Margaret se Wêreld: Die operasie deur Margaret Gardiner. Hooffoto: Magnus Sundholm vir die HPFA.
Ek het die oggend van my operasie vyfuur wakker geword. Dit was nog donker buite. Ek het besluit om my verhaal met almal te deel ingeval dit iemand anders kan help.
Lees ook: Margaret se ope brief aan rooi rose-lesers oor die kankergewas op haar neus
Lees ook: Biopsies en New York
Ek was die afgelope week staal en humor en het my spanning probeer verlig. Ek het briewe aan verskeie groepe gestuur oor die kanker op my neus wat ‘n gat in die middel van my gesig gaan laat. Daar was twee dinge wat kon gebeur: óf ‘n flap oor my neus óf ‘n flap oor my voorkop. Daar was nie omdraaikans nie. Almal sou weet van die kanker. Ek het my boodskappe nagegaan. Daar was woorde van bemoediging van my vriende wat weet wat aangaan en van my niggie in Suid-Afrika. Sy het die tydsverskil uitgewerk sodat ek die boodskap sou kry as ek wakker word. Ek het dit soos ‘n spons opgeslurp. Ek het gestort en my hare gewas en gemaklike klere aangetrek wat nie aan my gesig sou raak as ek ná die operasie aantrek nie.
Ek het my seun gegroet. Dit was sy tweede week by die werk. Wat ‘n manier om jou werkslewe te begin. Ek en André het hospitaal toe gery. Hy was emosioneel en wou dit wegsteek, maar ek kon sien hy is ontsteld. Ek het die prosedure as buitepasiënt laat doen en hy het daarop aangedring om by my te wees. Ek wou presies by die dokters weet wat aangaan. Ek wou in beheer wees en het André laat belowe hy sou gaan en wag dat die dokters hom bel wanneer ek uitkom. Ek het saam dr. Jenny Kim ingegaan.
Dit was ‘n eenvoudige proses. Vreesaanjaend, maar eenvoudig. Hulle sou my neus verdoof en die vleis afskraap om seker te maak hulle verwyder al die kanker. Dan sal hulle die rande nagaan om seker te maak hulle het al die kanker verwyder. Indien nodig, sou hulle die proses herhaal. Ek was voorbereid op herhalings met tussenposes van 45 minute.
Ek het ‘n weerstand teen pynstillers en sy het seker gemaak ek voel niks. Sy het begin werk en ek was wakker. Hulle het ‘n stuk watte in die neusgat gedruk om dit stewig te maak. Ek kon die druk voel, maar nie die pyn nie.
Dr. Kim was optimisties en bemoedigend, maar ook realisties. Ek moes in die wagkamer op die uitslae gaan wag.
Dit was vinniger verby as wat ek verwag het. Dit klink maklik, maar ek was vreesbevange. Sowat 7 mm van my neus was weg. Hulle wou my man bel, maar ek het gedink ek moet weer ingaan teater toe en wou hom nie onnodig laat kom nie. Ek het gewag. Ander pasiënte het gekom en gegaan. Ek het navraag gedoen, maar daar is meer as een dokter en die toetse word op rotasiebasis gedoen. Elkeen het ’n beurt. My sus Bev het op WhatsApp met my gesels en dit was lekker om ondersteuning te hê. As ek gekla het dat dit te lank neem, het sy laat weet 45 minute is nog nie verby nie.
Dit het soos jare gevoel. Ek het ’n foto geneem om my susters tevrede te stel.
As ek nou daarna kyk, lyk dit of ek tien jaar ouer geword het. My dokter se spreekkamer het my gebel en daaraan herinner dat ek na ‘n ander vloer moet gaan sodat die wond toegewerk kan word, maar hulle het nie geweet of hulle al die kanker uitgesny het nie. Ek het hulle gevra of hulle weet of my dokter vir ‘n tweede toets gevra het.
Tylenol is vir die pyn voorgeskryf, maar ek was bang ek het iets sterkers nodig en het ‘n voorskrif gevra. Ek het tyd verwyl om apteek toe te stap. Terug by die dokter was die goeie nuus dat ek kon ingaan.
Ek kan nie die afwagting beskryf toe ek instap nie. Die nuus was goed – hulle het al die kanker verwyder. Ek was verlig en het begin lag, maar my oë was vol trane. Het dit beteken ‘n neusflap is nodig en nie ‘n voorkopflap nie? Ek het ‘n vorm gekry vir die opvolgprosedure en ek is terug na die operasie-afdeling.
Nog ‘n selfie terwyl ek vir die chirurg wag. Die kontras met die vorige een was groot. Die verligting het ‘n verskil gemaak. Ek het dr. Roostaeian, die chirurg, gevra of ek ‘n voorkopflap nodig het. Hy het die verbande verwyder en daar was ‘n 7 mm-sirkel op my neus. Geen voorkopflap nodig nie! Hy het belowe hy sal die chirurgie tot die neus probeer beperk. Hy het my gerus gestel dat hy die gat sal probeer toemaak met die minste visuele skade sigbaar.
Twee uur later was ek wakker en het my man my huis toe geneem. Ek was eufories. Ek wou nie gaan lê nie en het besluit om laaie reg te pak. Oeps. Nie ‘n goeie idee nie. Die afkyk het druk op die wond geplaas. Dit was seer en ek het in die bed gaan klim.
Die volgende dag was my gesig geswel en ongemaklik. My man moes tien dae Europa toe gaan en ek het gemeen dit is onnodig om dit af te stel. Wat sou hy by die huis doen? Sit en kyk hoe ek beter word? Die motor het hom twee-uur kom haal en ek het na my boodskappe op FB gekyk. So baie steun en baie het hul eie ervaring gedeel. Ek kon agterkom mense gee om en verstaan watter vrees ek die afgelope tien dae beleef het.
Die operasie was ‘n sukses en hulle het al die kanker verwyder. My gesig was steeds my gesig. Hoe die wond lyk, was nog onbekend, maar ek was gelukkig. Ek het selfies geneem en gedeel. Ek wou nie hê mense moet bekommerd wees nie.
Ek en my seun het Vrydagaand saam deurgebring en hy het voorgestel ons kyk na ‘n komediant om die spanning te verlig. Ek het lekker gelag, en ek weet nie of jy weet nie, maar as jy lag, lag jou neus saam. Ná ‘n lekker lagbui het ek gevoel hoe die verband loskom. Ek het gedink die lag het dit losgemaak, maar toe voel ek die bloed vloei. O nee, het ek so uitbundig gelag dat ek die steke losgelag het? ‘n Straaltjie bloed het uit die wond geloop en ek het druk daarop toegepas en gaan lê.
Met André weg, kon niemand my gerusstel nie maar ek het beste vriende wat ook dokters is. Ek het boodskappe gestuur. “Moet ek hospitaal toe gaan?” Vanweë die tydsverskil met Suid-Afrika was daar eers geen antwoord nie. Ek het my sus Bev gevra en sy het gevra wat ek aangevang het. “Gelag,” het ek geantwoord. “Het dit ophou bloei?” het sy gevra. “Ja.” “Dan sal dit oukei wees, maar bel jou chirurg.”
Die dokter wat vir hom instaan, het aanbeveel ek moenie te veel beweeg nie. Ek moet rus tot en met my volgende afspraak oor ‘n week. As dit weer bloei, moet ek bel. Teen dié tyd het my vriend in Vegas ook die boodskap gekry. Al die dokters was dit eens. Wees rustig.
Maar die bloed het my ontstel. Sê nou die vel het geskeur? Ek kon my voorstel hoe die netjiese stekies van die plastiese chirurg geskeur is. Maar ek het die boodskap gekry: Wees rustig.
Die dag voor die verbande verwyder is, het dit van die wond begin wegtrek en ek kon na die wond loer. Ek was so opgewonde. Maar ek het ‘n swart bloedlyn oor my neus gesien en ‘n swart kring bloed waar die wond was. My maag het gedraai. Dit was aaklig. Ek het naar gevoel en dit gou weer toegemaak. Hoe was dit moontlik? Het die vel teruggetrek van die gat toe ek gelag het? Dit was lelik en opgeswel.
Dit was intiem, maar ek moes dit met iemand deel. Ek wou nie my man vertel nie. Hy was op ‘n sakereis op ‘n ander vasteland. Ek en hy het genoeg tyd tot ons oudag om na die letsel te kyk.
Ek wou nie wys hoe ‘n lafaard ek is nie. Ek het boodskappe aan my susters gestuur, maar dit was in die middel van die nag in Suid-Afrika. Ek kon hulle nie wakker maak nie, maar ek wou praat. Ek het ná die tyd my boodskappe gelees en dit was so pateties. Ek het myself kwalik geneem. Maar wat kon ek doen? Hulle almal vertel ek is bang? Ek het dit reeds voor die operasie aan Sandy gesê. Moes ek hulle wakker maak en sê ek het na my wond gekyk en dit lyk aaklig? Ek het die boodskap gestuur. Ek het hulpeloos gevoel. Ek was teleurgesteld in myself en wou simpatie hê. Dit het nie goed gevoel nie. Ek het ‘n goeie huilsessie gehad. Dit was maar die derde keer in die hele proses. Ek het een keer gehuil toe ek my susters in New York gekontak het en het ‘n paar trane gehuil teenoor ‘n kollega in ‘n restaurant. Ek het probeer vasstel wat met my aangaan. Was ek selfgesentreerd?
Ek het hard met myself gepraat: “Margaret Gardiner! Jy is so ‘n gelukkige mens. Dit is net jou neus. Jou hele gesig is nie geskend nie, Hoe kan jy kla as jou voorkop of wang ook geskend kon wees? Hulle het al die kanker verwyder. Hoe gelukkig. Jy is ydel en selfgesentreerd.” My seun sou binnekort by die huis wees. Ek het myself reggeruk en ‘n boodskap aan my susters gestuur. Hulle moet maak of ek nie al my vrese met hulle gedeel het nie. Ek stuur glimlaggies. Ek het gewonder of hulle my glo, maar dit is oukei as hulle nie my glimlaggies glo nie. In werklikheid was ek ‘n bewende gemors. Ek het my ma nodig gehad. Sy was die een mens met wie ek eerlik kon wees. Dit maak nie saak hoeveel keer ek vir haar gesê het ek is oukei nie, sy sou bel en vra of als reg is. Ons kon praat en dan het ek veilig gevoel. Ek het gevoel ek het nie die reg om so te voel nie. My wond was die beste uitkoms en ek was selfgesentreerd. Hulle het al die kanker uitgehaal en dit was net my neus. Hoera! Net glimlaggies en dankbaarheid!
Bev het verkoue gekry nadat sy twee siek babas versorg het terwyl haar dogter met vakansie was en Sandy het Bev, haar kleinkind en ‘n pasgeborene versorg. Die tydsverkil het beteken dit is moeilik om hulle in die hande te kry en hulle was besig met die lewe, hul gesinne, siekte en kleinkinders. Ek kon nie met Bev praat sedert ek gehoor het ek het kanker nie. Hulle het tonne boodskappe gestuur en op die hoogte gebly van die mediese prosedure. Ek wou nie hê hulle moet hulle nog oor my ook bekommer nie. Ek het hulle aanhoudend verseker dat ek oukei is. Toe ek gehoor het ek het kanker, het ek hulle gevra om my tyd en ruimte te gee om dit te verwerk tot ek weet wat aangaan. Ek was in ‘n fase van inligting bymekaarmaak. Ek was in ‘n oorlogsone. Ek moes myself bewapen en myself dapper maak. Ek wou nie hê mense moet my kwetsbaarheid sien nie. Ek huil. Ek val uitmekaaruit.
Ek moes dit wat gebeur, hanteer en steeds my pligte nakom.
Ek het toe nog nie besluit om dit bekend te maak nie en ek moes eers inligting oor die gevolge kry. Ek het drie dae gehad om die nuus te verwerk, met dokters te praat, gereed te maak vir die operasie en my huis gereed te maak voor ek New York toe kon vlieg vir die onderhoud met Blake Lively en ander op video. Daar moes ek in ‘n vertrek vol vreemdelinge herhaaldelik vertel dat ek ‘n wond op my neus het en dat hulle nie daarop moet inzoem nie. Ek moes ekstra tyd aan my grimering bestee om die letsel te bedek.
Ek is terug LA toe, het besef dit is my verjaarsdag en moes die nuus oor die kanker deel met vriende wat nog nie geweet het nie. Ek moes stories skryf, video’s edit en voorberei om die nuus aan my kollegas en die wêreld te deel. Ek was ook besig om ‘n reis na Suid-Afrika te beplan en die reisagent het my op datum gehou. Hierdie dinge het oor my lewe gespoel terwyl ek seker gemaak het my seun raak nie ontsteld nie.
Twee dae later, die operasie, die neusbloei, die onderhoude met die pers. Ek kon nie my hare was nie en ek moes vrae beantwoord aan mense oor my operasie. Ek het nie lus gevoel om dit te doen nie.
Ek wou die skoonheid sien, oor alles lag, maar die werklikheid het my daaraan herinner, “Dit het met jou gebeur. Jy sê jy gaan oukei wees, maar ons kan jou neus sien. Jy het probeer om daardeur te seil, maar daar is ‘n tsoenami aan die opbou binne jou.” Ek het almal verseker ek is oukei. Ek het my spertye gemaak. Ek het probeer om my familie nie te laat raak nie.
Maar toe laat my emosies my in die steek. Ek het dit verwerk, maar ek kon nie langer voordoen nie. Ek wou dit hanteer. Die voltooiing van hierdie avontuur was op pad. Die deksel wat ek op my emosies geplaas het, het gekraak en het soos ‘n vulkaan ontplof.
Ek het sedert New York probeer om my emosies in toom te hou. Ek het met my susters daaroor gepraat, maar elke keer weer die lug probeer blou verf. Maar dit het al hoe moeiliker geraak om die emosies te beheer.
My liggaam het my stadig begin waarsku om die vrees te probeer verwerk. My kop was deurmekaar. Ek kon nie helder dink nie. Ek het dinge gelees en dit verkeerd verstaan. Ek het langer geneem om artikels te skryf.
Ek het op verkeerde verdiepings uit die hysbak geklim, ek het kruideniersware gaan koop en goed gekoop wat ek nie nodig het nie. Ek het goed vergeet wat ek nodig het. Ek kon nie TV-werk aanvaar nie, want ek het nie geweet hoe ek op kamera gaan lyk nie.
Dit was voor Toronto waar ek twee tot drie flieks per dag moes sien en ateljees kon nie verstaan hoekom ek skielik nie beskikbaar is nie. Ek het telefoononderhoude vergeet. ‘n Ateljee het gebel vir ‘n onderhoud met ‘n ster wat ek weke tevore gereël het en ek het daarvan vergeet. Kliënte het gevra oor spertye vir opkomende stories. Dior het my na die modeweek in Parys genooi. Ek wou regtig gaan, maar hoe daag jy op by so ‘n geleentheid met ‘n onbekende faktor op jou gesig? Suid-Afrika het my genooi na ‘n Mej. SA-geleentheid en hulle wou foto’s hê. Ek wou nie na foto’s kyk waarin my loopbaan gevier word op grond van hoe my gesig lyk nie.
My seun het sy eerste week by sy nuwe werk gehad en ek wou hom so rustig moontlik hou.
Die geluk was aan my kant met die grootte van die kanker, maar dit was steeds ‘n skok vir my gestel. Ek was so besig om almal te verseker ek is oukei, ek het nie kans gekry om die emosies, vrees en stres te verwerk nie. Ek het dit nie uitgepraat nie.
In daardie oomblik het alles oopgebars. Oor my lag en die versekering dat ek oukei is. Ek kon nie my susters in die middel van die nag wakker maak nie. Hoe kon ek op hulle skouers huil? Hulle het hulle hande vol gehad. Ek het reeds ‘n vorige keer begin huil toe ek Sandy se stem gehoor het. Sandy is op haar eie reis en navigeer haar eie lewe. ‘n Mens kan net op een ding op ‘n slag konsentreer. Ons is altyd daar vir mekaar. Dis hoekom susters daar is, maar hulle het ‘n paar berge van hul eie gehad en het nie nog ‘n probleem nodig gehad nie. Ek kon nie my emosies per WhatsApp stuur nie en dit wat ek gestuur het, het deurmekaar uitgekom want my brein was deurmekaar. Alles was effe wolkerig nieteenstaande my goeie bedoelinge.
Alles het lank geneem om te voltooi. Ek het die bal laat val. Ek het ‘n diep asemteug geneem, my trane afgedroog en agtergekom ek kan my neus blaas!
Ek het daar op die trappe gesit en besef ek kan lag. Dit was beter. Dit was die ek wat ek geken het. As dinge verkeerd gaan, moet ek humor kry. Ek was moeg om pateties te wees. Ek was so jonk toe ek uit die huis is en het ‘n wapenrusting om my gebou as ek bang was. As 16-jarige met my familie op ‘n ander vasteland en niemand om mee te praat nie moes ek op myself staatmaak. Toe ek die geleentheid gekry het om in Parys modelleerwerk te doen het ek na ‘n land getrek waar niemand my verstaan nie en ek niemand geken het nie. Ek het nie die bedryf geken nie en was heeltemal alleen. As daar ‘n probleem was, het jy die oplossing gesoek vir die gevegte wat jy verloor het. Jy het oorleef. Ek het nie met my mense gepraat nie, want dit sou hulle bekommerd gemaak het. So as dinge vir my verkeerd loop, begrawe ek dit diep. Ek is nie gewoond om hulp te vra en om in nood te wees nie.
My ma was die enigste mens vir wie ek sulke dinge kon vertel en sy was weg. Ek het besef een van die redes hoekom ek so gesukkel het om haar dood te verwerk, is omdat sy die enigste mens was wat ek toegelaat het om my nood te sien.
Ek het haar nodig gehad om my te help om oor die verlies van haar te kom. Ek het haar emosionele steun nodig gehad en ek het dit diep in my gedra. Sy het deur veel erger gegaan as waardeur ek nou gaan en ek het haar nooit sien doen wat ek nou doen nie.
Nooit enige selfbejammering nie. Ek het besef sy is die enigste een vir wie ek emosionele steun gevra het. Vir die res is ek die een wat die emosionele steun gee. Ek hoef nooit dapper by haar te gewees het nie. Maar sy was weg. Die wêreld was anders. ‘n Bietjie kouer en ‘n bietjie werkliker. Ek het besef dat ek onbewustelik vir haar wag om te bel. Dit was tyd om sterker te word. Sy is twee jaar dood. Ek wou haar vertel hoe ek voel, maar sy kon nie bel nie.
Lees ook: Margaret Gardiner: ’n Ma soos myne
Môre kan nie vinnig genoeg kom nie. Ek was moeg om voor te gee. Hierdie was nie ‘n sprokie waar jy ‘n towerstaf kan waai en alles is weer reg nie. Daar is dit waarvoor ons wens en dit waarvoor ons nie wens nie. Jy kan jou verbeel daar is eenhorings, maar as jy aan hulle raak, besef jy hulle is nie werklik nie.
Ek het nog altyd op die beste gehoop en dit hanteer wat gebeur het. Ek gee nie op met die eerste probleem nie, ek pas aan en kyk die werklikheid in die oë.
Ek het my ma gemis en ek wou sien wat onder die verbande wegkruip. Ek wou dit aanvaar en voort beweeg. Ek het myself belowe ek gaan positiwiteit op facebook deel. Ek sal ‘n metaforiese net oor my kop trek en glimlag. Ek sal nie huil en ingee vir vrees nie. Die wêreld het gedraai. Ek sou vir ewig anders wees. Van buite en van binne.
Ek het die volgende dag self na die chirurg gery. Die vrou oorkant my in die wagkamer het ook verbande om haar neus gehad, maar hare was ‘n kosmetiese operasie. Ek het gedink aan die keuse om aan jou neus te laat werk. Ek was seker haar neus sou perfek wees. My chirurg het daaraan gewerk. Dit het my hoop gegee.
Ek het die chirurg gevra vir ‘n selfie om te deel. Hy het voorgestel ek wag tot die verbande af was. Hy het die wond skoongemaak. “Dit lyk goed,” het hy gesê. Ek het gevra of ek kan sien. Ek het myself voorberei op dit wat ek gesien het toe ek onder die verbande ingeloer het. Maar dit was wonderlik. Die bloedlyn moes gedroogde bloed gewees het wat uit my neusgat geloop het. Die lelike bloedkol was ou bloed wat droog geword het. Ek het ‘n pers letsel oor die brug van my neus en af op my neusgat gehad. Daar was ‘n effense duik waar hy die punt van my neus geneem het en gerek het om die gat toe te maak. Daar was ‘n effense bultjie waar die gat was. Die snit het die natuurlike skadu van my neus gevolg en die pers letsel sal maklik met grimering bedek kan word. Van voor af lyk dit soos ‘n skaduwee. Ek kan gewoond raak aan die klein hobbeltjie wat so groot is soos ‘n vingernael. Ek het later besef ek het ook ‘n hobbel aan die binnekant van my neusgat wat my asemhaling effens raak. Ja, ek was anders, maar ek was oukei.
Ek het ‘n week gehad om daaraan gewoond te raak voor ek Toronto toe vlieg. Daar moes ek tonne glansmense groet en na hulle skeppings uitvra.
Ek het eers die verband aangehou sodat my seun dit nie kon sien nie. Ek was skaam. Ná twee dae het ek die huis verlaat. Vier dae later het ek ‘n voorskou bygewoon saam kollegas en ek het die verband opgesit. Ek was nog nie gereed om dit vir vreemdes te wys nie. Ek was nog nie gereed om grimering op die wond te sit nie.
Ek het ‘n brief uitgestuur om my kollegas te vra om nie daaroor te praat nie, maar die ateljeepersoneel het nie daarvan geweet nie en ek moes weer en weer verduidelik wat gebeur het.
Ek het ook die kans gehad om my dokter te besoek oor my fietsry-ongeluk vyf weke tevore en gehoor my toon was gebreek. Ek het ook dieselfde dag na die ortopeed gegaan vir kortisooninspuitings vir my gewrig en elmboog wat ek in Februarie beseer het. (‘n Man het my aan die arm gegryp toe hy gegly en geval het).
Ek het gevoel of ek oral seer het, maar die goeie nuus is dit was net tydelik. André sou Vrydag terugkom. Dit was tien dae ná my operasie en drie weke nadat ek ontdek het ek het kanker. Ek was op pad na Toronto-rolprentfees en dit sou my eerste blootstelling aan mense wees sonder die verbande.
Ek was baie selfbewus. Om my selfvertroue te gee het ek ‘n borsspeld gedra wat my ma my gegee het van twee voëls wat vlieg. Hulle was met ‘n kettinkie verbind. Dit was metafories. Ek wou wegvlieg en ontsnap. Die kettings het my aan die werklikheid vasgehou. Dit het my sterk gemaak. My ma was die een met die ware krag. Ek het die hare oor die kant van my gesig laat hang. Dom van my. Genoeg. Jou neus is in die middel van jou gesig en jy kan dit nie met hare toemaak nie. Ek het bewerig aangegaan asof niks verkeerd is nie.
“Jy lyk pragtig,” het een van die sterre vir my gesê tydens ‘n fotosessie. “Ek het pas kanker uit my gesig laat sny,” het ek dit uitgeblaker. “Ja, is jy oukei?” Ek sal weer oukei wees,” het ek bewerig gesê. “Jy sal,” het hy gesê. En sy kop hartlik geskud. “En dit lyk oukei.” Ek het byna gehuil oor sy vriendelikheid. Ek kon die letsel op my neus sien. Ek kon die verskil op foto’s sien. Was hy net gaaf? Ek weet nie. Ek was moeg van ‘n fasade van glimlagte voorhou.
Ek is terug na my kamer. Het ‘n gesonde aandete geëet en gaan slaap. Daarna het ek my grimering versigtig gedoen. Dit is vreemd. As jy grimering aan jou neus aanwend, staar dit direk na jou. Dit kyk na jou as jy jou tande borsel, jou hande was en jou hare borsel. Dit staar onafwendbaar terug na jou.
Ek het versigtig gewerk en ‘n gebedjie opgesê oor hoe dankbaar ek is. Baie mense het my van hulle ervarings vertel en hulle het erge letsels opgedoen. Myne was daar. Ek sien dit elke keer as ek na my weerkaatsing kyk, maar ek kan dit toesmeer.
Die span het ‘n fantastiese werk gedoen. Ek is so dankbaar teenoor hulle. Ook aan die Suid-Afrikaners wat my ondersteun het en die beste toegewens het. Diegene wat hulle persoonlike reise gedeel het. Ek het ‘n rok aangetrek, ‘n groot ketting om my nek gehang om die ou kankerletsel te bedek en gegiggel. Kan ek nie ‘n mode begin met goue kettings wat oor die neus hang nie?
Ek het gelag, my handsak geneem en na die Four Seasons gegaan om onderhoude met rolprentsterre te doen. Asof die vorige vier weke nooit gebeur het nie.
As jy meer oor Margaret se lewe wil leer, lees gerus haar blog vir rooi rose.
Hou ook vir Margaret dop op sosiale media. Volg haar op facebook en Instagram.