Margaret se Wêreld: Biopsies en New York deur Margaret Gardiner. Hooffoto: David Dodds.
My storie tot dusver …
Ek het ‘n dermatoloog, dr. Jenny Kim, besoek vir ‘n puisie wat nie wou weggaan nie. Sy het ‘n biopsie laat doen. Die uitslag was dat dit basale selkarsinoom is. Kanker.
Lees ook: Margaret se ope brief oor haar kanker
Ek het die week by dokters deurgebring om die opsies te bekyk. Een was bestraling, en die Internet het positiewe terugvoer gegee van mense wat dié roete gekies het. Daar sou geen letsel wees nie, maar niemand kan seker wees dat al die kankerselle vernietig word nie. Met ’n operasie is daar ’n waarborg. Ek sou ’n letsel hê, maar sou later ’n baie groter een hê as ek nie alles laat uithaal nie. Ek het die risiko’s oorweeg en besluit om die chirurg, dr. Jason Roostaeian, te besoek.
Toe hy instap, het my hart in my skoene gesak. Ek het tot sy konsternasie hardop gelag. “Jy lyk nog na ‘n baba!” het ek verklaar. Hy het my verseker hy is nie, en gesê hoe oud hy is. Maar belangriker, hy het met gesag en kundigheid gepraat, en verskeie voorbeelde van die beste en slegste uitkomste gewys. Hy het verduidelik hoe die letsels sal lyk en voorbeelde van pasiënte gewys. Hy het verstaan dat ek dinge so normaal moontlik wil laat lyk terwyl die drama hom ontvou.
Nou vir werk.
Ek moes in New York ‘n onderhoud met Blake Lively doen vir haar nuwe rolprent, A Simple Favor. Gewoonlik sou ek iemand vra om vir my in te staan, maar dit was ook ‘n video-onderhoud vir my YouTube-kanaal en ek sou nie ‘n plaasvervanger kon gebruik nie.
Die biopsie-letsel was ‘n swart roof van 2,5 mm en normale grimering kon dit nie verbloem nie. Ek het my man van my probleem vertel en hy het navorsing op die Internet gedoen. Hy het voorgestel ek gebruik ‘n Estée Lauder-produk wat letsels verberg. Dit het na ‘n plan geklink. Die plastiese chirurg het aanbeveel dat ek die plekkie skoon en droog hou en Vaseline gebruik. Ek het op die dag van die onderhoud die Estée Lauder gebruik.
Ek sou oorspronklik vir vier dae New York toe gaan en een dag Londen toe, maar ek het Londen gekanselleer om die kanker te laat uitsny en die New York-besoek ook verkort.
Ek het die Dinsdagaand tienuur gehoor ek het kanker. Donderdag het ek ‘n afspraak met die plastiese chirurg gehad en Vrydag moes ek my emosies in oënskou neem. Moet ek die kankerstorie privaat hou? Moet ek groot gesellighede kanselleer en toekomstige afsprake beperk? Moet ek navors hoe ek die biopsie vir die kamera gaan wegsteek?
Saterdagoggend drie-uur het ek New York toe gevlieg. Gelukkig is die volgepakte skedule ligter gemaak. Ons wou ‘n onderhoud doen met Gal Gadot vir die nuwe Wonder Woman-fliek, maar dit is gekanselleer. Die program was nie so vol nie en ek was nie seker of dit ‘n seën of uitdaging is nie.
Ek het in New York aangekom met die laatmiddagson wat die stad in skoonheid baai. Dit was asof die lig my gevoed het.
Ek het by my kamer ingeboek en kon my geluk nie glo nie. Die 38ste vloer. ‘n Ongelooflike uitsig en ‘n bad in die venster! Die bad is vir my soos ‘n baarmoeder, en die lieflike uitsig voed my.
Die uitsig oor laer Manhattan het voor my geglinster. Ek kon heeldag in die venster sit en na die skouspel kyk. Die speling van die lig en wolke. Bewegende kuns. Dit was asof die wêreld vir my geskenke gee om die warboel emosies te hanteer.
Een oomblik was ek kalm, positief en vrolik, of het my vriende en familie gerusgestel, en die volgende oomblik was ek ‘n bewende wrak.
Ek moes praat oor die vlam van vrees wat ek probeer demp. Ek het WhatsApp- boodskappe na my susters gestuur, maar hulle het hul hande vol gehad met siek kleinkinders.
Ek het diep asemgehaal en laat weet dit gaan goed met my en dat ek oor New York staan en uitkyk. Wat moes ek doen met die energie wat deur my bruis? Ek het geweet dat ek nie in my kamer kan bly nie. Ongeag die uitsig.
Ek het in Dominick-hotel, voorheen The Trump Tower, gebly. Ek het besluit om ‘n staptog van vier myl aan te pak na Washington Square Park oor die Hudsonrivier, van waar jy die Statue of Liberty kan sien. En dan oos na 12th Street en 6th Avenue waar kunswerke van Banksy (volgens die Internet) te sien is. Vriende het my aan hierdie straatkunstenaar se werk bekend gestel. Hy het miljoene aanhangers en het “politiese” muurskilderye in verskeie groot wêreldstede.
Dit was ‘n stywe stappie, maar New York is soos bewegende kuns. Woonbuurte verander onder jou voete, geboue betower jou, restaurante lok, en groen parke nooi jou om te vertoef. Teen die tyd dat ek by die Hudson aangekom het, het die reënwolke saamgepak, maar ek het die koel lug nodig gehad om deur my hare te waai en sommer die vlugvoosheid ook weg te waai. Ek het drie-uur opgestyg en ek moes die moegheid uit my lyf kry. Ek was diep in myself. Dit was helend.
Die geboue, die park, die water en oefening het gewerk. Ek het die tonele vir my Instagram-blad afgeneem. Ek het gelag. Wat ‘n gemors. Geen grimering nie, en die kommer van die laaste paar dae is duidelik op my gesig te sien. Ek het ook na die plek gestap wat almal moet besoek as jy in Manhattan kom: ‘n tuin in die lug.
Ek het na die Banksy-muurskildery gesoek, maar dit was nêrens te sien nie. Later het iemand my vertel dit was geverf aan die sykant van ‘n woonstelgebou wat afgebreek is om ‘n nuwe wolkekrabber te bou.
Die son het gesak en dit het begin reën. Die sambreel wat ek altyd saam met my dra om my teen die son te beskerm, moes die reën weghou toe ek die 1.2 myl na die hotel aanpak. Vier uur was verby. Ek was rasend honger.
Ek het beplan om Demi, ons huidige Mej. Heelal, te ontmoet as ons skedules dit toelaat en ek het gedink dit sal lekker wees om voor die tyd by die swembadkroeg, ‘n ontspanne, byderwetse plek, te gaan sit. Die geboue is kunstig verlig en die atmosfeer is heerlik. Maar dit het gereën. Soos ek is, het ek die reën geïgnoreer en soesji-tacos bestel. Tuna met soja-gemmersous, salm met spesery- guacamole en geelstert wasabi mayonnaise, wasabi tobiko en hul bekende Bird of Paradise-drankie: Volcan blanco tequila, waatlemoen- en lemmetjiesap en basiliekruidblare.
Lees ook Margaret se onderhoud met Demi-Leigh Nel-Peters
Dit was heerlik en het skaars die kante van my maag geraak. Ek het die guacamole met tortillas en vis, toegedraai in sojapapier, bestel. Dit was heerlik, vars en vullend. Daarna is ek na my kamer en my bad met die wonderlike uitsig oor die stadsliggies. Ek het aan die slaap geraak en wakker geword toe die water koud word. Ek het afgedroog, bevogtiger aangewend, my wekker gestel en gaan slaap.
Die sonsopkoms was blou, nie pienk nie. Ek het in die spieël gekyk en die swart roof op my neus met die Estée Lauder probeer toesmeer. Dit het gewerk. Met my agtergrond in die skoonheidswêreld kon ek dit laag op laag aansmeer en kontoere maak sodat ek nie selfbewus sal voel nie. Maar ek was heeldag bewus daarvan en het dit dopgehou. Dit was nie nodig nie. Die grimering het gehou.
Dit was heerlik om onderhoude met die span van A Simple Favor te doen. Blake Lively is ‘n droom met ‘n bitsige tong vir diegene wat nie hul feite reg het nie. Ek was nog nooit ‘n aanhanger van Gossip Girl nie, maar het verstaan hoekom sy soveel aandag kry. Sy het ook haar man se jenewer bemark en het ongeag die vroeë uur vir die joernaliste sopies uitgedeel. Sy het fantasties gelyk in ‘n getailleerde pakkie druipend van bruin diamante van Zimmerman.
Ná die onderhoud het ek ‘n video-onderhoud vir my YouTube-kanaal gedoen. Dit sou moeilik wees. Digitale kameras neem elke haartjie en vlekkie op, en ek was baie bewus van my neus. Ek het die grimering glad aangewend en het geweet dat as die kamera wye skote neem, ek oukei sal wees.
Ek het heeldag nie daaraan gedink nie, maar ek moes dit nou aanpak. As jy video-onderhoude doen, is daar baie mense in die vertrek. Kameramanne, hare- en grimeermense en almal wat in die ateljee werk – seker so twintig.
Ek was vasbeslote om dit lig te hou, maar moes die kameraman eers iets vra: “Verskoon my, ek het pas ‘n biopsie gehad en het dit met grimering toegesmeer. Sal jy seker maak jy neem wye skote van my?” Almal in die vertrek was vir ‘n paar sekondes stil. Ek het hard aan ‘n knop in die keel gesluk en my oë het dié van Blake ontmoet.
“Natuurlik kan ons dit doen. Kan ons nie?” Het sy gevra. Die vertrek het weer lewe gekry. Ons versier kolwyntjies en die aktiwiteit gee my iets om te doen. Ek gryp ‘n buis versiersuiker, ignoreer wat pas gebeur het en glimlag. Dit is ‘n snaakse onderhoud. Sy maak haar ma na en dit is kosbaar.
Ek doen nog onderhoude en moet dieselfde sin aan die begin van elkeen herhaal. Dit verfris die gedagte wat ek diep begrawe het. Daarna gaan ek en my vriende terug na ons hotel. Dit reën nog. Dit is gewoonlik vir my lekker, maar om die sin elke keer voor ‘n vertrek vol vreemdelinge te herhaal het my nie onaangeraak gelaat nie, en my wapenrusting binnegedring. Die vrees wat ek wou binnehou, het ontsnap. Ek probeer werk, maar kan nie konsentreer nie. Skielik is dit hierdie groot ding wat swart en bedreigend is. ‘n Deel van my weet dit was die laaste onderhoud van my soos ek op 58 gelyk het. Dit maak nie saak hoe goed of sleg nie. Ek sou nooit weer dieselfde lyk nie.
Ek het voor die spieël gaan staan en na die swart roof gestaar. Wat was onder die roof? Ek het weggedraai van my beeld en na die New Yorkse nagliggies gekyk. Dit het gedans en ek wou vlerke hê om oor die wolkekrabbers te vlieg … deur die sterre. Ek wou die vars wind en reëndruppels voel. Ek het teen die glas geleun en my oë toegemaak.
Ek was besig met skedules en prognoses en moes vooruitskat watter afsprake ek sou kon bywoon met ‘n gesig wat … ?
Dit was soos ‘n beplanningsveldtog. Ek moes almal verseker ek is oukei, maar nou, alleen in die stilte, het die behoefte om te praat ‘n kreet geword.
Dit was minder as ‘n week en ek het nog nie tyd gehad om die vrees te hanteer nie.
Uit my sielkundestudies weet ek dit is ‘n normale reaksie. Maar ek nog nie kans gehad om met iemand te praat oor hoe ek vóél nie. Ek het my susters die vorige dag gebel. Hulle het in Kaapstad gekuier en ek was hartseer toe ek Sandy se stem hoor. Ek het gesnik soos ek huil. By die huis het my seun sy eerste week by die werk gehad. Ek wou nie hê hy moes bekommerd wees nie, en wou nie sy aandag aflei nie. My man se gesig het elke keer sag geword van liefde en simpatie as hy my sien. Hy wou my in die wolke toedraai.
Ek wou hom beskerm. Ek wou hom nie nog meer bekommerd maak nie. Ek het seker gemaak ons huishouding is vol lag en gesels.
Ek het die regte dinge gedoen, maar ek moes nou eerlik met iemand hieroor praat sonder om iemand bekommerd te maak. Ek het na ‘n kollega en vriendin uitgereik.
Ons het mekaar vir aandete ontmoet. Haar eks is onlangs aan breinkanker dood. ‘n Mens in ‘n krisis fokus gewoonlik op tegniese aspekte. Die hoe en wat van die prognose. “Hulle sal die kanker uitsny. Daar sal ‘n letsel wees. Jy sal oukei wees. Aanvaar dit en beweeg aan.”
Maar vir die mens met wie dit gebeur, is daar fases. Jy doen die navorsing en bekyk die beste en slegste. En daar is die kwetsbaarheid. Jy moet sterk wees vir almal om jou, maar jy moet jou vrees in die oë kyk. Ek het gesels oor die beste wat kan gebeur, maar wat van die slegste? Al my vriende het dieselfde gesê: “Dit sal nie gebeur nie. Hulle doen deesdae verstommende goed.”
Jy wil dit glo, maar my werklikheid was dat ek byna twintig jaar gelede ‘n klein merkie op my bors gehad het, en ‘n regisseur het aanbeveel dat ek dit ter wille van die kamera moet laat verwyder. Ek het die operasie gehad om die Desmoid-tipe fibromatosis sarkoma met mikrografiese chirurgie te verwyder – met die gedagte aan die beste uitkoms.
Ek het wakker geword met ‘n gewig wat aan my bors vasgewerk is; ‘n veloorplanting; ‘n gruwelstorie van drie maande se herstel; my bors wat elke paar dae oopgesny en weer toegewerk word. Ek moes letterlik kyk hoe die naald aan die een kant van my vel ingedruk word en aan die anderkant uitgetrek word. Herhaaldelik. Die twee kante van die drieduimgat in my bors moes elke paar dae nader aan mekaar getrek word. Ek moes kyk hoe hulle die steke lossny en die gaas uit die wond trek en dan wag dat hulle vars gaas in my stop en my weer toewerk. Die aaklige letsel – wat drie duim in omtrek is en uitsteek by alles wat ek dra – was veronderstel om ‘n klein letsel te wees. En nou vertel hulle my dieselfde ding. Mikrochirurgie is altyd die beste scenario, want die letsel is klein. My vorige ervaring het ‘n vrees in my gelaat. Ek het dit probeer beheer, maar wat as?
As jy ‘n vriendin het wat deurgaan wat ek deurgegaan het, of enige soort trauma beleef, kan jy haar vertel het dat sy oukei gaan wees. Of jy kan haar vra hoe dit gaan. Ons is so gefokus op die positiewe dat ons nie aan die werklikheid kan dink nie.
Soms help dit om daardeur te praat en die storie te herhaal; om te gaan na die plek van vrees; om dit af te breek en daarmee vrede te maak. Dit is ‘n manier om voor te berei en te verstaan wat gebeur het en wat kan gebeur. Praat, luister, vra of iemand oukei is. Dit is die onsigbare en belangrike dele om trauma te hanteer.
Ek het na my skoonsuster uitgereik, want ek was bekommerd oor my man. Sy liefde en kommer oor wat kan gebeur, was ooglopend elke keer wanneer hy na my kyk. Hy het my soos ‘n glasornament hanteer. Iets wat kan breek. Sagkens.
Ek was bekommerd oor wat my letsel aan hom kan doen. Nie omdat hy dit nie sou kon hanteer nie, maar vanweë sy empatie met my. Ironies – die uitdrukking op sy gesig het opgesom wat ek voel en wat ek van mense probeer wegsteek. Van die oomblik wat ek my skoonsus vertel het, het sy bemoedigende boodskappe gestuur. Sagte plekke waarop my gemoed kon land. Sy het my gevra of ek daaroor wil praat en gesê dat sy daar sal wees as ek wil. Ek kon enige tyd bel. Ek het nie, maar ná die operasie, het sy weer aangebied, en ek het die aanbod aanvaar. Dit is ‘n geskenk wat jy vir enigiemand kan gee wat deur trauma gaan.
Vra hulle wat hulle nodig het, eerder as om hulle te vertel wat hulle nodig het.
Die volgende dag het ek huis toe gevlieg. Ek het net voor middernag geland en daar was ‘n boodskap van my susters. Hulle het probeer om my te kontak om my ‘n gelukkige verjaarsdag toe te wens.
Ek het gesug. Dit sou wonderlik gewees het om die oproep te kon neem. Met die tydsverskil het hulle my die aand voor my verjaarsdag gebel. Ek het heeltemal vergeet dit is my verjaarsdag. Ek is 59. Verjaarsdae is ‘n herinnering aan die jaar wat verby is en ‘n nuwe een wat begin.
Ek het geen idee gehad hoe ek in my 59ste jaar gaan lyk nie. Ek het my biopsie skoongemaak. Dit was byna middernag. Ek het nie weer daaraan gedink nie. Oor drie dae sou hulle opereer. Hulle sal die kanker uitsny. Daar was nie tyd vir selfbejammering nie. As dinge rof gaan, kan ek ontsnap en deur die lug swem.
As jy meer oor Margaret se lewe wil leer, lees gerus haar blog vir rooi rose.
Hou ook vir Margaret dop op sosiale media. Volg haar op facebook en Instagram.