Margaret se Wêreld: Haal net asem! deur Margaret Gardiner.
In Amerika het hulle hierdie ding genaamd Daylight Saving. In die herfs draai hulle die horlosie ’n uur terug en as die somer nader, verloor mens weer ’n uur.
Dit is soos vlugvoosheid sonder die reis. Dit gebeur vanjaar op ’n Sondag, die dag waarop ek ’n uur moet reis na een van my ontwerpers om klere aan te pas vir ’n liefdadigheidsfunksie wat ek aanbied ten bate van Suid-Afrikaanse Vigswesies.
Dit is ’n dag waarop ek ook gesins-afsprake het wat ook in konflik is met werksgeleenthede. Dit is die enigste oggend in die volgende weke wat ek tyd het om die klere aan te pas.
’n Mens kan nie alles doen nie en my gesin kom eerste. Dus offer ek slaap op, staan sesuur op sodat ek agtuur by Alan Del Rosario, ’n Fillipynse ontwerper, kan wees. Hy doen ’n reeks as huldeblyk aan Karl Lagerfeld, wat onlangs oorlede is. Hy het iets ontwerp wat Dior-geinspireer is met lae en lae chiffon. Regtig ongelooflik. Daar is ook nog ’n rok wat ek bang is te jonk vir my sal wees. Dit is ’n show stopper wat perfek vir my sou wees as ek veertig was.
Met my beserings en ouderdom verander my liggaam. Ek gebruik oefeninge om van stres ontslae te raak en om my spiere te bou vir die lang ure van my besige dae. Nieteenstaande die persepsie op sosiale media, is ek ’n besige vrou. My skelet het spiere nodig wat in top kondisie is sodat ek myself nie uitput of beseer nie. Ek kon vir byna ’n jaar nie oefen nie en die verskil is nou merkbaar aan die struktuur van my lyf. My fisioterapeut sê die linkerkant van my liggaam het effens gesak. Ek kon in realiteit geen oefeninge met gewigte doen wat my torso en arms raak nie en die wegkwyn van my spiere is sigbaar.
Ek trek ’n rok aan. Dit is pragtig! Selfs sonder grimering. Die rok dwing gesag af. Hy is regtig goed. Ek maak my hare in ’n bolla en neem ’n paar iPhone-foto’s.
Nou moet ek die moed bymekaarskraap om daarmee uit te gaan. Nie omdat dit nie pragtig is nie. Die ontwerper is super talentvol.
Maar.
Hy het my ’n jaar laas gesien. Hy het die rok ontwerp wat ek gedra het vir die Mej Filllipyne beoordeling, toe ek met my fiets geval het en die arm- en skouerbeserings pas gediagnoseer was. Die dokters het gesê dit sal gesond word as ek niks doen nie. Dit sal self genees.
Ek het niks gedoen nie. ’n Jaar later blyk dit daar was skeure wat met ’n operasie reggemaak moes word. Om niks te doen nie, het nie gehelp nie. Al wat ek gedoen het, was om die spier te verswak. Ek is geskok om te sien hoe my rug lyk. Ek wonder of ek ooit gewoond sal raak aan hierdie nuwe deel van my. Ek vertrek met beide rokke. Die een wat baie lyf wys, is ongelooflik. Ek wil dit dra. As my spiere weer ferm is, kan ek dit dalk eendag dra?
Dis Maandag. Ek staan vyfuur op, wat beteken dit is vieruur weens die tydsverandering. Ek moet sewe-uur by my fisioterapeut wees vir my arm-oefeninge.
Ek het hope ander goed om te doen. Ek moet my huis, my gesin en myself voorberei … geestelik. Ek neem soggens lank om reg te maak … intellektueel. Ek hou nie daarvan om te jaag nie. Maar ek moet probeer uitwerk hoe ek moet aantrek vir fisioterapie en ook vir die kamera sonder om my hele klerekas en my rekenaar saam te dra. Ek moet die res van die dag kruis en dwars oor die stad beweeg en ek is ook besig om ’n heerlike geroosterde lamstuk met al die bykomstighede voor te berei vir aandete en ook om soutvleis gaar te maak vir die volgende aand se maaltyd.
O ja, en ek moet iets plaas op die modegalery vir goldenglobes.com en opvolgwerk doen vir die liefdadigheidsfunksie vir die Suid-Afrikaanse Vigswesies.
Ek moet vlugte bevestig en kan nie die e-pos met die besonderhede vind nie. The Starfish Greathearts Foundation (VSA afdeling) het gevra om ’n ontbyt saam met my op te veil. Ek het ingestem om die funksie by te woon, ’n paar woorde te praat en om weer huis toe te vlieg.
Maar dit is toe uiteindelik ’n drie-dag-geleentheid. Nog drie dae weg van my gesin.
Ses uur daarheen per vliegtuig. ’n Uur aan weerskante om te reis na en van die lughawe in LA en dan in New York. ’n Drie uur tydsverandering. Ek moet ontbyt eet saam met vreemdelinge. Reis in my beseerde toestand is pynlik. As ’n verslaggewer gee niemand om hoe ek lyk nie. Maar ek gaan die gasvrou wees en mense gaan na my kyk. Daarom het ek ’n rok nodig.
Na die funksie moet ek baie vroeg opstaan en my vlug arriveer middagete tuis sodat ek gereed kan wees as my gesin tuis kom.
My skedule was voorheen onder druk, maar die ekstra dag vir die ontbyt het dinge gekompliseer.
Ek weet nie hoe ek alles gaan doen wat ek moet nie. Ek is veronderstel om te rus. Ek moes fisioterapie kanselleer en ’n operasie herskeduleer. Waar is die e-pos met die vlug-inligting? Ek asem uit. Sentreer myself weg van al die wegvlieg-dele en verpligtinge. Werk, gesin, vriende, liefdadigheid, lyf. Die spertye is opgehoop. Ek kan toegee aan die spanning van dit alles of die bries vind.
Ek staan in die vars lug van my balkon. Dit is vir ’n goeie saak. Ek kan daaroor skryf en mense inspireer om geld te skenk en die las van die onskuldiges te verlig. Jy kan hier geld skenk: https://SFGala2019.givesmart.com.
Wat is ’n bietjie druk vir ’n goeie saak? My man het die langer reis verdedig en hy is tevrede dat ek langer wegbly veral omdat dit ten bate van Suid-Afrika is.
Ek dink aan iets. Ek kan my nie voorstel dat enigeen in New York ontbyt saam met my sal wil geniet nie, en nou kan mense aanlyn daarop bie?
As ek kan help, sal ek dit doen. Wie sal daarop bie? Pienk wange as niemand daarop bie nie! Sug. Sentreer, vertel ek myself. Asem in. Laat die stres vry. Ek bondel die ontbyt-gedagte op en stuur dit af op ’n rivier van “dit-is-nie-nou-belangrik-nie.”
Ek het ‘ja’ gesê en ’n halwe dag het drie geword en daarna sal ek op ’n vlug klim en vyf uur huis toe vlieg na LA met die wind agter ons en dus minder tyd in die lug. Dan gaan ek twee dae tuis wees voor ek weer op ’n vlug na New York vertrek vir die première van Game of Thrones.
Dit klink stresvol. Die funksie is oor twee weke. Nou stel ek stories voor vir my Suid-Afrikaanse verpligtinge want daar is ’n agt uur tydsverskil en as jy met redakteurs wil praat, moet jy dit doen as mense nog op kantoor is. Ek bevestig ook toekomstige reise en nog ’n reis na New York voor die een vir die liefdadigheidsfunksie en die een vir Game of Thrones. Daarna bly ek ’n bietjie by die huis vir April tot my man se niggie van Suid-Afrika kom kuier en ek haar toergids kan wees.
Ek hou vas aan die reling van die balkon en kyk op na die lug. Hierdie oomblik. Hier. Positiwiteit. O-o-o! Dit is tyd om ’n positiewe gedagte op my Instagram te deel voor ek my dag begin. Ek probeer elke dag iets positiefs plaas. Die middagete vir invloedrykes vir die Golden Globes wat ek aangebied het, het my laat besef hoe baie mense met donker gevoelens sukkel wat hulle oorval as die wêreld verby hulle haas. ’n Mens absorbeer woorde wat uitgespreek word sonder dat mense dink en dit maak seer en vul mense met selftwyfel.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Ons het almal ’n helpende hand nodig
Ek deel my gedagtes op Instagram. My volgelinge was daar vir my toe ek kanker in die oë moes kyk en vreesbevange was oor die uitkoms. Dit is maar ’n klein wyse waarop ek kan teruggee. Positiewe gedagtes as buffer vir moeilike dae. My lewe mag chaoties wees, maar positiwiteit en optimisme help my om dit te hanteer. Ek plaas ’n gedagte. Maak my hare droog, sit grimering aan en hoop dit hou tot ek voor die kamera verskyn. Dit is sesuur. ’n Produktiewe uur.
Dit is tyd om te gaan.
Fisioterapie verg dat hulle na my spiere moet kyk. Hulle moet kyk hoe om dit te ontwikkel. Dit is koud buite. Die dag het nog skaars begin. Weens die arm-besering moet ek lig pak sodat ek nie swaar dra nie. Een van die maniere om my handsak ligter te maak, is om my grimering tuis te doen. Elke bietjie help. Ek klim in my kar en vertrek.
Ek trek uit tot ek net ’n onderhemp aan het wat op die rug diep gesny is sodat die fisioterapeut my spiere kan sien en daarmee kan werk. Ek let op sodat ek die beweging tuis kan nadoen. Ek kan vyf van die spesifieke oefeninge doen voor dit begin seer word. Die spesifieke spiere was vir ’n jaar dormant en dit is seer om weer te oefen. Ek trek my trui en my Zara-baadjie aan vir hitte en kies koers in die koue oggend. Dit is net na agtuur en ek voel of ek reeds ’n dag se werk agter die blad het.
Ek arriveer om nege-uur in Beverly Hills en meld aan vir my TV-gleuf vir my YouTube kanaal. Ek doen ’n onderhoud met Matthias Schoenaerts. Hy is Belgies en speel in ’n rolprent oor manlikheid, selfverdediging en die tem van wilde perde. Dit word deur ’n vrou geregisseer. Die film se naam is The Mustang. Die analogie tussen die karakter wat Matthias speel en die perd herinner aan die tye wanneer ’n mens toelaat dat vrees jou oorheers, wanneer jy nie al die antwoorde het nie, wanneer jy met jou rug in ’n hoek sit. Dit is ’n mooi fliek en herinner my aan nog ’n storie oor manlikheid en perde, The Rider, ewe mooi, maar anders.
Ek gesels met die ander verslaggewers terwyl ons vir die ster wag. My Belgiese kollegas en ek praat soms Afrikaans en Vlaams. Ek wonder of ek die onderhoud in Afrikaans moet probeer doen. Ek sit en praat met my vriendin in Afrikaans toe Matthias arriveer. Hy groet die Belgiese verslaggewer in Vlaams en vra hoe dit met haar gaan. Hy leun vooroor en soen haar op die wange. Ek voel moedswillig en wil sy Afrikaans toets, en sonder om te dink, sê ek, “Waarom kry sy ’n soentjie en nie ek nie?” Ek het hierdie sagte stem wat niemand hoor nie, en ek praat Afrikaans met ’n Franse Belg wat Frans praat met die vrou langs my. Ek doen dit as ’n poging tot humor want ek is moeg en glo die verslaggewer en ek sal daaroor lag as hy wegstap, maar nee! Hy hoor my. Oe, pienk wange. Hy kyk na my en kom gee my ’n soen op elke wang soos die Europeërs dit doen.
“Ken ek jou?” vra hy my. Al die ander verslaggewers kyk na my en my vriendin lyk effe geskok. Ai, hoekom kan die grond nie oopgaan en my insluk nie? ”
N”ee, nee,” sê ek. “Ek is ’n Suid-Afrikaner en ek het net gewonder of jy Afrikaans sal verstaan.”
Hy staan my en assesseer en prosesseer my Afrikaans. Regtig vloer, dit sal nou ’n goeie tyd wees om my in te sluk!
“Ja, ek het jou verstaan,” sê hy en die mense in die ateljee neem hom in na die onderhoud. Goed, iemand hoor my, verstaan my en ek vra ’n Europese ster om my te groet, wat beteken hy moet my soen!? Ek het eintlik vir ’n soentjie gevra. Wag tot ek dit vanaand vir my man en seun vertel as ek my geroosterde lam bedien …
Die onderhoud is vreemd. Ek vra een vraag en hy antwoord ’n ander een. Ek is gedisoriënteerd en vergeet dat as jy ’n onderhoud vir TV doen, moet jy baie vinnig en spesifiek wees. Hmm … moet ek die vraag in Afrikaans vra? Maar ek besluit daarteen en hou by Engels. Sug. Maar ek is deur die onderhoud.
Ek dink julle sal die fliek geniet. En as jy dit sien, dink aan hoe sy oë vrae gevra het toe ek hom ’n soen gevra het! Dan sal jy verstaan hoekom ek gewens het die grond moet my insluk …
Nou kan jy sien hoe dit met die onderhoud gegaan het en hoe ek dit reggekry het om my moegheid vir die kamera weg te steek. Ek sal in die volgende twee plasings weer oor my skoonheidsroetine praat.
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels.