Margaret se Wêreld: Gelukkige ek!
Die Kerings Women in Motion-reeks fokus op vroue wat uitblink in flieks en hulle voer gesprekke oor individuele ervarings, uitdagings en sukses. Een van die sprekers was Eva Longoria van Desperate Housewives-faam, wat uitgesproke oor geslagsgelykheid is.
Sy is nou agter die kameras doenig met twee projekte en sy belê geld in veldtogte waaraan sy glo en neem vroue in diens. Sy plaas vroue in magsposisies wat gewoonlik deur mans gevul word. Uit die tien regisseurs wat vir haar reekse aangestel is, is sewe vroue. Sy het ook ’n vroulike waagtoertjiekoördineerder aangestel. Sy glo as vroue nie die kans kry om hierdie posisies te vul nie, sal hulle ook nie die indiensneming-suksesleer klim nie. Die gesprek laat ’n mens nadink en sy is baie vloeiend oor die onderwerp.
Die aanlynartikels wat oor dié geleentheid en dié onderwerp geplaas word, lok baie woede uit. Baie lewer kommentaar daaroor dat vroue spesiale behandeling vra en dat as sy net haar bene oopmaak, sy bo sal uitkom.
Daar is diep verskille.
Die indiensnemingsyfers bewys die ongelykheid, maar die verskillende kante sien die redes vir die ongelykheid verskillend.
Van die teenstanders voel dat aanstellings op grond van verdienste en winsgewendheid gemaak word. En diegene wat verandering bepleit, verwys na onbewustelike vooroordeel wat die skaal in die guns van die oorheersende groep swaai.
Dit blyk dat geen kant na mekaar luister nie. Daar is ’n gevoel van as jy nie met my saamstem nie, is jy teen my. Wanneer inkomste bedreig word, is dit moeilik, veral wat primêre behoeftes betref.
Gesprekke kan die eerste stap wees om gemeenskaplike grond te kry. Dit lei dalk nie tot eenstemmigheid nie, maar klein oorwinnings kan behaal word, en volgende keer kan die stemme minder skril wees.
Ek weet dat mans voel hulle word aangeval en dat vroue voel hulle word nie na waarde geag nie. Op een of ander manier moet hierdie twee groepe wat mekaar liefhet en gesinne vorm, ’n manier kry om saam vorentoe te beweeg.
Ná dié super-ernstige gesprek, is dit tyd om aandag aan Brad, Leo, Margot en Quentin te gee. Once Upon A Time in Hollywood het sy Cannes-debuut op ’n historiese manier gemaak – op dieselfde datum 25 jaar gelede het Pulp Fiction in Cannes gedebuteer.
Ek het al ’n paar Cannes-premières bygewoon maar niks kan met dié een vergelyk word nie. Sekuriteit was ontsettend streng: polisie op perde, manne met masjiengewere, versperrings … En báie toeskouers. Mans in aandpakke en vroue in aandrokke het plakkate opgehou en vir ’n kaartjie gebedel.
Topsterre saam op ’n rooi tapyt kan ’n histerie veroorsaak. Brad Pitt is in sy eerste mega-rolprent in ’n lang tyd, Leonardo DiCaprio is mede-hoofspeler en die talentvolle Margot Robbie is in dieselfde span. Enigeen wat haar talent betwyfel, moet weer kyk na I, Tonya of The Wolf of Wall Street of Suicide Squad, ’n rolprent wat nie so goed gewerk het nie, behalwe wanneer die Aussie op die skerm was.
Die rooi tapyt was iets om te sien – daar is baie videomateriaal op my Instagram van hul aankoms en vertrek uit die teater. Die sterre is ná die fliek ses minute lank toegejuig, en ek kon hulle afneem toe hulle uit die teater kom. Ek moet sê, min mense in die wêreld kan Leo in die skadu stel, maar Brad, wel, hy hoef net daar te staan en die ruimte met sy charisma besit.
Die sterre het rondgestaan, geglimlag en mense toegelaat om hulle af te neem voor hulle na ’n private aandete vertrek het.
Die fliek is meer van ’n karakterstudie en nogal ’n binneblik op die kollig wat skyn, en ’n ster dan skroei.
Staan stil om te kyk hoe die son sak na die première.
Daar was net ná die première ’n pouse wat my kans gegee het om terug te gaan na my woonstel en te pak voordat ek saam met vriende die partytjie ná die première gaan geniet het.
Vonkelwyn het gevloei, en ’n orkes het goeie, groovy musiek gespeel wat by die era van die fliek pas. Ek kon nie enige van die hoofrolspelers of die regisseur sien nie. Maar hul afwesigheid het darem nie die plesier van die oomblik weggeneem nie.
Cannes was koud en nat. Minder aangenaam, minder opwindend. Maar ek het die weer verwag en in teenstelling met baie ander het ek vir die koue en die reën ingepak. Ek het wonderlike flieks gesien, op die strand gedans terwyl Elton John gespeel en Taron Egerton gesing het.
Lees ook: Margaret gesels met Taron Egerton oor Elton John en Rocketman
Ek het een van die warmste kaartjies in die dorp gekry om die première van Quentin Tarantino se jongste, epiese fliek by te woon.
Ek is intellektueel uitgedaag en blootgestel aan fassinerende mense wat oor ’n verskeidenheid onderwerpe gepraat het.
Dit was ná middernag en die weer het opgeklaar. Ek het ’n paar items gehad om te pak nadat ek my grimering verwyder en gestort het. Oor ’n paar uur moes ek van Cannes na Nice Uber en dan my 11 uur na Los Angeles aanpak. A
ltesaam 23 uur later sal ek aan die deur van my volgende avontuur na Bali klop.
Lees die ander dagboekinskrywings van Margaret se besoek aan Cannes
Dag 1: Vlugvoosheid en die rooi tapyt
Dag 2: Vrouwees by die Cannes-fees
Dag 3: Dis ’n wonderlike lewe
Dag 4: Ernstige akteurs en ernstige gesprekke by Cannes
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels.