Margaret se Wêreld: Florida en Cape Canaveral deur Margaret Gardiner
First Man gaan oor die prys wat die mens betaal het om ’n man maan toe te stuur. Hierdie fliek met Ryan Gosling vertel die verhaal van die maanlanding soos dit nog nooit tevore vertel is nie. Die fliek boei jou en binne die eerste halfuur al weet jy wat die uitkoms gaan wees.
Lees ook Margaret se onderhoud met Ryan Gosling
Die voorskou is in Florida by Cape Canaveral. Die meeste het die fliek in LA gesien, maar ek het daardie aand besluit om by die huis saam met my gesin deur te bring. Ek wou dit in Florida sien omdat ek in elk geval uitstedig sou wees.
Ek is verras om te sien dat daar ruimtetuie en vuurpyle rondom die IMAX-teater uitgestal word. Daar is ook ’n model van hoe toekomstige ekskursies na die ruimte gaan lyk. Die tuig het sewe sitplekke en lyk vreeslik ongemaklik. Daar is geen spasie vir jou bene nie, en “ intiem” is ’n eufemisme vir die klein spasie waarin die passasiers moet sit. Met my lengte sukkel ek om agterin ’n vliegtuig te sit. Hoe sal ek ʼn ruimtereis oorleef? Ek dink weer na oor my begeerte om dit te doen …
Die onderhoude met akteurs word by die basis self gedoen. ’n Deeglike agtergrond-ondersoek is op elke besoeker gedoen en dit het dae geneem om goedkeuring te kry.
Dit is baie warm in Florida, die son is skerp en genadeloos. Ek mag nog nie in die son wees nie en het ’n spesiale velsorg-roetine nodig. Ek bevogtig eers my vel met Estée Lauder Resilience Lift met ’n beskermingsfaktor van 15, dan wend ek lae van Neutrogena Ultra Sheer–sonskermmiddel aan. Dit het ’n breëspektrum sonbeskermer van 55. Ek laat dit eers intrek en wend dan ligte grimering aan.
My letsel het ’n baie rooi-pers skakering gekry na die vlug. Die plastiese chirurg wat die gaatjie bedek het, het BioCorneum, ’n gevorderde letsel-behandeling deur Sientra aanbeveel. Dit bevat silikoon en ’n sonbeskermer van 30. Om gereed te maak, neem langer as gewoonlik en ek gebruik baie produkte. Ek staan vroeër op. Dit is nie ydelheid nie. ’n Mens noem dit veiligheid. Ek laat die horlosies aanstap terwyl ek my werksak inpak en keer dan terug na die spieël, ’n plek waarvan ek nie regtig hou nie.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Ope brief aan rooi rose-lesers oor die kankergewas op my neus
Margaret se Wêreld: Biopsies en New York
Margaret se Wêreld: Die operasie
Ek wend die Estée Lauder Double Wear-onderlaag aan wat my man aanbeveel het om die letsel op my neus te bedek. Dit het ’n swaar basis. Ek dra die skakering Desert Beige. Daarna sit ek lipstiffie aan (Vivid Matte Liquid van Maybelline – ek is lief daarvoor want dit bly baie lank aan) en ’n titseltjie kleur op my oë. Ek hou van die sagte bruin kleur La Palette Nude 2 van L’Oréal. Die tyd stap aan. Ek gryp ’n groot hoed en serp om my gesig te bedek as ek buite is. Ek pak ook ’n sonsambreel en is voorbereid op die dag.
Claire Foy van The Crown speel die rol van Armstrong se vrou. Sy is sjarmant, maar weier om enige kommentaar oor haar private lewe te gee. Tog verras sy my met ’n staaltjie oor ’n speletjie wat beide van ons gespeel het toe ons kinders was. Jy het ’n tennisbal in ’n sykous geplaas en met jou rug teen die muur gestaan. Dan het jy die bal weerskante agter jou teen die muur geslaan terwyl jy rympies opsê. Ek het al daarvan vergeet en ons het lekker gelag oor hierdie kinderjare-herinnering.
Gepraat van kinderjare-herinneringe, ek was verras dat hulle roomys bedien het wat lyk soos een waarvan ek as kind gehou het. Dit was in die vorm van ’n vuurpyl en die naam was Zoom. Ek gaan eet my roomys binne en besef my romp, die lug, die NASA-teken en my roomys is dieselfde kleure. Foto-geleentheid!
Ons kry die kans om met Neil Armstrong se seuns, Mark en Rick Armstrong, te gesels. Hulle vertel hoe dit was om skielik met roem gekonfronteer te word. Hulle vertel van die ongepubliseerde realiteite van hoe dit was as jou pa ’n internasionale held is.
Een van hulle sê hulle was by ’n sport-arena toe die kamera op Neil se gesig fokus en dit op ’n groot skerm vertoon. Sy pa het gesê, “O gaats.” En stadig, maar seker het een bewonderaar die trappe opgeklim na waar Neil en sy seun gesit het.
Die seun het vir sy handtekening gevra. Neil het na die groot skare gekyk, gesug, en gesê, “Nee”. Hy het besef as hy handtekeninge begin uitdeel, sal hy dit vir almal moet doen en dit sou te veel wees. Hy wou die private oomblik met sy seun geniet. Dit is interessant. Ons vra soms iets kleins, en as ’n beroemde dit wegwys, verstaan ons nie dat dit iets is waarmee hulle konstant moet saamleef nie.
By die partytjie na die Emmy’s het ek Peter Dinklage saam met vriende sien sit. Partykeer, as dit maklik is, vra ek om ’n foto vir aanhangers te neem. Ek weet mense geniet dit om sterre in ’n meer natuurlike omgewing te sien en ek plaas soms die foto’s op Instagram en Facebook.
Lees ook: Margaret se besige blitsbesoek aan New York
Game of Thrones het gewen en ek wou hom gelukwens. Ek het na sy tafel begin beweeg, en ek kon sien hy sien nie uit na die versoek wat ek gaan rig nie.
Maar ek het sy oog gevang en het net gesê, “Geluk, Peter, moenie bekommerd wees nie, ek wil nie ’n selfie neem nie. Ek sien jou oor twee dae in New York en ons sal dan ’n foto neem.” En dit is wat ek gedoen het. ’n Mens beoordeel die situasie en plaas jou versoek in konteks. Maar as hulle nie lus is nie, moet dit nie teen hulle hou nie.
As jy meer oor Margaret se lewe wil leer, lees gerus haar blog vir rooi rose.
Hou ook vir Margaret dop op sosiale media. Volg haar op facebook en Instagram.