Margaret se Wêreld: Lewenslesse deur Margaret Gardiner. Hooffoto: Magnus Sundholm vir die HFPA, verskaf deur Margaret Gardiner.
Jammer vir die stilte. My lewe was ’n warrelwind van aktiwiteite … spertye … die lewe … avonture …
Ek is op die oomblik by die Cannes-rolprentfees en voel oorweldig deur vlugvoosheid.
Net voor ek weg is uit LA, het ek ’n onderhoud met Olivia Wilde gedoen oor die rolprent Booksmart, wat sy geregisseer het. Kaitlyn Dever en Beanie Feldstein (haar broer is Jonah Hill) is daarin te sien. Annapurna is die produksiemaatskappy vir die rolprent wat deur vroue vervaardig word en dit is geen verrassing dat die rolprent twee vroue in die hoofrolle het nie.
Dit is ’n storie van groei van die kinderjare tot volwassenheid en handel oor ’n aweregse karakter, wat nie as gewoon getipeer kan word nie. Dit is prettig en beslis gemik op jong mense en ek dink daardie generasie sal beslis daarmee kan identifiseer, maar ek het dit self ook geniet en kon myself met sommige van die temas vereenselwig.
Olivia Wilde is ’n beeldskone aktrise, en dit is ’n etiket wat beperkend kan wees. Dit is hoekom die rolprent persepsies afbreek: Die goeie meisie. Die homoseksuele ou. Die gewilde kind. Etikette wat deel is van die Amerikaanse kultuur. Ongeag hoe ons daarna kyk, is ons ook geneig om etikette om mense te hang. Die skaam een, die slim een die wilde een.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Verwagtinge
Die vooroordele waarmee ons ander beskou sê baie van onsself. Soms is die persepsie wat ons van onsself het verskillend van ander se persepsies. Dan is daar ’n groot verskil tussen wie ons is en wat ander dink ons behoort te wees. Daar is ‘n botsing van sienings, en hoe daardie verskille opgelos word, bepaal die pad vorentoe.
Ons behoefte om ander te oortuig om ons standpunt in te sien, kompliseer die waarheid. Dit is makliker as mense aan dieselfde dinge as ons glo. Ons noem daardie mense vriende want daar is ’n gemaklikheid tussen mense met dieselfde lewensuitkyk.
Lees ook: Moeilike paaie lei dikwels tot pragtige bestemmings
Booksmart is ’n rolprent oor twee vriende wat vir hulself ’n doelwit stel en beplan hoe om die doelwit te bereik. As die aannames wat hulle oor ander maak, waarvolgens hulle ook op hulle neersien, dan verkeerd bewys word, moet hulle weer dink oor wie hulle self is. Hulle moet dan ook besin oor hulle vooroordele en oor hoe hulle die lewe aanpak.
Dit speel af tydens die hoërskooljare net voor die eindeksamen en word ’n metafoor vir die lewe.
Ek weet dit is baie filosofies. Die meeste mense wil net ’n fliek sien, die springmielies eet, en aangaan.
Ek het die fliek ’n paar weke gelede gesien. Dit was lig en slim en gemik op ’n jong gehoor.
Maar iets interessants het met my gebeur.
Ek het ses weke gelede ’n operasie ondergaan en die herstelproses was meer gekompliseerd as wat ek verwag het. Dit het my uitgemergel. In daardie selfde tyd het baie mense baie verwagtinge van my gehad.
Charlize Theron was beskikbaar vir ’n TV-onderhoud en ek het die geleentheid aangegryp en myself op my eie aandrang twee dae na die operasie uit die huis gedwing. Niemand anders nie. Ek het dit self besluit.
Familielede was in die stad op besoek. Eintlik moes ek rus, maar dis familie! Nog ’n Suid-Afrikaner het probeer om my in kontak te bring met haar peetkind en ek het ’n paar maande lank probeer, maar met my skedule en gesondheidskwessies moes ek rus voor ek op ’n ander avontuur kon gaan.
Daar is voornemens … en dan die realiteit.
As ek nie werk nie, is my eerste prioriteit familie. Dit laat my nie met veel tyd oor nie en die gesondheidskwessie het my gedwing om te prioritiseer. Die vraag kom neer op hulle of jyself? Moet ek ’n afspraak nakom, of slaap en beter word? Ek het voor die operasie bevestig dat ek Cannes, Bali en Singapoer sou besoek. Dinge wat ek moes doen, en wou doen. Ek sou dit alles kon doen as my herstelproses nie so gekompliseerd was nie, maar dit was, en ek moes tussen my verpligtinge deur ook huis toe gaan om te slaap sodat ek kon sprankel vir my familie.
Ek het party van die balle in die lug laat val. Ek kon nie ’n belofte aan ’n nuwe kennis nakom nie. Ek was nie in staat om iemand te akkommodeer vir wie ek belowe het ek tyd sou maak nie. Ek sou laasgenoemde kon doen as ek tuis was en beter kon word, maar die onverwagte het gebeur.
Toe ek verskoning maak omdat ek die nuwe kennis in die steek moes laat, is gesê ek het nie integriteit nie. Toe ek die probleem met my gesondheid weer verduidelik het, is gesê, “maar dit gaan net oor jouself.”
Lees ook: Die dinge wat mense kwytraak
Hoe reageer ’n mens daarop? Ek is een van daardie mense wat afsprake nakom. Ek het nog altyd ’n probleem daarin dat ek ander altyd eerste stel. Deel van grootword, volwasse word, is om vrede te maak met dinge wat moet verander.
Ek is iemand wat meestal saam met die stroom beweeg, maar ek is weens werk, gesondheid, omstandighede en dinge buite my beheer nie altyd in staat om aan ander toe te gee nie. Pleks van die omstandighede, sien mense dit as my persoonlike keuse om ander tweede te plaas en my eie behoeftes eerste.
My eerste reaksie is om skuldig daaroor te voel. Onlangse voorbeelde. Die internet was buite werking en ek moes ’n spertyd haal, en ek kon nie ’n funksie bywoon wat ek wou nie omdat ek eers my werkprobleem moes uitsorteer.
Klink soos verskonings? Dit is net ’n storie. Wie gee nou om of dit ’n dag of ’n paar uur laat is? Um? Die redakteur?
Nog ’n voorbeeld: Ek was uitgeput en het vergeet om iets belangriks vir iemand te doen.
Ek het in beide gevalle my fout erken en erken dat die ander persoon die reg het om kwaad te wees, en gehoop hulle sal verstaan en vergewe.
As mense nie begrip daarvoor het nie, het ek ’n keuse, kraak myself af, of vergewe myself. Harde vrae. Om ’n vriend in die steek te laat, is onvergeeflik. Hulle reaksie op jou fout is ook belangrik. Jy kan iemand anders se perspektief oor jou aanneem, of jy kan sê, “Ek het ’n fout gemaak, ek vra om verskoning,” en aanbeweeg.
Dit klink koud om net aan te beweeg. Maar die vraag is, as jy iemand teleurstel en hulle kyk anders na jou, kan jy hulle oortuiging verander?
En wat kan jy daaraan doen? Navorsing toon vroue internaliseer ander se menings en probeer te hard om dinge reg te stel.
So, weereens. Wat doen jy? Gewoonlik is my reaksie soortgelyk aan die navorsing, maar die afgelope dekade het ek ander taktieke begin probeer:
Hanteer ’n terugslag. Hergroepeer. Pas aan. En beweeg dan vorentoe met die wete dat dinge anders kan wees. Dit is ’n moeilike keuse, maar ’n belangrike een.
Al wat jy kan doen, is om te beheer wie jy is, jy kan nie beheer hoe ander jou sien nie. Jy word beheer deur jou keuses. Het jy die regte ding vir jouself gedoen? Het jy jou beste probeer? Het jy iets geleer wat jy nie weer sal herhaal nie? Oukei.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Ons het almal soms ’n helpende hand nodig
Beweeg aan met daardie kennis en vergifnis vir hulle persepsie dat jy minder is omdat jy nie aan hul behoeftes voldoen het nie. Vergewe jouself, dat jy omgegee het vir iemand wat verwag het dat jy hulle belange voor joune sal plaas.Vergewe jouself ook dat jy onbewustelik iemand seergemaak het en dit nie bedoel het nie.
Aan die einde van die film het die twee beste vriendinne presies so ’n oomblik. Daardie oomblikke is moeilik, maar dis die werklikheid, en hulle gebeur.
Jy moet die vermoë hê om vorentoe te beweeg met die wete dat dit weer sal gebeur, met jou of deur jou, en dit is maar net die lewe. Jy sal oorleef, die vriendskap mag of mag nie, maar om jouself af te breek, help niemand nie. Ontleed die situasie, leer, pas aan. Beweeg aan.
En geniet my onderhoud met Olivia Wilde van Booksmart. Sy gesels oor hoe om jouself toestemming te gee om jou drome te volg en om na jouself te luister. Sy praat ook oor hoe moederskap jou verander. Ek dink almal kan waarde put uit haar siening. Hier is die skakel – teken aan op my YouTube kanaal as jy van die onderhoud hou. Dit is gratis om aan te teken.
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels.