’n atleet in die NFL leef en die eise wat aan hulle gestel word.
Ek het gevoel Ballers is daardie soort opvoeding. Jy moet basies nie doen wat Ricky Jerret doen nie. Hy dink hy doen goed, maar hy is nie bevoeg en het nie die vaardighede om normaal te kan leef nie. Dit is ’n baie barbaarse sport en die aard van die sport stel ongelooflike eise aan die liggaam. En dan hou dit op en jy probeer normaal aangaan. Dit is nie maklik nie. Veral as jy 21 jaar oud is. Ek hoop mense wat niks van voetbal af weet nie kan hierdie atlete verstaan en waardeur hulle gaan en die druk waaronder hulle is as hulle speel.
Ons het laasweek gepraat oor Wyatt Russell, die seun van Kurt Russell en Goldie Hawn – hy het ’n TV-reeks wat eersdaags verskyn? Hy was in Vancouver op skool en het altyd gesorg dat vriende hom oplaai, want hy wou nie in ’n duur kar by die skool opgelaai word nie. Het jy ook so gevoel?
Ons het ’n sokker-ma bussie gehad. Dit was groen en het ’n glydeur gehad, wat ’n mens baie hard moes trek. Ek is nooit in ’n Rolls-Royce opgelaai nie. Dit is nie hoe my ouers is nie. Hulle het mooi karre gehad, maar ons het ook die gesinsmotor gehad. En ja, ek het baie oor my pa se naam gejok. Ek sou die rolle gebruik wat hy in rolprente speel en sê hy is ’n prokureur of ’n polisieman. Dit was die era voor Google en ek het daarmee weggekom. Ek het heeltyd daaroor gejok. Ek het ’n skuilnaam gehad. Hulle het my Jimmy of Timmy op kollege genoem. Ek het voetbal as skerm gebruik. Ek het ’n helmet gedra so niemand het my gesig geken nie. Hulle het net geweet ek is die Washington-kind en ek is ’n goeie voetbalspeler. Niemand het geweet ek was sy seun nie en ek het aanhou speel. Dit was soos ’n Batman/Bruce Wayne-kompleks. Ek het al my angs en woede op voetbal uitgehaal. As ek die helmet opgehad het, was ek net nog ’n kind.
Ek wil terugkeer na jou karakter in Ballers, want ek dink dit het betrekking op waar jy nou is. Mense ontdek jou as ’n individu apart van jou ouers. En daarmee saam kom ’n klomp verantwoordelikhede. Hoe berei jy jou voor op roem in hierdie medium? Moes jou pa met jou daaroor praat? Het jy ’n mentor gehad wat jou gelei het? Wat is die dinge wat jou bang maak?
Ek het grootgeword met ’n pa wat Richard the Third in Shakespeare in the Park gespeel het. Ek onthou hoe hy saam met my in New York City gestap en die lyne opgesê het: “Now is the Winter of our discontent”. Ek het ’n ma wat voor die klavier kan gaan sit en Beethoven speel. Net vir speel.
So wat het dit van kleins af vir my gedoen? Ek het geleer van die vaardigheid en die kuns. Die roem-deel hang van mense af. Ek is nie gereed daarvoor nie, want ek is daarin om die waarhede te verkondig en om goed te wees daarmee, om my vaardighede te verfyn. Ek konsentreer daarop om beter te word in dit wat ek doen. Ek neem verantwoordelikheid en dit is my verantwoordelikheid om die beste te doen wat ek kan en om seker te maak ek benut die maksimum geleenthede wat vir my gegee word. Voetbal het my geleer dat niks ’n waarborg het nie en dat harde werk ’n voorvereiste is. Maar dit waarborg jou ook niks. Dit meet nie jou sukses nie. Dit is hier dieselfde. Ek het ’n werk en ek moet dit reg doen. Hoe mense daarop reageer, is hoe hulle daarop reageer. Ek kan nie rustig slaap as ek weet ek het kortpaaie geneem of nie vaardighede geleer nie.
My ma was bekender as my pa toe hulle begin het. Sy was op Broadway, sy het by Julliard studeer. Sy het op 11, 12 klavierles begin neem, iets wat daardie dae ongehoord was vir swart vroue in Noord-Carolina. Sy motiveer my. Ek weet wat sy gedoen het, wat sy opgeoffer het om ons kinders groot te maak. Dit gaan nie vir my oor wat ek met roem gaan doen nie, want ek kan dit nie voorspel nie, maar wat ek wel kan beheer, is hoe ek my werk aanpak. Die manier waarop ’n mens toegewyd is aan ou vakgebied. Ek is toegewyd. Dis al. Of jy van my vertoning hou of nie, dit wat ek gee, is die waarheid.
Kyk na Margaret se onderhoud met Spike Lee en John David Washington
Teken in op Margaret se youtube-kanaal vir meer video’s oor en onderhoude met bekendes. Volg haar op Instagram en facebook om op hoogte te hou met haar bewegings.
Hou ook Margaret se blog vir rooi rose dop by Margaret se Wêreld vir meer stories.