Margaret se Wêreld: Die HFPA-gala deur Margaret Gardiner.
As moderedakteur van goldenglobes.com het ek ’n nuwe segment by ons toelaebanket gevoeg: ’n Ateljee agter die skerms waar ons die sterre kan afneem met beter beligting en ’n meer ontspanne atmosfeer as op die rooi tapyt.
Die HFPA (Hollywood Foreign Press Association) gee jaarliks miljoene aan toelae – $30 miljoen in 25 jaar. Ons hou ’n banket waaraan sterre deelneem. Vanjaar is ons eie Charlize Theron die hoogtepunt. Ander wat gaan deelneem, is Amber Heard, Jennifer Garner, Dakota Fanning en nuwelinge Laura Harrier en Joey King, om enkeles te noem.
Lees ook Margaret se onderhoud met John David Washington
Gelukkig is daar geen ongelukke nie. Die dag verloop goed tot ek begin aantrek. Wat moet ek aantrek? Ná my besering kon ek nie oefen nie. Dit is agt maande gelede en ek voel al hoe minder gemaklik in uitgaanklere.
Ek het ’n pragtige uitrusting wat ek wil aantrek, maar ek dink dit is ’n bietjie erg vir ’n geleentheid waar ek ander gemaklik wil laat voel. Ek is verveeld met my swart rokkie. Ek gebruik dit as ek reis, want jy kan dit mooi laat lyk met bykomstighede, maar daarna wil ek dit nie graag dra nie.
Ek blaai deur my klere en my oog val op ’n perskekleur Jenni Button-mini wat ek dertig jaar gelede laat maak het. Ek het baie van die rok gehou en het dit in 1991 of 1992 na ’n Mej. SA-reünie gedra. Femina het ook foto’s van my in die mini geneem. Ek het die rok ná my kankeroperasie gehou, maar dit nie weer gedra nie omdat my letsel te opsigtelik is daarin. Ek trek dit gou aan om te sien hoe dit lyk, want ek hou van die kleur. O, my aarde! Dit werk! Ek gryp stringe krale om om my nek te dra, en trek die nuwe skoene aan waarop ek verlief geraak het en impulsief gekoop het. Hulle werk ook. Ek trek my werksklere aan en ry na die Beverly Hills-hotel waar die geleentheid plaasvind.
’n Paar weke tevore het ons deur die tegniese aspekte gepraat en die agtergrond beplan wat ons vir die “ateljee” wil gebruik waar die sterre gefotografeer sal word. Die blomme is daar, maar dit is die verkeerde rusbank. Almal het geteken vir die een wat ek gekies het, maar dit is nie daar nie. Ek het die bank afgeneem en die foto per e-pos gestuur. Maar … Verkeerde bank. Daar is ’n volle banket wat voorberei word. Die media daag op. Die rooi tapyt word gelê. Die skemerkelk-gedeelte word opgestel. Dit is georganiseerde chaos. Daar is oral sekuriteit. H’m, met wie praat ek om die bankkwessie reg te stel?
Ek werk saam met ’n fotograaf van die HFPA. Hy stel die ligte op en ons berei die vertrek voor. Ons kan nie klaarmaak nie, want hy kan nie ’n bank belig wat nie daar is nie.
Ek is op die rooi tapyt. Tyd om pro-aktief te wees. Ek soek die ou wat veronderstel is om te help en hy sê hy sal dit doen, maar hy het dit ’n uur gelede ook gesê, en hy staan nog op presies dieselfde plek waar hy ’n probleem met die rooi tapyt probeer uitpluis. Ek bedank hom en stap na die balsaal. Dit is groot. Dit is waar ons die Golden Globes aanbied. ’n Weermag mense is aktief. Ek praat met die hotel en ek praat met die produksiemense. Almal weet daarvan en almal gaan optree. Maar ons het nie ’n bank nie. Die horlosie tik-tik. Ek hardloop nou in my nuwe skoene in die groot balsaal rond. Ek vra. Ek kan moderne toerusting gebruik, maar daar is niks soos ’n persoonlike kontak nie. Ek probeer onthou waar ek die bank twee weke gelede gesien het. Die groen kamer! Die kamer waar die sterre sit voor hulle op die verhoog gaan. Ek gaan in. Daar sit ouens op my bank en eet! Uhm? “Ek wil julle nou nie onderbreek nie, maar ek het my bank nodig. In my ateljee. Om die sterre op af te neem.”
“Sal daar ’n ander bank kom om hierdie een te vervang?” Sewe gesigte kyk afwagtend na my. H’m. Ek neem ’n besluit. “As dit is wat julle wil hê.” Hulle stem in. Gaaf. Ek het tot dusver met ses mense gepraat wat belowe het dat die bank daar sal wees, plus met hierdie groep, maar steeds is die bank nie op sy plek nie. Ek het met die voorbereiding van die Gloden Globes geleer dat as die hoofpersoon besig is om ander vure dood te slaan, moet jy die hoofwerker kry. Ek vra van die kelners en word beduie in die rigting van ’n Spaanse ou wat met tafels stoei. Ek stel myself voor, verduidelik die probleem en vra vir spesifieke aksie. Ek wag dat hy bevestig, of ek sal saam met hom stap tot dit gedoen is. Dit is 15 minute voor die vertoning. Ek bly by hom tot hy die regte departement bel wat meubels skuif. Hulle sal dit doen. Dié keer glo ek hulle en skarrel terug na ons ateljee. Ek bekyk die vertrek. Is daar nog iets verkeerd? Niks om te drink nie!
As die sterre arriveer, kan hulle senuweeagtig wees. Hulle gaan vir ’n uur deur die wêreld se pers ondervra word. Hulle moet die naam van die liefdadigheidsorganisasie onthou waarvoor hulle die geld ontvang. Hulle moet onder die warm ligte in pakke en hakke staan. Die punt is, dit is werk wat ’n mens dors maak. Water, drinkgoed, sjampanje is nodig om hulle aan die gang te hou. En terwyl die sterre arriveer … Het jy drankies bestel? Ja, ek het! Het jy bevestig? Ja. Waar is dit? Uhm … Ons het nog sewe minute. Ek weet met wie ek moet praat as ek dinge gedoen wil hê. Ek kry weer die Spaanse ou wat my so mooi gehelp het. “Meneer, die bank is nog nie daar nie en daar is niks om te drink nie!” “Wat het jy nodig en waar?” Ek babbel voort en hy verseker my dit gaan gedoen word en dat die bank op pad is.
Teen die tyd wat ek terug is by ons ateljee is daar ’n vrou wat glase by ’n tafel staan en skoonmaak. Vonkelwyn, ’n verskeidenheid drinkgoed. Ja! Ek gaan in die ateljee in. Uhm. Geen bank nie! Ek is op die punt om terug te haas na die groen kamer toe die deur oopvlieg ’n man met my bank op ’n waentjie. “Waar wil jy dit hê?” Ons stel die bank gou op. Toets die beligting. Ek eksperimenteer met posisies waarmee die sterre hulle op die bank kan drapeer sonder om hulle onderklere te vertoon (as die rok te kort is of as die borste uitpeul). Ek versprei my lyf op die bank met sekere aktrises in gedagte en probeer poseer soos dit hulle die beste sal pas. Pop! Daar vlieg die bandjie van my antieke rok!
Daar is nog net twee minute oor. Niemand sal my dilemma sien met al die megasterre in die vertrek nie. Ek bondel almal saam vir ’n groepfoto en die vrou van die promosiemaatskappy wat ons help sê, “Draai om”. Sy het ’n speld gekry en my bandjie vasgesteek. Sonder om gevra te word! Ek gee haar ’n drukkie en die eerste ster kom by die ateljee in. Glanstyd! Ek kyk rond. Alles is perfek.
Die plek raak besig. Jy wil respek toon. Jy moet aan elkeen sy kans gee, maar jy wil ook nie hê mense moet te lank wag nie. Jy het ’n mengsel van groot name en nuwe name. Met grasie laat jy almal spesiaal voel, maar vereer dié wat eerste daar was. Jy laat die oomblik vloei. Die grootste sterre kom altyd laat.
Charlize is daar. Lank, grasieus en sterk. Jy hoef haar nie in die regte rigting te stuur nie. Sy is hoflik en vaardig. Sy sê iets spesiaals vir my en ons lag ’n bietjie in Afrikaans. Dan is sy uit by die deur. Twee minute op die meeste. Almal ontspan. Kom, laat ons die werk klaarkry. Geen teken van Amber Heard nie. Dit is nie ongewoon dat sterre die pers-lyn oorslaan nie en ons neem aan dit is wat gebeur en skink vir ons nog ’n glasie vonkelwyn en drink op die sukses van die aand.
Dit is soos die dromme wat slaan by die begin van ’n groot okkasie. Daar is die promosiespan wat die sterre moet mikro-bestuur. Die vertoning is op lug. Amber is hier.
O gaats! Ons spring terug in aksie. Die videospan verstel hul posisies. Ek skarrel terug na die ateljee. Die fotograaf gryp sy kamera. Terwyl Amber ondervra word, kom haar publisiteitsbeampte ’n praatjie aanknoop. Sy sê al gaan die vertoning enige oomblik begin, sal sy vir ons poseer. Gawe vrou.
Sy sprankel in ’n Yves Saint Laurent-mikromini. Haar hare lyk of dit in goud gedoop is. Sy glinster. Haar rok is veelkeurige krale. Sy sprankel en blink. Net soos Charlize verkies sy om te staan. Ek weet dat met daardie rok en bene sal ’n sitposisie die oë laat draai.
Ons is gelukkig om haar te hê en die tyd is min, maar daardie bene! Ek vra: “Amber, sal jy omgee om vir ons te sit? Dit sal ’n pragtige skoot wees met die rok. Jy kan met jou bene na die kant sit en niks sal wys nie. Sy kyk af en verstaan dadelik wat ek bedoel. Sy gooi haar kop agteroor en lag “Terwyl die bene uit is vir die aand. Hoekom nie?” Sy laat val die lyn met perfeksie. Sy neem dit nie ernstig op nie, maar verstaan die visuele impak. Sy plop haar neer. Wel, dit is Amber Heard. Sy daal grasieus neer, kyk na die kamera. Betowering! En toe is sy uit by die deur. ’n Paar dae later kry ek ’n handgeskrewe nota van haar om my te bedank.
Die res van die nag verloop soos ’n geoliede masjien. $3,25 miljoen word weggegee. Broadway-ster en -sangsensasie Cynthia Erivo sing uit haar hart (loer op my Instagram). Charlize skop die aand af en ’n string sterre doen wat hulle die beste doen: Hulle verlig die vertrek en skep mooi oomblikke.
Die wat regtig voordeel kry, is die liefdadigheidsorganisasies wat minderbevoorregtes help om goeie opvoeding te kry. Ons help ook om ou flieks te restoureer wat verlore sal gaan en werk saam met Martin Scorsese om dit te doen.
Die aand is verby en van die sterre bly nog aan. Ons skep ’n impromptu post gala-viering en gee vir diegene kos wat nie die kans gekry het om te eet nie.
Weer eens kom middernag nader en ek is op pad na my kar.
Die lewe is vol avontuur. Ek koester elke oomblik. Meer as tevore. Die lewe kan my soms gooi met uitdagings en die enigste ding om in sulke tye te doen is om op te staan en die storm te pak. Dan kyk jy wat oorbly as dit verby is.
Volg gerus vir Margaret op facebook en Instagram.
Lees ook haar gereelde blog vir rooi rose, Margaret se Wêreld.